Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ampie Coetzee: ’n woordmens
Hein Willemse

’n Taal moet alles moontlik kan sê. Juis wanneer dit druk gaan, moet maniere gevind word om te praat, selfs teen die status quo. Die woorde is gepas by die heengaan van Ampie Coetzee (81).

Hoewel Coetzee hom aanvanklik gerig het op die formalistiese denkstroom in die Afrikaanse letterkunde het hy vroeg ’n anderste pad begin loop. Hy was uitgesproke teen sensuur en ’n medestigter van die versetsuitgewery Taurus. Maatskaplike betrokkenheid wat hier met ’n ompad vanaf die Franse denkers, Breyten Breytenbach en André P. Brink beland het, het tot hom gespreek.

Coetzee begin sy loopbaan as literator toe die terrein oorheers is deur kritici wat hoofsaaklik ingestel was op die formalisties-tegniese aard van die teks. Maatskaplike betrokkenheid en veral politiek is verdag gemaak omdat dit sou indruis teen ’n geïdealiseerde estetika. Die doel van letterkunde-ondersoek was die afgerondheid van die kunsproduk, ’n soeke na die oorspronklike maar nooit volprese universele segging.

Maar kuns of letterkunde staan nie los van die wêreld waaruit dit spruit nie. In sy destyds uitdagende boek Poësie en politiek (1975) moes Coetzee met sy ondertitel laat blyk dat sy studie ’n “voorlopige” verkenning van betrokkenheid is. Dit is ’n skuiwergat, want anders as wat die hoofstroomkritici gereken het, wou hy redeneer dat “betrokke poësie” ook “goeie poësie” kon wees.

Hiermee het hy hom begin vestig as ’n linkse, aktivistiese letterkundige. Die Afrikaanse letterkunde is arm aan aktivistiese denkers, maar het ’n oormaat van kundiges wat, volgens die kritikus Marianne de Jong, skugter is vir ’n “sosiohistoriese en sosiopolitieke bewussyn”. Min het sedert 1990 verander.

Vir Coetzee was letterkunde nie net opgemaakte storietjies nie.

In Marxisme en die Afrikaanse letterkunde (1988) en Letterkunde en krisis: ’n Honderd jaar Afrikaanse letterkunde en Afrikaner-nasionalisme (1990) probeer hy sin maak van die Afrikaanse letterkunde as deel van ’n groter Suid-Afrikaanse kultuur. Kan die Afrikaanse letterkunde geïntegreer word in die “hoofnarratief van die Suid-Afrikaanse ge­skiedenis”?

Die idealisme van dié tekste moes later vir Coetzee getaan het omdat ’n vorm van eng etniese nasionalisme ná 1994 posgevat het. Dit is hoekom hy hom toenemend feller teen die huidige orde uitgespreek het.

Sy belangrikste werk is ’n Hele os vir ’n ou broodmes (2000), waarin hy die botsende belange van “grond en die plaasnarratief sedert 1595” beskryf. “Grond is grondig meer as net grond in Afrikaans”, skryf hy. In Engels kom die woord “grond” in die sin van beoefening van landbou, grondverbouing, as weiding “of selfs net as grond-wat-daar-lê” nie voor nie. In Xhosa bestaan die woord “plaas” as ’n leenwoord, “ifama” of “iplasi”. As ’n woord nie oorspronklik in ’n taal bestaan nie, “moet aanvaar word dat die konsep ook nie bestaan het nie; dat daar dus nie plase in die Westerse betekenis was nie”.

Vir Coetzee was letterkunde nie net opgemaakte storietjies nie. Grond is deel van “ ’n meerstemmige gesprek, ’n dodelik ernstige debat”. “Plaas” en “grond” roep in ons land teenstellende beelde op. Ons verneem van “magsverhoudings, die omkeer van magsverhoudings, indringing, versteuring van lewenspatrone”.

Letterkunde, liedjies en voorstelling, ook godsdienstige tekste en geskiedskrywings, speel ’n wesenlike rol in die skepping van identiteit. Hoe ons oor onsself én ander dink, word medebepaal deur die stories wat ons hoor en wat ons oorvertel.

Vir Ampie Coetzee was letterkunde dodelik ernstig. Dit is hoekom hy indringend ánders daarna gekyk het.

  • Willemse is professor in letterkunde en literêre teorie van die Universiteit van Pretoria se departement Afrikaans.
Meer oor:  Hein Willemse  |  Woorde  |  Taal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.