Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Almal se lewe het ’n Jonah Lomu-oomblik

Dit is ’n ikoniese foto.

James Small wat Jonah Lomu probeer grond toe smeer in die Wêreldbeker-eindstryd in 1995.

Charles Smith

Die inspanning is op albei gesigte te sien. Small byt op sy tande; Lomu se wange staan bol terwyl hy die Bokke se vleuel, wat soos ’n leeu op hom afpyl, van sy lyf probeer afweer met ’n uitgestrekte arm. Dit is vir my simbolies van dié wonderlike, pynlike, magiese waas genaamd lewe waarin ons dryf.

Op daardie oomblik, iewers in ’n geveg van twee uur tussen twee lande, tussen twee supertaai spelers, is dit ál wat saak gemaak het.

Wie wen dié klein allerbelangrike geveg in daardie sekonde of twee. Nou, 24 jaar later, maak dit steeds saak vir miljoene mense.

As Lomu, een van die mees gevreesde rugbyspelers tot nog toe, deur een of twee klein gapings gebeur het, was die All Blacks van Sean Fitzpatrick die wenners van die Wêreldbeker in 1995. Maar die verbete verdediging van Small, Japie Mulder, Joost van der Westhuizen en Ruben Kruger het ons dié dag laat wen – natuurlik saam met Joel Stransky se bekende skepdoel.

Hierdie oomblik het die jong demokrasie so nodig gehad. Swart en wit het mekaar in klubs en huise omhels. Oudpres. Nelson Mandela, wat voor die wedstryd met ’n nommer 6 op sy Springbok-trui se rug die spelers gaan groet het, het dit alles saam met miljoene burgers ingedrink.

Klou vas. Byt vas, bly droom. Bly glo en lewe met ’n doel.

Ek onthou hoe ons gebrul het as Mulder of Small of Van der Westhuizen die reus Lomu, wat so oor die Engelse gehardloop het, met Ellispark se gras gelykgemaak het.

Jy kan ’n duisend stories in dié een foto lees; of vertel. Of onthou.

Vandag is vyf van die spelers hierbo nie meer met ons nie.

Die dood van Small op 50 aan ’n hartaanval het ons teruggeruk na die grootste oomblik in Suid-Afrikaanse sport. En een van agtereenvolgende groot oomblikke naas oudpres. FW de Klerk se 2 Februarie-toespraak, Mandela se vrylating en die 1994-verkiesing.

Lomu is op 40 dood ná ’n stryd teen ’n niersiekte. Kruger is dood weens ’n breingewas. Min sportsterre se lyding en dood het ons getref soos Van der Westhuizen s’n. En by Mandela se dood het die reënboog uit ons nasie verdwyn.

Small was die bad boy van die Bokke. Dit was bekend dat hy in ’n stadium met dwelms deurmekaar was en as rugbyspeler gerook het. Vandag is dit seker taboe, want jy moet selfs veel fikser wees as die Bokke van ’95.

Maar dit maak nie saak nie. Elke nou en dan tref die lewe jou soos ’n Jonah Lomu. Jy het ’n keuse of jy onder hom gaan inseil of net gaan oorgee. Small het nooit oorgegee nie.

  • Dit is een les wat ons uit dié foto kry. Klou vas. Byt vas, bly droom. Bly glo en lewe met ’n doel. In jou lewe is daar ook ’n ’95-oomblik om te bereik.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.