Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Amerika en China: Samewerking of oorlog?

Ondanks meningsverskille is die kans van konflik tussen die VSA en China skraal, skryf Gert Grobler en kyk na die verhouding tussen dié twee lande uit ’n Chinese hoek.

’n Suid-Koreaanse betoger wil niks weet van die “Quad”-bondgenootskap waarmee Amerika Chinese invloed wil probeer teenwerk nie. Foto: Getty Images

Die verhouding tussen die VSA en China het onder die Trump-administrasie versleg tot die swakste tot nog toe.

Hoewel pres. Joe Biden reeds voor sy magsoorname in Januarie aangedui dat die VSA China steeds as ’n strategiese mededinger sal beskou, het die wêreld die eerste amptelike ontmoeting tussen die twee lande se ministers van buitelande sake, Anthony Blinken en Wang Yi, onlangs in Anchorage, Alaska, met groot afwagting dopgehou.

Hierdie ontmoeting het ongelukkig op ’n onvergenoeglike konfrontasie tussen die twee afvaardigings uitgeloop. In sy openingsrede het Blinken op ongehoorde wyse ’n skerp aanval op China geloods. Hy het China gekritiseer oor onder meer die ondermyning van die “wêreldorde wat op reëls gegrond is” asook oor Taiwan, die Suid-Chinese See, Hongkong en die Oeighoere-kwessie in Xinjiang-provinsie.

Hy het trouens in die proses gebruiklike diplomatieke protokol oorboord gegooi wat baie lande en kenners verbaas het.

Anthony Blinken, Amerika se minister van buitelandse sake, aan die woord tydens ’n onlangse besoek aan Brussel. Foto: Getty Images

Die Chinese afvaardiging, wat op uitnodiging van die VSA na Anchorage gereis het, was tot ’n mate onkant betrap, maar het in hul uitvoerige en heftige reaksie (wat nie voorbedag was nie) sterk teruggekap. China het aangevoer dat die VSA eerder na sy eie beeld moet omsien, dat die wêreld verander het deurdat die VSA nie internasionale mening verteenwoordig nie en ook nie meer die respek afdwing of die geloofwaardigheid van weleer geniet nie.

Hy het nietemin beklemtoon dat China glad nie konflik en konfrontasie met die VSA nastreef nie.

Albei lande het die ander daarvan beskuldig dat hul “tirades” gerig was op gehore in die VSA en China.

Daar is wel later tydens die ontmoeting, toe gemoedere bedaar het, oor “gemeenskaplike” kwessies soos klimaatsverandering, ekonomiese aangeleenthede en knelpunte soos Afganistan en Iran beraadslaag.

Sanksies en ’n teenreaksie

Die Chinese en Amerikaanse verteenwoordigers by die onlangse beraad in Anchorage, Alaska. Foto: Reuters

’n Kernelement van die Biden-strategie is om “demokratiese alliansies” teen China te bou. Blinken se ontmoetings met die sogenaamde Quad-lande (benewens die VSA is dit Japan, Indië en Australië), sy besoeke aan Japan en Suid-Korea en sy ontmoetings ná die Alaska-beraad met die Europese Unie (EU) en Navo in Brussels, is alles deel van dié strategie.

Ná hierdie ontmoetings het die EU op sanksies teen ’n aantal Chinese amptenare besluit wat betrokke is by die “vertrapping van die menseregte” van die Oeighoere- minderheid in Xinjiang. In teenreaksie het China sanksies ingestel teen ’n aantal Europese parlementslede en burgerregte-organisasies wat direk gemoeid was met die Xinjiang-aantygings.

Die Xinjiang-aantygings word ten sterkste deur China ontken en bestempel as onaanvaarbare inmenging in sy huishoudelike aangeleenthede.

Dit het verontwaardiging ontlok in Europese kringe en nou word daar gedreig om die beoogde omvattende beleggingsooreenkoms van Desember 2020 tussen die EU en China op te skort. Europese sakelui is erg bekommerd oor dié stap, want die ooreenkoms sal ’n beduidende stimulus wees vir groeiende Europese beleggings in China.

