Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
ANC nes kêrel agter in die kerk
Gert Coetzee

Die kêrel wat heel agter in die kerk sit, los ’n wind. Dan kyk hy om om te sien wie het dit gedoen.

Verskoon, dis kru. Maar die beste beeldspraak vir die ANC wat sy “kop in skaamte laat hang” oor sy leiers en hul familielede wat Covid-19-hulpbronne met korrupte staatstenders plunder.

Veral komende van wie die uitspraak is – Ace Magashule, ook bekend as Mr Ten Percent of – soos die Zondo-kommissie gehoor het– die Vrystaatse “blesser of many”.

Nes die kêrel in die kerk, is die ANC-vrate doodonskuldig. Hul koppe hang – nie uit skaamte nie, maar in ’n poging om misgekyk te word. Ywerig soek hulle saam wie het die wind gelaat.

Pleks kyk hulle net in die spieël.

En van die party se o so edele voorneme dat die betrokkenes gou gestraf gaan word, gaan niks kom nie.

Getrou aan die ANC se aard, druip sy verklaring oor Covid-19-korrupsie wat deur Magashule, sekretaris-generaal, namens die nasionale uitvoerende komitee uitgereik is, van skisofrenie.

In dié party kan jy Dr Jekyll én Mr Hyde wees. Heler en steler. En heilige kruisvaarder teen die vergrype wat jy self pleeg. As dit kom by korrupsie, is die ANC se maag los.

Die party is normatief gebrekkig. Geen waardes bestaan nie. En soos met ’n patologiese leuenaar wat sy eie leuens glo, is dit gewetenloos.

Jy moet net nie uitgevang word nie. Dit is al sonde in die ANC. Al weet almal waar die klankie vandaan kom.

Nie net Magashule se verklaring eer­gister is nikswerd en lagwekkend nie. Alle vorige beloftes oor die uitwissing van korrupsie sneuwel in ’n waas van ongeloofwaardigheid. Showing is better than telling, lui die spreekwoord.

Ook pres. Cyril Ramaphosa se Thuma Mina-spreuk, Nuwe Daeraad-aanslag en baie beloftes oor die uitwissing van korrupsie word hierdeur ongedaan gemaak. Ondanks aanvanklike hoop wink niks op die horison wat wys korrupsie gaan in die hart van die ANC, waar dit gesmee, gekoester en uitgebroei word, gestuit word nie.

Ná twee onvoldane beloftes verloor Ramaphosa se praatjies ook fut.

Ná twee onvoldane beloftes verloor Ramaphosa se praatjies ook fut. Die Zondo-kommissie wat veronderstel is om staatskaping te ondersoek, sit en sit en sit net en getuienis aanhoor. En niks verder nie. Van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) wat die adders moet vervolg, is baie verwag. Nou raak hul gesanik oor te min kapasiteit saai.

Drie dinge sou moes gebeur voordat die ANC se beweerde interne veldtog teen korrupsie wel geglo kan word.

Dit gaan nie gebeur nie, maar nietemin en hipoteties gesproke.

  • Die flou ekskuus “Onskuldig tot andersins bewys” moet laat vaar word. Jy saboteer die stelsel sodat dit te lamsakkig is om jou te vervolg en skuil dan agter die ekskuus. Dis ook skelm.
  • Die flou ekskuus van “Dis nie ek nie, dis my kinders. Hoekom mag hulle nie?” moet laat vaar word. Die eintlike vraag is “Hoekom mag hulle?” Op grond van watter kwalifikasies, erva-ring, knap diens en produkwaarde kry hulle die kontrak? En as hulle nie fa-milie was nie, sou hulle? Dit geld vir die jong Magashules (wat kan spog hulle het in Dubai op ’n Gupta-rekening in ’n duur hotel rondgehang), Andile Ramaphosa en Khuselo Diko, segsvrou van die president.
  • ’n Besef van wat belangebotsing, etiek en bekwaamheid werklik is, moet by hom ontstaan. Niks in die ANC stem tot moed hieroor nie. Naas ander dinge, beteken etiek daardie fyn skeidslyn tussen reg en verkeerd en nie net tussen wettig en onwettig nie.

Dis die ANC. Die buitersparty wat webtuistes, melk, asbesdakke en beskermende drag in elite-geld omskep.

Sy kaders steel skaamteloos en kyk dan verontskuldigend rond wie steel so.

Daar is geen salf te smeer nie.

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Regering  |  Korrupsie  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.