Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
ANC, los nou ons president uit!
Henry Jeffreys

Ek het die naweek se inhuldiging van pres. Cyril Ramaphosa as baie emosioneel ervaar. Trouens, toe hy in reaksie op hoofregter Mogoeng Mogoeng se vraag die woorde “So help my God” gesê het, het ’n traan langs my regterwang afgerol en my bors het van emosie gesidder.

Ek het hieroor gedink en tot die slotsom gekom dat dit meer as enigiets te doen het met die hoop wat Ramaphosa verteenwoordig en ’n versugting dat hy suksesvol sal wees.

Ek het ook onthou dat die inhuldigings van oudpres. Jacob Zuma my heeltemal koud gelaat het, juis omdat ek gevoel het dat hy ’n ramp vir die land sou wees – ’n gevoel wat toe uiteindelik korrek bewys is.

As die reaksie van die groot skare in Loftus Versfeld as maatstaf kan dien, is dit duidelik dat Suid-Afrikaners in die breë ook wil hê dat Ramaphosa se eerste amptelike en volle termyn as staatshoof suksesvol moet wees.

’n Skaflike meerderheid van kiesers het dit op 8 Mei met hul kruisies gesein. Die ANC moet nou net nie kom lol en struikelblokke in sy weg plaas nie.

Zuma gooi nog ’n groot en donker skaduwee oor ons politiek, en veral die politiek van die ANC.

En dít is nie ’n uitgemaakte saak nie. Zuma gooi nog ’n groot en donker skaduwee oor ons politiek, en veral die politiek van die ANC. Ramaphosa moet egter krag put uit sy oorwinning by die stembus en die reaksie op sy inhuldiging. Die Zumaïete gaan dit egter nie vir hom maklik maak nie.

Hy kan hulle nie ignoreer nie, maar moet ook nie toelaat dat hulle hom gevange hou nie. Dit is duidelik dat Suid-Afrikaners in die breë aan sy kant is, en hy moet dit tot sy voordeel aanwend.

Dit is belangrik dat die president hom nie agter die mure van die Uniegebou en Tuynhuys afsonder nie. Hy moet voortgaan met sy uitstappies en interaksies met die publiek. Dit is een manier om die ANC agter die mure van Luthuli-huis te wys dat hy in voeling met gewone Suid-Afrikaners is.

Uiteindelik sal hy egter die skeptici in die ANC aan sy kant moet kry. Ferm en beginselvaste optrede is soms moeilik om te ignoreer. Dit is juis waarom sy besluite oor die nuwe kabinet so belangrik is. Die ANC moet ’n duidelike boodskap kry dat hy in beheer is en nie twak van kabouters sal duld nie.

Intussen moet gewone Suid-Afrikaners hulle gereed maak om die geveg na die ANC te neem sou die party dit waag om teen die president op te tree.

Die party moes nooit daarmee weggekom het toe hy van oudpres. Thabo Mbeki ontslae geraak het bloot om Zuma se magsug ter wille te wees nie.

Dit het ’n ondemokratiese presedent geskep wat uiteindelik ook teen Zuma ingespan is. Daar is wel ’n argument daarvoor te maak dat laasgenoemde dit verdien het.

Dit bly egter ’n twyfelagtige gebruik, wat moet end kry. In essensie maak dit die demokratiese besluite van die ANC en van die land se kiesers ongedaan.

Die ANC maak groot gewag daarvan dat dit die prerogatief van die president is om sy kabinet na goeddunke aan te stel. Hulle moet Ramaphosa nou toelaat om dit te doen en in sy besluite berus.

Daar is baie om te bewonder oor die Suid-Afrikaanse demokrasie, maar ook baie om oor te besin. Hiervan is die vervanging van die staatshoof ter wille van interne partypolitieke intriges die vernaamste.

Alles dui daarop dat Ramaphosa, indien die ANC hom toelaat, ’n president vir die tye sal wees.

Hy is ’n groot bewonderaar van Nelson Mandela en wil hom navolg in sy presidentskap. Hy sal nooit self ’n Mandela wees nie, maar dit sal egter nie skade doen vir hom om te probeer nie.

Dus, ANC: Hande af van ons president! En medeburgers: Wees gereed, indien nodig, om jul president te beskerm teen die ondemokratiese misplaaste magsugtiges in die ANC.

Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Cyril Ramaphosa  |  Anc  |  President  |  Inhuldiging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.