Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
ANC meulsteen om Tito se nek

Wanneer die minister van finansies, Tito Mboweni, vanmiddag sy begrotingsrede lewer, sal hy ’n berg Everest moet klim. Die verwagtinge is groot, maar die beweegruimte vir betekenisvolle verligting is knap.

Waarnemers en kenners is dit eens dat Mboweni goed sal vaar as hy die land nóg ’n afgradering kan spaar, maar dit is onwaarskynlik.

Uiteindelik is dit belastingbetalers wat sal moet opdok vir jare van ekonomiese wanbestuur deur veral die regering van oudpres. Jacob Zuma.

Suid-Afrika is vir alle doeleindes ’n bankrot staat. Tog het ons ambisieuse planne, soos Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) en die jongste idee, ’n soewereine welvaartfonds.

Een van die vrae wat Mboweni sal moet beantwoord, is waar die geld vandaan gaan kom om dit te finansier.

Suid-Afrika het dringend ekonomiese groei van minstens 3% nodig om ’n verandering te maak aan ’n werkloosheidsyfer van by die 30%.

Die struikelblokke is legio. Suid-Afrika het dringend ekonomiese groei van minstens 3% nodig om ’n verandering te maak aan ’n werkloosheidsyfer van by die 30%. Tog word voorspel dat die ekonomie vanjaar in die omgewing van net 0,5% sal groei. Dit is ook baie moontlik dat die ekonomie nog vanjaar in ’n resessie kan verval.

Mboweni se voorskrif sal waarskynlik ’n bitter pil wees. In 2018 is BTW met 1% verhoog. Dit was ’n skok. Die verwagting is dat indien BTW weer aangepas word, dit waarskynlik met minder as ’n persentasiepunt sal wees. Dit sal gepaardgaan met die kwytskelding van meer goedere wat deur veral arm mense verbruik word.

Skerp stygings in die sogenaamde sondebelasting op alkohol- en tabakprodukte, asook op suikergebaseerde produkte soos koeldrank en vrugtesap, word verwag. Niks hiervan sal egter ekonomiese groei aanwakker nie.

Een van die groot olifante in die vertrek is die staat se massiewe salarisrekening wat onder beheer gebring sal moet word. Vakbonde vir staatsamptenare is egter vierkant teen enige inkorting van salarisverhogings en dring aan op verhogings van goed bo inflasie. Dit is nie volhoubaar nie en sal moet verander indien daar enige hoop is vir ekonomiese herstel.

Dan is daar ook nog die land se groeiende begrotingstekort en weghol-skuldsituasie (Suid-Afrika betaal miljarde rande per jaar net in rente op skuld).

Die herstel van die ekonomie sal dus nie oornag gebeur nie en beslis nie deur een begrotingsrede beredder word nie. Dit is ’n langtermynprojek wat beteken die regte boustene moet neergelê word. Mboweni kan dié proses vandag begin. Die vraag is of die ANC hom sal toelaat om dit te doen.

Die ANC bly verknog aan die idee van ’n radikale ekonomiese revolusie. Ervaring wys egter dat dié idee misbruik word as ’n broeiplek vir allerlei vorms van korrupsie en staatskaping.

Mboweni en sy baas, pres. Cyril Ramaphosa, kan egter nie bekostig om binne die party die euwel op sy naam te noem nie. Mboweni mag dit nog dalk doen, maar die politieke risiko is te groot vir Ramaphosa, wat ’n gevangene van onsekerheid oor sy posisie in die ANC blyk te wees.

Mboweni, daarteenoor, toon dikwels sy irritasie met die stadige pas van hervorming van die ekonomie. Ons kan dalk meer hiervan hoor vandag.

Mboweni het verlede jaar ’n opskuddinkie veroorsaak met die uitreiking van ’n ekonomiese beleidsdokument “Ekonomiese transformasie, inklusiewe groei en mededingendheid”.

Sommige opposisiepartye het dit verwelkom as vars denke, maar in die ANC is dit gesien as ’n afwyking van die party se ekonomiese beleid, waarin radikale ekonomiese transformasie beklemtoon word. Dit is ’n groot struikelblok op Mboweni se pad vandag. Sal hy dit kan oorbrug? Waarskynlik nie.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.