Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
ANC-alliansie se dae is getel
Roelof Botha
Roelof Botha

Die tesourie se nuwe groeiplan is ongetwyfeld een van die belangrikste beleidsdokumente wat sedert die oorgang na demokrasie verskyn het.

Wyd uiteenlopende reaksie daarop is van in en buite die ANC-alliansie ontvang.

Dit was voorspelbaar dat die SAKP en Cosatu, die ANC se twee alliansievennote, sommige aspekte van die groeiplan sou verwerp.

Die voorlopige kommentaar van dié twee Marxisties-gesinde organisasies het egter van semi-histerie getuig en sommige woordvoerders van die SAKP en vakbonde het die plan in sy geheel verwerp.

Daarmee is die land nou een tree nader aan een van die grootste politieke gevegte in sy geskiedenis, iets wat vroeër vanjaar in dié rubriek voorspel is.

Tito Mboweni, die minister van finansies, het met die bekendmaking van die nuwe groeiplan ’n streep in die sand getrek en die populiste in die ANC-alliansie het die uitdaging aanvaar en reeds ’n paar houe ingekry.

Gelukkig vir Mboweni (en die land) het hy die swaargewigte in sy kamp, aangesien die nuwe groeiplan duidelik die stempel van pres. Cyril Ramaphosa dra – en verreweg die meeste lede van die kabinet gaan dit waarskynlik ondersteun.

Wat ook in Mboweni se guns tel, is dat die nuwe plan goed deurdag is en op universele ondersteuning van die private sektor kan staatmaak.

Wat ook in Mboweni se guns tel, is dat die nuwe plan goed deurdag is en op universele ondersteuning van die private sektor kan staatmaak.

Buiten die enkeles wat skynbaar nog nie van die val van die Berlynse muur gehoor het nie, is daar geen ekonoom wat nie die grondslag van die plan sal verwelkom nie. Die deregulering van die arbeidsmark sal op sy eie tot aansienlike werkskepping lei en dit is juis hierdie aanbeveling wat sommige vakbonde die harnas ingejaag het.

Ongelukkig is die kans goed dat Cosatu se teenstand met protesoptogte sal gepaardgaan. Teen die agtergrond van die huidige vlaag van onrus wat veral Pretoria en Johannesburg getref het, kan die land dit allermins bekostig.

Daar sal vinnig maatreëls getref moet word vir die beter opleiding en ontplooiing van die polisie, asook groter samewerking met weermageenhede en die metropolisie om die aanhitsers van onrus en ander misdadige aktiviste wat brand stig en steel, deeglik vas te vat.

Moderne tegnologie kan sekerlik gebruik word om diegene wat verantwoordelik is vir die gruwelike openbare geweld en plundering van winkels en ondernemings te identifiseer en tronk toe te stuur. Wetgewing behoort ook oorweeg te word om brandstigting en die aanhitsing van geweld aan baie streng strawwe onderhewig te maak.

Intussen is die tesourie se tydsberekening met die nuwe groeiplan nogal goed. Die ekonomie het (soos ook ’n rukkie gelede in dié rubriek voorspel is), in die tweede kwartaal mooi herstel, met ’n groeikoers van meer as 3%.

Nóg belangriker is die uitstekende vertoning van kapitaalvorming, wat met meer as 6% toegeneem het (op ’n kwartaalgrondslag).

Groter kapitaalvorming word bykans altyd gevolg deur sterker ekonomiese groei en dit kan in die komende maande tot ’n verbreding van die belastingbasis lei. Die uiteindelike voordeel sal dan wees in voldoende beweegruimte vir die tesourie om ook infrastruktuurbesteding te vergroot.

Die ANC se alliansievennote het nie ’n enkele setel in die parlement nie en kan maar gerus oor vyf jaar kiesers probeer oorreed om beleid te ondersteun wat tot ’n mislukte staat sal lei – soos in Zimbabwe en Venezuela.

’n Skeuring van die ANC-alliansie is haas onvermydelik en dalk net die regte medisyne vir die pogings van Ramaphosa en die nuwe kabinet om groeigerigte beleid vinnig in te stel.

Meer oor:  Ekonomie  |  Groeiplan  |  Anc-Alliansie  |  Tesourie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.