Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Almal is nie ná 27 jaar vry nie
Willie Spies

Hy was van hierdie land. ’n Kind van hierdie bodem en ’n boorling van Afrika. Sy ouers, grootouers en dié se grootouers was van hierdie land.

Die bloed van sy voorouers was gesaai in die Suurveld van die Oos-Kaap, die heuwels van Transkei, die groen land van KwaZulu-Natal en die grasveld van die binneland.

Sy voorgangers se sweet, opoffering en toewyding aan die landstreek waarvoor hy so lief was, het die land help vorm en vorder tot waar dit was, maar die maghebbers van die tyd wou dit nie erken nie.

Hy is gesien as en behandel soos ’n tweedeklasburger, ongeag sy kwalifikasies, sy bydrae, sy trotse geskiedenis en sy afkoms, wat vervleg was met die wel en wee van die land en sy mense.

Die maghebbers het mense verskillend behandel – volgens die kleur van hul vel.

Hulle het die onderskeid op grond van velkleur regverdig op sterkte van die eeu van onreg wat verby is.

Hierdie onreg wat gepleeg is, het ’n doel gehad en daardie doel het alle middele­ geheilig.

Dit was vir die maghebbers belangrik om hul eie te beskerm en te bemagtig en te ontwikkel. Maar dit wat vir hóm belangrik was, is deur die maghebbers as van mindere belang beskou – as iets wat tot die verlede behoort en iets verwerplik waarvan ontslae geraak moes word.

Die maghebbers het vir die onderskeid op grond van velkleur ’n naam gegee. ’n Ideologie wat die norm sou raak wat alles sou oortref.

Die maghebbers was so dronk van magswellus dat hulle hulle daardie besluit toegeëien het. En hulle het dit weer regverdig aan die hand van die eeu van onreg wat verby is en reggestel moes word.

Elke beleidsbesluit, elke staatsdepartement, die regbank, elke maatskappy, elke skool, elke dorp, elke munisipaliteit en selfs elke sportadministrasie moes die ideologie hul eie maak en as hulle dit nie kon of wou doen nie, is hulle tot vyand van die staat verklaar en selfs vervolg op welke wyse ook al.

Hy kon nie leiers vir die land aanwys nie.

Ja, hy kon stem, maar sy stem is verwater in ’n stelsel waarin die maghebbers verseker het dat hul stem altyd die oorhand het en hulle altyd die laaste sê sou hê.

Die maghebbers was oordrewe en byna­ obsessief besorg oor hulself; hul eie wel en wee. Hul eie finansiële welvaart en die onderwys van hul kinders in die beste moontlike skole, maar hy moes tevrede wees om self te sorg vir die onderwys van sy kinders.

Die maghebbers het besluit dat hy nie eens mag besluit oor die taal van sy kinders se onderrig nie.

Die maghebbers was so dronk van magswellus dat hulle hulle daardie besluit toegeëien het. En hulle het dit weer regverdig aan die hand van die eeu van onreg wat verby is en reggestel moes word.

Wanneer die maghebbers die slagoffer van so min as ’n skewe woord deur een van hul mense sou wees, sou daar met mening opgetree word.

Die volle mag van die staatsmasjinerie sou gebruik word om die onreg reg te stel, oortreders te vervolg en selfs in die tronk te gooi. Maar wanneer hy gekla het oor misdade, marteling en moorde wat teen sy mense gepleeg word, is hy óf stilgemaak óf sommer net geïgnoreer.

Vandeesweek is dit 27 jaar sedert Nelson Mandela ingehuldig is as president en maghebber van Suid-Afrika nadat hy 27 jaar in gevangenskap was weens sy stryd teen die ideologie van apartheid.

Die Afrikaner is reeds 27 jaar die gevangene van die ideologie van transformasie.

Vryheid was nie vryheid vir almal nie, maar wel gevangenskap vir sekeres.

  • Spies is ’n prokureur van Hurter Spies Ing. en voorsitter van Pretoria FM.
Meer oor:  Willie Spies  |  Rassisme  |  Wit  |  Apartheid  |  Swart  |  Vryheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.