Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
ANC-kaders en têp-têp-danse
Johann Maarman

As ’n mens luister na die Zondo-kommissie se ondersoek na staatskaping, is dit ’n geval van jy lag maar met die voorste tande, maar kners op die agterstes.

Ons is lankal verby die fase van skok en ongeloof, want ons het die hele tyd geweet dat Suid-Afrika leeggesuig word deur ANC-rampokkers.

’n Minister wat met leë sportsakke na die Gupta-herehuis gaan, maar dit verlaat met ’n sak vol note, ’n duur wittebrood in Mauritius wat gefinansier word deur die einste Guptas, R100 000 kontant op ’n slag in die handsak van ’n minister se vrou (en dit is nie as ongewoon beskou nie) en peperduur vakansies in Doebai blyk die gemene deler te wees van ANC-stropers wat hul siel verkoop het aan ’n Indiese familie wat ons land se staatskas geplunder het.

Daarom was die afwagting groot toe pres. Cyril Ramaphosa in die warm stoel gaan sit om te verduidelik hoe die ANC gewillige hansie-my-kneg gespeel het, agteroor gebuig het en toegelaat het dat die Guptas en hul kohorte kon maak en breek soos hulle wil.

Feit is, ná Ramaphosa se verduideliking weet ons nou dat die ANC nie hul hande in die onskuld-skottel kan was nie. Die deler is net so goed soos die steler.

Maar dit is Ramaphosa se erkenning dat baie van die land se probleme toegeskryf kan word aan die ANC se beleid van kaderontplooiing wat met kopknikke begroet is.

Bekwame mense (ja, grotendeels wit) is ’n koevertjie in die hand gestop en afgelê sodat die staatsdiens en staatsentiteite getransformeer kon word.

Kaderontplooiing is “die groot olifant in die kamer” en dit word uitgewys as die euwel in hedendaagse Suid-Afrika wat verhinder dat mense op meriete in die staatsdiens aangestel word.

Maar hoe het ons toegelaat dat ons land geregeer word deur mense wat eenvoudig nie daarvoor toegerus is nie? Mense is aangestel nie op grond van vermoë nie, maar eerder politieke konneksies.

Laat ons ook nie lap om ’n gesonde vinger draai nie. Bekwame mense (ja, grotendeels wit) is ’n koevertjie in die hand gestop en afgelê sodat die staatsdiens en staatsentiteite getransformeer kon word.

Die gevolg was dat ons met onbekwame mense in hoë poste in die staatsdiens gesit het wat vraatsugtig geraak het en kon maak en breek soos hulle wil. En alles het op die wagbeurt van die ANC gebeur.

Ramaphosa kan dus voorgee dat hy nie geweet het nie. Hy was die man wat die prinsipaal was van die ANC se ontplooiingskomitee. Hy het dus geweet van al die wurms in die blik en was inderdaad die vroedvrou wat aan staatskaping geboorte help gee het.

Die hedendaagse ANC het ’n rowerspelonk geword en ons kan dit nie langer verswyg nie. Ons moet reguit en eerlik praat oor die ANC se aandeel daaraan dat die land se ekonomie rommelstatus verwerf het – ongeag die ongemak.

Ons kan nie langer têp-têp-danse om dit uitvoer nie, want die mistiek wat die ANC omring het, het verdwyn. Die warmte het plek gemaak vir koue. Die ANC ondervind ’n verlies aan status omdat hulle onverskillig omgegaan het met korrupsie, nepotisme en kaderontplooiing. Mense verstaan nie meer die sin en rigting van die ANC nie. Die elektrisiteit van ’n groter visie ontbreek.

Dit is nou tyd om eens en vir altyd te erken dat ons ’n hoë prys vir kaderontplooiing betaal het. Hoe ons die skip gaan omdraai, is nog duister. Maar omdraai sal hy moet, want op dié koers kan ons eenvoudig nie meer voortseil nie. Laat ons almal dus voluit werk om uit die winterkoue van kaderontplooiing te beweeg na die lowergroen van inklusiwiteit.

  • Maarman is eindredakteur van Die Burger.
Meer oor:  Johann Maarman  |  Korrupsie  |  Kaders  |  Kaderontplooiing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.