Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
ANC nie groter as die land nie

Die ANC hou baie van herdenkings. Vanjaar vier die party byvoorbeeld die 100ste geboortejaar van Oliver Tambo.

Henry Jeffreys

Sy eeufeesjaar is die tema van ’n jaar lange program wat sy deugde besing met die doel om hom as ’n voorbeeld van ware leierskap voor te hou.

Suid-Afrikaners weet nie baie van Tambo nie. Hy was president van die ANC in ballingskap terwyl oudpres. Nelson Mandela en ander soos Walter Sisulu en Ahmed Kathrada in die tronk was. Die ANC se sukses om die apartheidsregime internasionaal te isoleer en tot ’n val te bring, word grootliks aan Tambo toegeskryf.

Hy was ’n mentor vir onder andere oudpres. Thabo Mbeki en pres. Jacob Zuma. Ons kan maar net raai wat Tambo van Zuma se huidige politieke en ander vergrype sou maak.

Van Zuma gepraat. Dit is vanjaar tien jaar gelede dat hy die ANC-troon in Polokwane bestyg het (dit is opvallend dat niemand Zuma se dekade aan die bewind herdenk nie . . . ).

Zuma het die mag oorgeneem danksy mense wat vandag as sy aartsvyande beskou word. Mense soos Julius Malema, oudleier van die ANC-jeugliga, Zwelinzima Vavi, uitgeskopte hoofse- k­retaris van Cosatu, en Blade Nzimande, hoofsekretaris van die SAKP en ­minister in Zuma se kabinet.

Van die drie het Malema en Vavi as Zuma se vurigste teenstanders ontwaak. Malema is op Zuma se aandrang uit die ANC geskop en het sy eie politieke party gestig, wat reeds sy stempel afgedruk het.

Vavi het ook intussen die hoofsekretaris geword van ’n nuwe vakverbond, die Suid-Afrikaanse Federasie van Vakbonde (Saftu), wat openlik daarop uit is om lede van Cosatu af te rokkel.

Ongelukkig sleep Malema se ondemokratiese onderrok nie ver van die grond af nie.

In die tien jaar sedert Zuma se skouspelagtige opkoms, is die politieke landskap heeltemal anders.

Zuma se destydse bondgenote het hom soos rotte op ’n sinkende skip verlaat, en hy het nuwe, meer sinistere bondgenote, die Gupta-broers, nader gehark.

Die Sunday Times het Malema die naweek selfs voorgehou as ’n toekomstige president, dalk al in 2019 (ai tog, onthou net om versigtig te wees waarvoor jy wens!).

Malema het wel bepaalde talente wat goed pas by die politiek. Hy is by uitstek ’n opstoker wat weet hoe om die populisme in mense aan te wakker en in te span om sy doelwit te bereik. Hy het dit tien jaar gelede uitstekend in Polokwane gedoen.

Ongelukkig sleep sy ondemokratiese onderrok nie ver van die grond af nie. Hy is nie bloot net die “leier van die EFF” nie, hy is die opperbevelvoerder!

Ek moet sê, die Malema wat ’n mens deesdae oor die radio hoor of op televisie sien en oor lees in die koerante, klink na ’n heel besadigde, rasionele en denkende mens. Maar wees versigtig vir die slangolieverkoopsman!

Die probleem met Polokwane was dat niemand daar opgedaag het met die toekoms van die land in gedagte nie.

As dit so was, sou ons nie nou met Zuma gesit het nie. Dít sal as faktor net so belangrik wees vir die ANC se verkiesingskonferensie in Desember.

Die dapper dog beleërde ANC-LP Makhosi Khoza het dit mooi verwoord: “Ek is baie lief vir die ANC,” het sy verlede week gesê, “maar ek is passievol oor die land.” Inderdaad, kaders.

Die land is groter as die ANC. Dit is wat afgevaardigdes na die verkiesingskonferensie moet onthou.

’n Mens kan verstaan waarom so baie mense reken ons demokrasie is in ’n krisis. Dit is waarin Zuma ons gedompel het. Die ANC moet ons daaruit red en voorkom dat ons ooit weer in so ’n situasie beland.

Die foute van Polokwane mag nie herhaal word nie.

Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Anc  |  Oliver Tambo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.