Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Álmal se bydrae die sleutel tot transformasie

Transformasie is die moeisame én opwindende reis van individue en instellings, geloofsgroeperinge en gemeenskappe, kampusse en samelewings.

Dis ’n voortdurende reis van verontmensli­king tot menswaardigheid; divers en apart tot divers en saam; rassisme tot nierassigheid; seksisme tot gendergeregtigheid; klassisme tot gelykwaardigheid; homofobie tot die omarming van seksuele oriëntasies; vervreemding en vyandskap tot omarming en vriendskap.

Die transformasiepad benodig deernisvolle mense wat waak teen sowel oorsensitiwiteit as onsensitiwiteit.

Oorsensitiwiteit bring mee dat ons die verkeerde sien waar dit nie (meer) is nie, en dat ons blind is vir die brose bekeringservaringe en onvolmaakte herstelpogings van vorige vervreemdes.

Onsensitiwiteit veroorsaak dat ons ander se pyn en wonde weens historiese onregte geringskat, en hulle selfs as haatdraend en onvergewensgesind voorstel. Transformasie vra vir ruim harte wat plek maak vir ’n verskeidenheid sieninge, selfs botsende gesigspunte.

Transformasie-agente verseker dat niemand uitgesluit word uit die transformasiegesprekke nie.

Transformasie-agente verseker dat niemand uitgesluit word uit die transformasiegesprekke nie. Niemand word mond-dood gemaak nie. In die soeke na gendergeregtigheid word die stemme en deelname van mans verwelkom.

Trouens, mans en vroue vorm vennootskappe, en vroue spreek selfs die wens uit dat mans op gepaste wyse soms die leiding neem in die soeke na gendergeregtigheid.

Net so verwelkom swart mense dit as wit mense soms op gepaste wyse die leiding neem in die stryd teen rassisme. Dit geld alle mense wat onder ander vorme van diskriminasie ly. Die edel doelwitte van transformasie word verraai wanneer sekere groeperinge, ook bevoordeelde groepe, uitgesluit word van bydraes.

Op die transformasiepad is daar nie plek vir mense wat glo hulle beklee die morele gesagsposisie nie. Ons skiet almal tekort.

Sommige is byvoorbeeld kru rassisties. Ander weer is verskuild en selfs onderbewustelik rassisties. Hierdie verskuilde rassisme en ander vorme van onderbewustelike voorveronderstellinge, vooroordele en voorkeure vorm die hart van instellings se sogenaamde institusionele kultuur.

Transformasie beteken ook dat hierdie kulture verander word deur prosesse van bewusmaking, die afleer van die oue en aanleer van die nuwe.

Godsdienstige en nie-godsdienstige tradisies leer ons dat instellings kan verander. Die vernuwingswerk waarvan die Christelike evangelie getuig, sluit alle sosiale strukture in. Ook individue kan verander.

Volgens die Duitse feministiese teoloog Dorothee Sölle moet ons nie gevlei voel nie, maar eerder bekommerd wees as mense sê: “Haai, jy het rêrig nog niks verander nie.”

  • Prof. Koopman is ’n teoloog en viserektor van die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Nico Koopman  |  Politiek  |  Transformasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.