Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Alsiende oog lei tot selfsensuur
Alida Kok

Op ’n plek is daar ’n tronkgebou in die vorm van ’n sirkel. Die sirkelvormige tronk het ’n paar verdiepings en in die middel van die gebou is daar ’n oop binnehof.

In hierdie binnehof staan ’n dreigende observasietoring waarin ’n wag aan diens is. Die toring het groot eenrigtingvensters waardeur die wag ’n 360 º-blik op die tronk se verdiepings om hom het.

Op elke verdieping van die gebou is tronkselle. Elke sel grens aan die buitemuur van die sirkelvormige tronk, maar word aan die binnekant van die gebou met ’n traliehek gesluit. Die binnekant van die selle en die insittendes is dus te alle tye sigbaar van die observasietoring af, terwyl gevangenes mekaar nie kan sien nie – hulle kan net die observasietoring vanuit hul selle sien.

Omdat die gevangenes slegs die toring en eenrigtingvensters daarvan kan sien en nooit die wag aan die ander kant van die toring se vensters nie, is hulle nooit seker presies wanneer hulle dopgehou word nie.

Gevolglik pas hulle hul gedrag aan asof hulle heeltyd dopgehou word om sodoende seker te maak hulle word nie deur die tronkowerhede gestraf nie.

Op hierdie manier begin hulle ’n sekere selfregulering of selfsensuur toepas wat die tronkowerhede verlang, sonder dat ’n wag in die observasietoring hoef te wees.

Dit is ’n weergawe van die panoptikon-metafoor.

Waarneming deur ’n magtige oog wat allesomvattend kan sien, is nie ’n nuwe verskynsel in Suid-Afrika nie.

Die konsep verwys na iets wat allesomvattend kan sien – soos die alomteenwoordige oog van die observasietoring in die middel van die tronkgebou.

Die uitleg van die panoptikon is in die laat 18de eeu deur die Engelse filosoof Jeremy Bentham bestudeer.

In die 1970’s het die Franse filosoof Michel Foucalt die idee van die panoptikon uitgebrei deur dit te gebruik as ’n metafoor vir mag in sy studie van Westerse strafstelsels en gevangenisse.

Hoewel die panoptikon oorspronklik gebruik word in die bespreking van ’n tronk se uitleg, kan dit ook in ander kontekste gebruik word om selfsensuur en die vrees vir die moontlike straf van ’n magtige owerheid te verduidelik.

Die panoptikon-metafoor is veral nou weer van toepassing in ons begrip van ons samelewing.

Nou is ons in ’n tyd waar mense selfsensuur moet toepas sodat hulle nie die gevreesde etiket van “rassis” en die gepaardgaande straf kry nie.

Waarneming deur ’n magtige oog wat allesomvattend kan sien, is nie ’n nuwe verskynsel in Suid-Afrika nie. In die tyd van die NP-regering het die staat se veiligheidsdienste as ’n panoptikon gedien: Andersdenkendes het in vrees geleef dat hulle deur agente van die staat dopgehou word.

Op dié wyse het die dreigende observasietoring van die staat se veiligheidsdienste deur die oë van agente na gevangenes in tronkselle gekyk – of die illusie geskep dat hulle die gevangenes dophou.

Daar word vertel dat veiligheidsdienste in die ondervraging van verdagtes dikwels ’n lêer oor die doen en late van die verdagte kon oopslaan en die verdagte kon verbaas met oorvertellings van persoonlike oomblikke en gebeurtenisse.

Dit het die vrees vir die veiligheidsdienste versterk, want dit het werklik voorgekom asof beamptes alomteenwoordig kon wees.

As gevolg hiervan het mense hul gedrag en opinies oor landspolitiek sommer self begin reguleer om seker te maak hulle vermy ’n gevreesde straf.

Nou is ons in ’n tyd waar mense selfsensuur moet toepas sodat hulle nie die gevreesde etiket van “rassis” en die gepaardgaande straf kry nie.

Die alomteenwoordige oog van die panoptikon is dalk net die man wat langs jou in die vliegtuig sit en kyk wat jy in ’n SMS tik of jou kollega wat jou onredelik van rassisme beskuldig wat daartoe lei dat jy jou werk kwyt is.

Kok is ’n dosent in politieke wetenskap aan Unisa.

Meer oor:  Alida Kok  |  Tronk  |  Sensuur  |  Gevangenes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.