Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
ANC moenie nou perde omruil nie
Johann Maarman

Dis nooit ’n goeie strategie om perde om te ruil in die middel van ’n stroom nie. As dit op die politiek van toepassing gemaak word, sal dit die domste besluit van die ANC wees om pres. Jacob Zuma nou sy afdankingsbriefie in die hand te stop.

Zuma het nog net ’n paar maande oor as ANC-leier en het reeds aangedui dat hy hom nie weer as ANC-president beskikbaar gaan stel nie. 

As hy so hardkoppig was, kon hy maklik weer sy naam in die hoed vir ANC-president gegooi het. Hy het die getalle aan sy kant. En in die ANC gaan dit oor getalle op grondvlak.

Die Grondwet van die land beperk ’n president tot twee termyne. ’n Tweederdemeerderheid sou benodig word  om die Grondwet te wysig. Maar die ANC se grondwet het geen beperking op hoeveel termyne sy president kan dien nie.

Thabo Mbeki het probeer om vir ’n derde termyn te beding, maar is in Polokwane gestuit, want as hy weer verkies sou word, sou dit beteken het dat daar in die ANC twee sentrums van mag sou wees – een in Luthuli-huis en een in die westelike vleuel van die Uniegebou.

Zuma word van baie dinge beskuldig  – onder meer dat hy ’n opgeblase eggo het, arrogant is en die kuns van die verdeel-en-heers-strategie vervolmaak het. 

Daarom is môre se mosie van wantroue – of dit nou ’n oop stemming of in die geheim gaan wees – ’n futiele oefening. 

Op sy beste is dit maar weer ’n bemarkingsfoefie van die opposisiepartye. 

Die opposisiepartye kan marsjeer en die strate om die parlement annekseer, maar Zuma gaan nêrens heen nie. Dit help nie jy het getalle in die straat, maar nie in die parlement nie.

Ons moet verstaan dat Zuma nie ’n illegitieme president is nie. Hy is demokraties verkies deur die meerderheid kiesers en as ons so hoog opgee dat die demokrasie in stand gehou moet word, beteken demokrasie dat die meerderheid se wense gerespekteer moet word. 

As mense ontevrede is met die regerende party en met Zuma, moet hulle maar geduldig wees en tot die volgende verkiesing wag.  

Die opposisie verspil ook net waardevolle tyd met hul gesanik oor Zuma. Pleks hulle gebruik hul energie om hul stem-akker te hark en vir die volgende verkiesing voor te berei. 

Dis prysenswaardig dat daar van hulle is wat ten gunste van die mosie van wantroue is.

Die EFF en die DA behoort ’n inventaris te neem van hoekom hulle nie  die meerderheidsparty in die land is nie. 

In die laaste verkiesing het 11 miljoen mense vir die ANC gestem en dié kiesers sal besluit of Zuma herroep moet word of nie.

Selfs in die drieparty-alliansie het die SAKP nou uit sy Rip van Winkel-slaap wakker geskrik en is ook nou anti-Zuma. 

Hierdie sjampanje-kommuniste het nog nooit in ’n verkiesing op hul eie geveg nie en maar nog altyd op die ANC se rug gery. Die ANC gaan beslis nie soos kersvet smelt as die SAKP hom nie meer steun nie.

Die ANC-LP’s in die parlement weet wie botter op hul brood sit. Dis prysenswaardig dat daar van hulle is wat ten gunste van die mosie van wantroue is. 

Dit is demokrasie in aksie.

Die ANC het ’n groot flater begaan deur Mbeki te herroep. Hy moenie ’n tweede keer in dieselfde strik trap nie.

Dinsdagnag gaan Suid-Afrika slaap en as hulle Woensdagoggend opstaan, gaan Zuma steeds die president van Suid-Afrika wees. 

Finish en klaar.

  • Maarman is eindredakteur van Die Burger, susterkoerant van Beeld.
Meer oor:  Johann Maarman  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.