Met beleggings ter waarde van 150 miljard euro deur Europese maatskappye in China oor die afgelope 20 jaar, en met die huidige totale bilaterale handel van 510 miljard euro per jaar, voorspel waarnemers dat die EU homself in die voet sal skiet met die moontlike opskorting van die betrokke ooreenkoms.

Die spanning het oor die laaste dag of twee verder toegeneem met China wat ook sanksies teen individue en entiteite in die VSA en Kanada ingestel het wat volgens hom verantwoordelik was vir die aanblaas van “valse beskuldigings” teen China oor die Oeighoere-kwessie.

Verteenwoordigers van Xinjiang se provinsiale regering by ’n mediakonferensie in Beijing waar die Chinese regering druk op buitelandse klerevervaardigers uitgeoefen het om berigte van menseregtevergrype in dié provinsie te ontken. Foto: AP

Dit is vir baie lande kommerwekkend dat die VSA opnuut in sy heftige reaksie melding gemaak het van “volksmoord” in Xinjiang. Dit is ’n ernstige aantyging waaroor daar op internasionale vlak tans beduidende meningsverskil bestaan vanweë ’n gebrek aan klinkklare bewyse.

Die Xinjiang-aantygings word ten sterkste deur China ontken en bestempel as onaanvaarbare inmenging in sy huishoudelike aangeleenthede. China sê ook daar is grondige veiligheidsgevare asook gevaar van terrorisme in Xinjiang wat deur die Weste geïgnoreer word.

Dié provinsie het trouens oor die afgelope dekade of twee onder honderde sodanige aanvalle deurgeloop.

Mense werk in ’n rysland in die Xinjiang-provinsie. Foto: Reuters

Die ekstremistiese “Oos-Turkistan Islamitiese Beweging” wat in Xinjiang bedrywig is en ’n “onafhanklike Turkistan” in China wil vestig, is amptelik deur die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad (resolusie 1267) tot ’n “terroristiese beweging” verklaar.

China het reeds herhaalde uitnodigings aan die VN se Hoë Kommissaris vir Menseregte in Genève gerig om haarself te vergewis van die ware toedrag van sake in Xinjiang.

Dit is ook opmerklik dat die invloedryke Organisasie van Islamitiese State asook die Liga van Arabiese Lande hoegenaamd nie met die “Westerse propaganda” oor Xinjiang saamstem nie.

Probleme in die Suid-Chinese See

China is voorts erg bekommerd oor Amerika se groeiende militêre oormag in die omgewing van die Suid-Chinese See: 40 militêre basisse met 132 000 troepe waarvan 54 000 in Japan is, 28 500 in Suid-Korea, Guam en elders.

China beskou dit as ’n ernstige bedreiging, veral gegewe die huidige Amerikaanse administrasie se konfrontasionele benadering teenoor hom.

China beskou Taiwan uiteraard ook as nie-onderhandelbare huishoudelike aangeleentheid.

China voer deurlopend dialoog met die Assosiasie van Suid-Oos Asiatiese Nasies (Asean) oor grensgeskille in die Suid-Chinese See. Asean gee ook voorkeur aan ’n benadering van vrede en stabiliteit in die streek en plaas dus sterk klem op dialoog en ekonomiese samewerking met China.

China beskou Taiwan uiteraard ook as nie-onderhandelbare huishoudelike aangeleentheid. Die besluit deur die VSA om toenemend wapentuig aan Taiwan te lewer, soos die onlangse verkope van ’n aantal F16-vegvliegtuie ten bedrae van $17 miljard, dra ongelukkig verder by tot spanning in die streek.

Hongkong en die ‘Eeu van Vernedering’

’n Reuse-televisieskerm beeld Carrie Lam, Hongkong se uitvoerende hoof, uit op ’n mediakonferensie. Hongkongse wetgewers het Beijing meer mag in dié stad gegee. Foto: AP

Die ander tameletjie uit die Weste se perspektief is die gebeure rondom Hongkong, onder meer die onlangse voorneme van China om die verkiesingstelsel te wysig. China beskou Hongkong as sy soewereine eiendom en sien dit derhalwe ook as ’n huishoudelike kwessie.

