Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Als nie pluis op die Vlakte

My eerste onderwyspos was in Elsiesrivier. Op die Kaapse Vlakte. Jaar ná jaar was dit ’n voorreg om pragtige jong mense wat in moeilike omstandighede opgegroei het, met kennis, vaardighede en waardes te bemagtig. Skoolhou was ’n plesier.

Onderrig het met ’n horde buitemuurse aktiwiteite gepaardgegaan. Deur gehalte-onderwys en maksimum blootstelling aan ’n groter wêreld en al die geleenthede wat dit bied, het baie jong mense daarin geslaag om hulself te bevry uit die strik van armoede, gedwonge verskuiwings en apartheidswetgewing wat hul potensiaal op allerlei wyses aan bande gelê het.

Kinders speel buite ’n woonstelblok in Manenberg op die Kaapse Vlakte.Foto: getty

Saam met my kollegas het ons skolesport bedryf. Ander verantwoordelikhede het die jaarlikse konsert, operettes en talle ekskursies na museums, die Koeberg-kragsentrale en ander besienswaardighede ingesluit.

Soms moes ons om ’n spesiale permit aansoek doen, want wetgewing het mense van “kleur” toegang tot sekere instellings verbied. Dit het ons egter nie verhoed om ons jong mense blootstelling aan opera, ballet, simfoniemusiek en drama-uitvoerings te gee nie.

Baie oudleerlinge maak ná baie jare weer kontak deur sosiale media. Hulle het hulself as lugwaardinne, joernaliste, ingenieurs, akademici, dokters, prokureurs, rekenmeesters, predikante en in vele ander rigtings bekwaam. Vandag werk hulle hier en in die buiteland.

Van hulle het die pad byster geraak en by dwelms, bendes en ander kriminele aktiwiteite betrokke geraak. Hulle was die uitsondering op die reël. Saam met hul ouers, maatskaplike werkers, die polisie en korrektiewe dienste is ingegryp om hulle te rehabiliteer.

Is daar ’n doelbewuste en meedoënlose poging om die vooruitgang van gemeenskappe op die Kaapse Vlakte te onder-myn? Wie en wat dryf hierdie agenda en wat word daardeur bereik?

Vandag sit ons egter met ’n groot probleem op die Kaapse Vlakte. Bendes en dwelms saai verwoesting. Geweld het die afgelope ses maande meer as 2 000 lewens geëis. Verarmde en gemarginaliseerde gemeenskappe wat ná 1994 hul hoop op ’n beter toekoms geplaas het, leef nou in vrees.

Van die beloftes van gelyke geleenthede en ’n veilige en voorspoedige bestaan het dadels gekom.

Inteendeel, ons sit nou met ’n pandemie wat nou gekoppel is aan armoede, marginalisering, isolasie, werkloosheid en magteloosheid. Gebiede wat soveel talentvolle mense opgelewer het, is nou hoërisikogebiede waar selfs die polisie vir hul lewe vrees. Dwelm- en onwettige wapenhandel en allerlei ander bendebedrywighede vier hoogty en vererger jaar ná jaar.

’n Mens kan tereg die vraag vra of hier ’n doelbewuste en meedoënlose poging is om die vooruitgang van gemeenskappe op die Kaapse Vlakte te ondermyn? Wie en wat dryf hierdie agenda en wat word daardeur bereik?

In Junie 2016 is kol. Christiaan Prinsloo tronkstraf opgelê vir die verkoop van 2 400 vuurwapens wat vernietig moes word aan bendes in die Kaap. Dwelmsmokkelaars verkoop voorts hul dwelms sonder vrees vir vervolging.

Christo van der Rheede

Dan is daar konflik in die Wes-Kaapse polisieleierskorps wat getaak is om bendegeweld en misdaad op die Vlakte uit te roei. Pleks van die bendes takel, is hulle eerder in ’n magstryd gewikkel.

Ons sit hier dus met ’n toksiese mengsel van kriminaliteit, maatskaplike verval, samespanning en politieke vuilspel in eie geledere wat die sosio-ekonomiese kwesbaarheid van gemeenskappe vir eie gewin uitbuit. Hoe nou?

Met gehalte-onderwys en visioenêre leierskap op die Kaapse Vlakte het ons destyds daarin geslaag om ’n eksterne sisteem wat daarop afgestem was om mense se menswaardigheid en potensiaal op grond van hul velkleur te ondermyn, suksesvol te beveg.

Watter kans staan dié gemeenskappe op vooruitgang as hulle vanuit eie geledere onder beleg is?

  • Van der Rheede is uitvoerende adjunkdirekteur van Agri SA.
Meer oor:  Kaapse Vlakte  |  Probleem  |  Dwelms  |  Onderwys  |  Bendes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.