Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
ANC én Cyril het moerbei-vlekke

Soms dink ek pres. Cyril Ramaphosa hou daarvan om polities riskant te wees en op die treinspoor te speel. Die dag dat hy deur ’n aankomende politieke trein – lees: sy vyande – getrap gaan word, is dalk nie so ver as wat hy dink nie.

Ramaphosa het onlangs weer die ANC-apparatsjiks laat orent spring met sy opmerking dat kaderontplooiing einde moet kry, ’n doeltreffende staatsdiens deur die aanstelling van kundiges opgebou moet word, inmenging in staatsondernemings moet staak en ’n doeltreffende staat en plaaslike regerings vir beter dienslewering gevestig moet word.

Met ander woorde, Ramaphosa wil eintlik ’n dik streep trek deur die huidige beleid van kaderontplooiing. Dis nogal ’n mondvol, maar ek sal nie ’n halfsent daarop wed dat kaderontplooiing in sy voetspore gestuit gaan word nie. Ramaphosa is nie die ANC nie. Hy het nie vetoreg oor kader-ontplooiing nie. Die ANC is ’n “broad church” en dit is ’n organisasie waar getalle ongelukkig bepaal hoe die wind in die party gaan waai.

Daar is nog duisende kaders wat nog nie aan die tender-ontbyttafel gesit het nie en wat nog moet eet.

Die ANC het dan selfs ’n beleidsdokument – “The Eye of the Needle” – wat as ’t ware die voorgeskrewe handboek is vir kaderontplooiing. In dié dokument word die streng keuringsproses uitgestippel wat kaders moet deurgaan voordat hulle in leiersposte op tak-, streeks-, provinsiale en nasionale vlak ontplooi word.

Volgens die beleidsdokument moet kaders deur die spreekwoordelike oog van die naald kan gaan.

Volgens die beleidsdokument moet kaders deur die spreekwoordelike oog van die naald kan gaan. Dit bepaal ook dat ’n leier met voorbeeld moet lei en sy politieke en sosiale gedrag bo verdenking moet wees.

Nou hoe op dees aarde is kaders soos Bathabile Dlamini, Mosebenzi Zwane, Ace Magashule en Bongani Bongo onder andere verkies tot die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK)?

Hulle almal is gekompromitteerde ANC-lede, maar nou wil hulle die hardste skree oor Pravin Gordhan en hom vir ’n politieke ketter uitkryt omdat hy kamma nie volgens die ANC-reëls speel nie.

As eerlikheid ’n kritieke prestasiearea vir ANC-leiers sou wees, sou kohorte soos Dlamini nie eens deur die Hugenote-tonnel kom nie, wat nog te sê die oog van ’n naald.

Die ANC is ’n kleinserige politieke party as dit by kritiek kom. In die ANC mag jy jou mening hê en lug en jy mag selfs kritiseer, maar net in ruimtes waar die ANC nie bedreig voel nie. Dus: Speel volgens die ANC se reëls en voorskrifte.

Kaderontplooiing het die land onherstelbare skade aangerig, soos Ramaphosa agtergekom het. Wat die president nie kan wegredeneer nie, is dat hy deel was van die ANC-kollektief wat onbekwame mense in poste aangestel het.

So, die moerbei-vlekke is nie net op die ANC se hemp nie, maar ook op Ramaphosa s’n.

Plaaslike regering in die meeste rade in die land is in die grond bestuur deur onbekwame kaders wat in leiersposte is.

Plaaslike regering is ook die intreevlak waar staatskaping plaasvind.

Tenders en uitspattige partytjies is waarop plaaslike raadslede leef en dit is hier waar kaders in poste en posisies gedruk word bloot op grond van velkleur en, nog erger, politieke en tjommie-konneksies.

Om die staatskas te plunder, het deel van die ANC se DNS geword en hebsug en gierigheid deel van die ANC-leksikon.

Dit gaan meer as Ramaphosa vat om die trein van kaderontplooiing te stop.

  • Maarman is eindredakteur van Die Burger.
Meer oor:  Johann Maarman  |  Presidentskap  |  Anc  |  President  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.