A

Foto: istock
ardverwarming is ’n werklikheid en dit hou ernstige implikasies in vir die aarde en alles daarop se voortbestaan.
Só lui die verslag wat ’n paar dae gelede deur die Verenigde Nasies (VN) se interregeringspaneel oor klimaatsverandering (IPCC) uitgereik is.
Die verslag skets ’n uiters kommerwekkende prentjie oor die stand van ons omgewing en die impak van menslike bedrywighede op ons natuurlike hulpbronne.
Rooi ligte flikker vanweë die onvolhoubare en onverantwoordelike benutting van natuurlike hulpbronne soos grond en water.
Die verslag, wat deur 107 toonaangewende wetenskaplikes uit 52 lande saamgestel is en op 7 000 eweknie-geëvalueerde referate gegrond is, vra vir ingrypende stappe om die risiko’s wat met klimaatsverandering, stygende temperature, verwoestyning, besoedeling, oorbenutting van natuurlike hulpbronne en vernietiging van natuurlike plantegroei gepaardgaan, te temper.
Kom ons kyk liefs wat ons kan doen om ’n beter toekoms vir ons nageslagte te help verseker.
Dit is daarom in alle gemeenskappe en sake- en regeringsektore se belang om kennis te neem van die aanbevelings en om daadwerklik op te tree om die aarde en alles wat daarop voorkom se voortbestaan te beskerm. Om die blaam te verskuif óf om die verslag te diskrediteer, dien geen doel nie.
Kom ons kyk liefs wat ons kan doen om ’n beter toekoms vir ons nageslagte te help verseker.
Heelwat stappe is reeds gedoen om ’n inploffing van ons natuurlike hulpbronne te voorkom.
’n Horde verdrae, multilaterale ooreenkomste, wette en internasionale aksies getuig daarvan.
Van die belangrikste is die Kioto-verdrag wat lande daartoe verbind om hul vrystelling van kweekhuisgasse te verminder.
Daar rus egter ’n verpligting op ons om vir die beskerming van ons eie natuurlike hulpbronne verantwoordelikheid te neem.
Die verdrag oor die bekamping van verwoestyning wat in 1994 deur die VN aanvaar is, is ook sedert 1997 op Suid-Afrika van toepassing.
Ons ervaar ernstige droogtes wat verwoestyning teweegbring en dié verdrag plaas ’n verpligting op ons om ons grond en plantegroei te beskerm.
Die redes hiervoor is voor die hand liggend.
Volgens die IPCC-verslag is grond die belangrikste basis vir die voortbestaan en welstand van die mensdom en plant- en dierspesies. Ons benut dit onder meer vir behuising, voedselproduksie en die oprigting van infrastruktuur.

Christo van der Rheede
Netwerk24
Grond huisves riviere, damme, ekostelsels en is die natuurlike habitat vir plante en diere.
Grond vervul ’n kritieke rol as bron, verwerker en bewaarder van energie, water en kweekhuisgasse tussen die aardoppervlak en die atmosfeer, en speel ’n belangrike rol in die klimaatstelsel.
Dis nie net sand en klippe wat misbruik kan word nie. Nog minder is dit ’n onuitputbare bron. Dit moet net soos water gekoester, bewaar en volhoubaar bestuur word.
Daar rus dus ’n groot verantwoordelikheid op ons om mekaar oor die belangrikheid van grondbewaring en die bewaring van natuurlike ekosisteme op te voed.
Bevolkingsgroei wêreldwyd bring mee dat meer en meer grond benut word vir grootskaalse produksie van voedsel, voer, vesel, hout en energie.
Op alle vlakke van ons samelewing sal ’n groter bewustheid geskep moet word oor die bewaring van die aarde se hulpbronne.
In dié verband het die landbousektor ’n kritieke rol om te vervul – om die aanbevelings ernstig op te neem en werk daarvan te maak!
Dit geld ook elke aardbewoner, wat die aarde en alles wat dit bied moet waardeer en respekteer. Wat ons nou saai, gaan ons beslis vorentoe maai!
- Van der Rheede is adjunk- uitvoerende direkteur van Agri SA.