Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
ANC-beloftes lei tot verwagtings
Rapule Tabane

Die studenteprotes by die Universiteit van die Witwatersrand, wat na alle waarskynlikheid na elders gaan oorspoel, is ’n herinnering aan hoe politici met ons lewens speel.

Die idee dat die regering sal omsien na studente en vir die meeste van hul studies sal betaal, is nie ’n denkbeeldige verwagting wat deur die studente en hul ouers geskep is nie. Dis ’n belofte wat die ANC in elke liewe verkiesing sedert 1994 gemaak het.

Dit is net een van baie gratis dienste wat die ANC-regering aan mense belowe het. In sommige gevalle is die beloftes nagekom, soos met die lewer van gratis huise, hoewel nie almal huise gekry het nie en die huise nie noodwendig van die hoogste standaard is nie.

Vandag kan baie mense met waardigheid sê hulle besit ’n huis. Dis iets wat hulle dalk nooit sou kon doen nie, omdat dit hoofsaaklik werkloses en laag besoldigdes is wat hieruit voordeel getrek het. Nog ’n belofte wat nagekom is, is gratis gesondheidsdienste, hoewel hospitale en klinieke oorweldig is en diensleweringsvlakke verswak het.

Wat onderwys betref, raak dit nou al byna vervelig om aan die begin van elke jaar deur die ritueel van studenteprotes te gaan. Hulle betoog oor uitsluiting op grond van finansies of akademie, of omdat daar nie genoeg plek is vir die duisende wat daarvan droom om sukses deur verdere opleiding te behaal nie.

Die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) kry jaarliks tussen 400 000 en 700 000 aansoeke van studente wat glo hulle voldoen aan die kriteria.

Maar wat die onderwyskrisis vererger, is dat oudpres. Jacob Zuma in 2017 amptelik aangekondig het tersiêre opleiding is nou gratis, sonder dat hy die tesourie geraadpleeg of die res van die regering gevra het om die uitvoerbaarheid daarvan te bekyk. Zuma was toe reeds op pad om die Uniegebou te ontruim en sy reputasie was aan flarde. Gratis tersiêre onderwys was een van sy pogings om weer die guns te wen van ’n land wat hom teen daardie tyd gehaat en gewantrou het.

Hy het geredeneer dat die ANC nou al lank gratis onderwys belowe en dat mense dit nou moet kry. Terselfdertyd het hy geweet hy hoef nie bekommerd te wees oor die implikasies van sy aankondiging nie, omdat dit iemand anders se probleem gaan wees.

En nou sit die regering met die gebakte pere. Die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) kry jaarliks tussen 400 000 en 700 000 aansoeke van studente wat glo hulle voldoen aan die kriteria en is daarom geregtig op bystand. NSFAS het eenvoudig nie geld om almal te help nie.

Covid-19 het sake vererger en die bietjie geld wat nog in die staatskoffers ingekom het, moes herprioritiseer word, wat beteken die NSFAS-begroting is verminder. Die realiteit is dat minder studente finansiële hulp gaan kry.

Die studente weet óf nie van die groter prentjie nie, óf hulle gee eenvoudig nie om nie. Al wat hulle wil doen, is om universiteit toe te gaan. Hulle kan altyd redeneer dat dit aan hulle belowe is en dat hulle daarop geregtig is om gratis onderwys te ontvang. Dis ’n hoek waarin die ANC homself vasgeverf het, waaruit die party moeilik gaan kom.

Wat die regering ook nou doen, gaan ’n opoffering van iemand of die opgee van iets verg. Geld gaan nou op een plek gevind moet word om ’n gat op ’n ander plek toe te stop. En later vanjaar gaan daar weer opstand wees oor iets anders wat onderfinansier is. Niemand wen iets hieruit nie.

Hopelik leer die regering jy kan nie beloftes maak sonder om die uitvoerbaarheid daarvan te toets nie. Geld groei nie aan bome nie. En ’n onskuldige man is dood omdat die polisie hom tydens die studenteprotes geskiet het.

En hopelik leer opposisiepartye wat graag wil regeer ook dat ’n regering nie onrealistiese beloftes kan maak nie.

  • Tabane is politieke redakteur van City Press

Meer oor:  Rapule Tabane  |  Universiteite  |  Studente  |  Aansoeke  |  Gratis Onderrig  |  Finansies  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.