Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
ANC maai wat hy gesaai het
Leopold Scholtz

In 1793, toe die terreur van die Franse Revolusie op sy hoogtepunt was, het die Franse skrywer Jacques Mallet du Pan woorde in ’n essay oor die revolusie neergeskryf wat onsterflik geword het: La revolution dévore ses enfants, oftewel “die revolusie verorber sy kinders”.

Dis dié woorde waaraan ek moet dink elke keer as ’n groep studente aan Suid-Afrikaanse universiteite klasse ontwrig, teenstanders intimideer, geboue en biblioteke aan die brand steek, ensovoorts.

Die beweging #FeesMustFall val nie uit die hemel nie. Dis dalk polities hoogs inkorrek om te sê, maar die revolusionêre brand wat die ANC in die 80’s aangesteek het, is die vader en moeder van wat tans op die kampusse en elders gebeur.

In sy jaarlikse 8 Januarie-boodskap van 1984 het die ANC se leier, Oliver Tambo, die vuurhoutjie getrek. Hy het mense só aangemoedig om die land onregeerbaar te maak:

“To march forward must mean that we advance against the regime’s organs of state-power, creating conditions in which the country becomes increasingly ungovernable. We must hit the enemy where it is weakest.”

In die jare hierna is die staat se beheer oor talle townships onmoontlik gemaak. Swart polisiebeamptes en munisipale amptenare is vermoor. Talle mense wat maar net wou oorleef, is dikwels wreed geïntimideer om aan verbruikersboikotte deel te neem.

’n Mens moet die betekenis hiervan sekerlik nie oordryf nie. Swart mense se respek vir die reg was al deur apartheid ondermyn, deur die persepsie dat die reg ter beskerming van die wit mense bestaan, nie die swart mense nie. Maar die gewelddadige ANC-veldtog het die laaste reste van respek vir die reg uitgewis. Die idee het ontstaan dat dit rég is om die wet flagrant uit te daag.

Die ANC se naïewe verwagting was dat dit ná sy bewindsoorname sou verander. Dit hét nie. Dit het deel van die Suid-Afrikaanse kultuur geword.

Dis ná 1994 bowendien versterk deur die flagrante wyse waarop prominente ANC-lede – met pres. Jacob Zuma op die voorpunt – die reg met hul ongestrafte korrupsie vertrap. Is dit ’n wonder dat die studente – van wie baie vermoedelik nie regtig studente is nie – dink hulle kan maar maak en breek soos hulle wil, dat hul geweld en intimidasie altyd genoeg sal wees om volledig hul sin te kry?

Dis waar dat die studente ’n ideologiese sous oor hul eise gegooi het wat in die 80’s nie bestaan het nie. Nou gaan dit om die “dekolonialisering” van die universiteite, om verset teen “Westerse” denke. So asof die reëls van logika, van wetenskaplike denke in Afrika fundamenteel anders as dié in die Weste is. Asof die beginsels wat ten grondslag lê aan die studie van wiskunde, fisika of die geskiedenis in Afrika opeens anders is as dié in die res van die wêreld.

Dit wys net hoe min dié kinders van die wêreld weet. Maar hulle wil aan die wêreld voorskryf.

Onderliggend aan dié ideologiese sousie is egter die kultuur wat die ANC – en, laat ons eerlik wees, ook die apartheidstelsel – voor 1994 geskep het. ’n Verskil is dat dit nie spesifiek die bedoeling van die apartheidstelsel was nie, maar wel van die ANC.

Die ander verskil is dat die kultuur hom nou teen die ANC self rig. Wat net wys dat jy versigtig moet wees met die begin van geweld, want ’n veldbrand wat jy – dalk met die beste bedoelings – begin het, kan maklik handuit ruk voordat jy jou oë uitvee. Moenie met vuur speel nie.

Só kan gesien word hoe Mallet du Pan se woorde selfs in Suid-Afrika bewaarheid word.

Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Sake Van Die Dag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.