China sal dus enige pogings van buite om in Hongkong se aangeleenthede in te meng sterk teenstaan. China meen hoe gouer elemente in Brittanje en elders uiteindelik aanvaar dat Hongkong, wat in die koloniale tydperk van China “gesteel” is nie aan “hulle behoort” nie, hoe beter.

Die sogenaamde “Eeu van Vernedering”, die “donker jare”, tussen ongeveer 1839 en 1949 toe China onder die brutale kolonialisering van Brittanje, Frankryk, Portugal asook Rusland en Japan deurgeloop het, is steeds ’n belangrike element in die Chinese psige.

Dit is een van die redes waarom die meeste lande in Afrika, Asië en die Midde-Ooste begrip het vir China se ferm standpunt oor Hongkong.

’n Eenvoudige keuse

Die Amerikaanse en Chinese vlae wapper naas mekaar in Beijing. Dié twee lande sal uiteindelik geen ander keuse hê as om saam te werk nie. Foto: Reuters

Ondanks al die verskille, is die internasionale gemeenskap oorwegend van mening dat die wêreld se twee grootste ekonomieë in die lig van noemenswaardige oorhoofse gemeenskaplike belange, basies geen ander alternatief het as om nouer samewerking na te streef nie – uiteraard met sterk mededinging op etlike gebiede.

Daar word aangevoer dat dit ’n onbegonne taak sou wees om die twee ekonomieë, met ’n gesamentlike waarde van $35 000 miljard, te probeer ontkoppel sonder ernstige ekonomiese implikasies vir albei lande en die wêreld as ’n geheel.

’n Benadering wat gerig is op konstruktiewe samewerking en kan lei tot ekonomiese groei oor die wêreld heen, volhoubare ontwikkeling, multilateralisme, die bekamping van klimaatsverandering en die bevordering van vrede sal dus allerweë verwelkom word.

Ons soek nie konfrontasie met China nie, maar ons besef dat daar strawwe, baie strawwe mededinging sal wees.
Joe Biden

Ondanks al die onlangse hewige bekgevegte en verhoogde spanning is talle gesaghebbende waarnemers dus van mening dat koeler koppe uiteindelik op lang termyn sal seëvier wat die verhouding tussen China en Amerika betref. Dit kan egter ’n moeisame proses wees.

Biden het reeds oor die afgelope klompie dae ’n ietwat meer gematigde houding ingeneem deur te sê dat hy in die verlede baie tyd saam met pres. Xi Xinping van China deurgebring het – trouens, meer as met “enige ander leier”.

Hy het Xi as ’n “slim man” met ’n ander politieke filosofie as syne bestempel. Biden het nietemin bygevoeg: “Ons soek nie konfrontasie met China nie, maar ons besef dat daar strawwe, baie strawwe mededinging sal wees.”

Hy het ook te kenne gegee dat die VSA se beleid oor China vele fasette behels en steeds besig is om gestalte te kry. Dis ook betekenisvol dat hy Xi Jinping en pres. Wladimir Poetin van Rusland genooi het na ’n beraad oor klimaatsverandering in die VSA wat eersdaags in die aanloop tot die COP 26-konferensie in Glasgow sal plaasvind.

Gert Grobler

Dit is teen hierdie agtergrond dat verwag kan word dat dialoog stapsgewys sal plaasvind sodat die stof eers gaan lê het. Bilaterale kommunikasiekanale tussen die twee regerings sal mettertyd weer geaktiveer word en dit sal tot die verdere “normalisering” van verhoudinge lei.

Gegewe die katastrofale wêreldwye gevolge van moontlike militêre konflik tussen die VSA en China, word voorspel dat die moondhede ondanks wesenlike ideologiese en ander verskille sowel as druk van die breë internasionale gemeenskap, geen keuse sal hê as om op gesprekke eerder as konflik te besluit nie.

Soos Winston Churchill eens tereg opgemerk het: “Jaw jaw is better than war war!”

• Grobler is ’n voormalige ambassadeur en tans besoekende dosent aan die Instituut vir Afrikastudies by die Zhejiang Normaal-Universiteit in Jinhua, China. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Xi Jinping  |  Joe Biden  |  Hongkong  |  China  |  Amerika  |  Oorlog  |  Samewerking  |  Geskiedenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.