Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Max du Preez: Alles is nie wit en swart
Max du Preez

O,hoe wens ek dat die versugting van baie wit Suid-Afrikaners, veral die afgelope week, dat ons moet ophou oor ras praat en die toekoms saam omhels in my leeftyd haalbaar was.

Baie swart Suid-Afrikaners dink dalk dit is hemels om wit in Suid-Afrika te wees.

Materieel gesproke gaan dit seker beter met ons as met die meeste swart landgenote, maar die kruis wat ons dra, skaaf aan ons nekke.

Dit is nie net omdat ons voorsate uit Europa hier in Afrika aangekom en vir meer as drie eeue oorheers het nie; dit is ook omdat daar net agt mense uit elke honderd Suid-Afrikaners wit is – dus vyf of so uit 100 wat hulself as Afrikaners identifiseer.

Vyf uit 100.

Natuurlik is wit mense net mense; mense wat hul gesinne liefhet, mense wat droom, wat veilig wil voel, wat ’n plekkie onder die son wil verseker.

Net soos die ander 92 uit 100 Suid-Afrikaners.

Dit is nie ons wat vandag leef se toedoen dat ons met ons bleek velle hier in Afrika sit nie.

Maar ons kan ook nie maak of die geskiedenis nooit gebeur het nie.

Die onkunde, arrogansie en gewelddadigheid van ons voorsate teenoor die mense wat hulle van die 17de eeu af hier raakgeloop het.

Die selfsug om die land wit te verklaar met plek-plek kolle waar swart mense moes woon en politieke regte moes uitoefen; die wrede toepassing van apartheid sedert 1948 wat swart mense wou laat glo dat hulle inherent minderwaardig was.

En hier sit ons nou, 23 jaar nadat Nelson Mandela en FW de Klerk die Gordiaanse knoop losgemaak het.

En hier sit ons nou, 23 jaar nadat Nelson Mandela en FW de Klerk die Gordiaanse knoop losgemaak het.

Soos Dirk Hermann van Solidariteit gewys het toe hy laas week ’n brief oor die Anglo-Boereoorlog van 117 jaar gelede aan prins William geskryf het (skaars ’n dag nadat hy Jakarana FM se Tumi Morake aangeval het omdat sy onaangename herinneringe uit die verlede opgediep het), kan ons nie net die geskiedenis uitvee as ’n slegte nagmerrie wat verby is nie.

Almal van ons lewe met die nagevolge van die geskiedenis in en om ons elke dag.

Mag dié wat hulself as die politieke leiers van die vyf uit 100 aangestel het nou opstaan en met groot geld agter hulle hulself aggressief as wit Afrikaners laat geld en links en regs klappe uitdeel en boikotte reël omdat hulle nie meer dominant is nie?

Dié etniese mobiliseerders gaan dit vir my tienderjarige dogter baie moeiliker maak om oor 10, 20 jaar gelukkig en tevrede in Suid-Afrika te woon.

Die oudredakteur Tim du Plessis skryf gister in Rapport oor dié saak en stel dit as ’n morele ekwivalensie: Die Kallie Kriels en die Tumi Morake’s het albei ’n saak; hulle is “ewe omgekrap”.

Hy raai my en ander aan om nader aan AfriForum en Solidariteit te staan as ons hulle wil beïnvloed.

Seker soos wat die Naspers-koerante in die 1970’s en ’80’s met John Vorster en PW Botha gedoen het.

Ja, ou Tim, nou hoekom het jy en jou kollegas destyds so jag op die KP en HNP gemaak en hulle as vertraag en agterlik uitgebeeld?

En nou tree jy in die bresse vir hul geesteskinders wat empire bou deur met vrees en agterdog te smous?

Wit mense en Afrikaners moet met ’n groter historiese perspektief, sensitiwiteit, begrip en realisme ’n nuwe plek in die nuwe omgewing verbeel.

Die Boereboelies wat vroom sit en slimpraatjies maak as ’n rookskerm vir die meeste van hul ondersteuners wat kru rassisties optree, gaan ons, ons nageslag en ons taal nog duur te staan kom.

Meer oor:  Max Du Preez  |  Apartheid  |  Rasse  |  Politiek  |  Swart  |  Rassisme  |  Wit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.