Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Almal in SA moet kragte saamsnoer teen misdaad

Ons moet weer soos tien jaar gelede, toe die Potgieter-gesin vermoor is, kragte saamsnoer om teen die vlaag van gewelddadige misdaad te veg, skryf Dan Kriek.

’n Man betoog buite die hof op Hartswater teen plaasmoorde. Foto: Anena Burger

Die vlaag van afgryslike plaasmoorde oor die laaste klompie weke het my weer laat terugdink aan die Maandagoggend van 6 Desember 2010: Ek sit in die landdroshof van die klein Vrystaatse dorpie Lindley en wag vir die eerste hofverskyning van ses mans wat die Potgieter-gesin na bewering net ’n paar dae vroeër wreed op hul plaas naby die dorp vermoor het.

Attie Potgieter is sowat 150 keer met ’n tuinvurk, mes en panga gesteek. Sy vrou, Wilna, en hul tweejarige dogter, Wilmien, is met ’n panga aangeval en geskiet. Hulle is van kontant en besittings ter waarde van R20 000 beroof.

Daar is ’n onheilspellende stilte in die hofsaal terwyl ons wag vir die verrigtinge om te begin. Die gemoedstemming is gewigtig.

Ons almal probeer om nog ’n skokkende plaasmoord te verwerk. Maar dié een is anders as die ander waarmee ek tot dusver as visepresident van Vrystaat Landbou te doen gehad het. Die koelbloedige moord van die tweejarige Wilmien Potgieter het skokgolwe deur die land gestuur.

Ek sit langs twee plaaslike landbouleiers Llewellyn Angus en Dirk van Rensburg. Buite die hofsaal is ’n groot skare boere, omstanders en betogers van die hele politieke spektrum, insluitende die AWB.

Dr. Pieter Mulder, destyds adjunkminister van landbou en leier van die VF Plus, en Maki Mokoena, plaaslike voorsitter van die ANC se Vroueliga, is in die hof.

Woede

Die hofverskyning van die vyf verdagtes (die sesde is minderjarig) duur net ’n paar minute in wat ’n antiklimaks is ná die massiewe uitdrukking van woede en afgryse wat buite die hof posgevat het.

Dit het nou tyd geword om die boere buite toe te spreek. Maar wat sê ’n mens? Die woede van die gemeenskap ken geen grense nie wanneer moorde soos dié plaasvind en mense wil sien dat geregtigheid geskied, wil hulle hê dat hul pyn in die openbaar erken word en soek hulle die gerusstelling dat iets daaromtrent gedoen sal word.

As ek nou daaraan terugdink, kan ek die spanning en die emosie duidelik onthou, maar my presiese woorde op daardie dag ontgaan my.

Ek het probeer om die boere gerus te stel dat georganiseerde landbou geen steen onaangeroer sal laat om iets aan die vlaag plaasmoorde te doen nie en ek het almal gevra om kalm te bly.

Ek het die Vroueliga toe vir hul teenwoordigheid bedank. Dit was vir my van kritieke belang dat die hele gemeenskap die Potgieter-moorde veroordeel.

Ek het dit benadruk dat alle moorde veroordeel moet word, ongeag wie dit pleeg of wie die slagoffers is.

Ek glo ons moet gewelddadige misdaad met kollektiewe onverdraagsaamheid en sonder polarisasie begroet.

Dit was vir my baie moeilik om die skare boere toe te spreek en ek was deeglik bewus daarvan dat nie almal my mening oor die teenwoordigheid van die Vroueliga gedeel het nie.

Toe ek na my bakkie terugstap ná ’n emosioneel uitputtende dag, het ek eers gaan staan om Mokoena en die afvaardiging van bykans 20 lede van die Vroueliga te bedank vir hul steun en sterk openbare standpunt teen die moorde.

Ek het aan haar gesê ek dink die Vroueliga is die verpersoonliking van die moeders van ons nasie en dat hulle daarom ’n kritieke rol speel in die veroordeling van geweld teenoor vroue en kinders – en in dié geval die moord van ’n hele gesin.

Die Vroueliga het aangehou om die hofsittings in die Potgieter-saak by te woon en het die regter selfs versoek om nie borgtog toe te staan nie en die moordenaars van die Potgieter-gesin die maksimum tronkstraf op te lê.

Voor daardie eerste hofverskyning in 2010 het ek gewonder hoe om die openbare reaksie te hanteer wat hoofopskrifte gehaal het en die potensiaal gehad het om die samelewing langs rasselyne te polariseer.

Ek glo ons moet gewelddadige misdaad met kollektiewe onverdraagsaamheid en sonder polarisasie begroet.

Plaag

Dan Kriek

Ek het my lewenslange vriendin Sisi Ntombela, huidige premier van die Vrystaat wat destyds LUR vir sosiale ontwikkeling was, gebel.

Ek het haar gevra vir openbare steun teen die brutale Potgieter-moorde. Sy het onmiddellik die Vroueliga gemobiliseer om ’n openbare standpunt in te neem.

Ek het premier Ntombela die afgelope week gebel om weer oor die Potgieter-moorde te gesels.

Sy het benadruk waarom sy die gemeenskap van Lindley openlik gesteun het: “Plaasmoorde, of dit nou wit of swart is, is ’n plaag waarteen ons almal moet veg. Geweld ken geen kleur nie. As premier van die Vrystaat, wil ek hartstogtelik by die mense van die Vrystaat pleit om saam te staan in die veroordeling van dié plaag.”

En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.

Die Potgieter-moorde het gemoedere landwyd gaande gemaak. Kerke en geloofsorganisasies het in die weke ná die moord byeenkomste gehou om vir ’n oplossing vir geweld te bid.

Ek onthou een spesifieke Bybelvoorlesing tydens een van dié kerkdienste. Dit was uit Johannes 1:5: “En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.”

Het ons tien jaar later as ’n nasie enige vordering gemaak in ons hantering van die trauma wat gewelddadige misdaad in ons kollektiewe lewens ontketen?

Gewelddadige misdaad skeur ons gemeenskappe uitmekaar. Dit beïnvloed alle Suid-Afrikaners.

Snoer kragte saam

Ons sien gereeld mediaverklarings en openbare protesoptredes wat ons woede oor al die sinnelose geweld uitdruk.

Ek glo dat ons nie ’n einde aan die plaag sal maak totdat ons kragte saamsnoer en alle moorde veroordeel nie.

Alle moorde is ewe vernietigend en sinneloos. Ongelukkig het ons nog nie die punt bereik waar ons kan sê ’n besering aan een is ’n besering aan almal nie.

Die Potgieter-moorde is ’n strakke herinnering aan die vernietigende mag van gewelddadige misdaad in landelike Suid-Afrika.

Tot ’n groot mate begrawe ons steeds ons eie dooies.

Dis nodig dat die regering openlik wys hoe die bronne van die land gebruik sal word om ons almal teen wrede misdadigers veilig te hou.

Die Potgieter-moorde is ’n strakke herinnering aan die vernietigende mag van gewelddadige misdaad in landelike Suid-Afrika.

Maar as jy onder die oppervlak van 6 Desember 2010 by Lindley se landdroshof kyk, sal jy die werklike oplossing sien van hoe om ons trauma te hanteer.

“En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.”

* Dan Kriek is ’n veeboer van die noordoostelike Vrystaat. Hy is ’n voormalige president van Agri SA.

* Dié rubriek het oorspronklik op News24 verskyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.