Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
ANC-prinse is nie te vertrou

Daardie gesegde van moenie op prinse vertrou nie, maar haak eerder jou ster aan ’n wa, bly maar ’n ware sêding.

Wat bedoel word, is dat mense nie hul hoop op mense moet plaas nie, maar eerder op ’n organisasie of ’n instelling.

Die afgelope week is dr. Zweli Mkhize op spesiale verlof geplaas deur pres. Cyril Ramaphosa nadat hy in die oog van ’n tenderskandaal beland het.

Mkhize, wat definitief presidentsmateriaal is, se ster het geval – dit nadat hy aan die begin van die koronaviruspandemie geprys is as die regering se fakkeldraer en wat sober gebly het toe paniek losgebars het.

Hy het topwetenskaplikes om hom vergader en was in die voorste linie om hierdie doodsgevaarlike pandemie hok te slaan. Hy was die man van die oomblik en sy politieke aandele het deur die dak geskiet. Hier was nou ’n politikus waarop mens kon reken. Hoe verkeerd was ons nie.

Hoewel die jurie nog moet besluit of hy skuldig of onskuldig is aan die ANC se ou siekte van bedrog, het te veel modder op hom gespat.

Hoewel die jurie nog moet besluit of hy skuldig of onskuldig is aan die ANC se ou siekte van bedrog, het te veel modder op hom gespat. Wat ook al die uitslag, sy presidensiële ambisies is na die maan.

Met die skryf hiervan is dit nog onduidelik wat presies Mkhize se lot gaan wees.

Suid-Afrika is ’n baie vergewende nasie, maar daar is een ding wat Suid-Afrikaners se bloeddruk deur die dak laat skiet, en dit is die grootskaalse bedrog deur politici.

Die ANC het nie ’n kuur vir korrupsie nie en as hulle ooit ’n kuur daarteen wou ontwikkel, is daar steeds ANC-pasiënte wat weier om ingeënt te word. Nie dat hulle bang is nie, maar omdat die ANC-boewe nie sonder korrupsie kan floreer nie.

Weens die pas waarteen hierdie land besteel word deur Ramaphosa se ANC, hang die wolke van mismoedigheid swaar in die lug. Die winter van misnoegdheid, aangebring deur die ANC se bloedige binnegevegte, help ook om die vuur te stook.

Ook is daar nou weer twee sentrums van mag: die radikale ekonomiese skurke aan die een kant en Ramaphosa aan die ander. Net soos in die dae van Thabo Mbeki en Jacob Zuma.

Ramaphosa het goeie bedoelings om die ANC te hervorm, maar met elke minister wat uitgevang word dat sy hand in die koekieblik was, jaag hy daardie mense in die Ace Magashule-kamp.

Ramaphosa het goeie bedoelings om die ANC te hervorm, maar met elke minister wat uitgevang word dat sy hand in die koekieblik was, jaag hy daardie mense in die Ace Magashule-kamp. Die Ace-kamp is niks anders as ’n konglomeraat van korruptes nie. Hoe meer korruptes in sy kamp, hoe sterker word die teenstand teen Ramaphosa.

’n Mens wil nou nie spoke opjaag nie, maar jy het al hierdie fliek gesien. Ramaphosa mag dalk nog ’n termyn kry as ANC-president, maar een of ander tyd gaan hy uitgeskouer word en sy eens trotse politieke loopbaan kan in ’n makabere, openbare sterwensritueel eindig.

Tye is troebel en die mense is desperaat. Ramaphosa lyk na die man vir die volgende vyf jaar. En die menslike gees is geprogrammeer vir hoop. In ’n land wat strompel, kan jy nie te uitsoekerig wees oor “redders” nie.

Die regerende party is ook deesdae soos wat Winston Churchill van Rusland gesê het: “. . . a riddle wrapped in a mystery inside an enigma . . .”

Net soos ’n mens dink jy verstaan hoe die ANC se kop werk, gooi die ANC hulself onder die bus in.

Ramaphosa probeer werklik hard om die sklerose van die Zuma-era uit te roei, maar sy nuwe binnekring van witbroodjies laat ook nog veel te wense oor. Daar is mense in sy kabinet wat glad nie daar hoort nie en hoekom hy nie sy kabinet kan verklein nie, gaan die verstand te bowe.

  • Maarman is eindredakteur van Die Burger.
Meer oor:  Johann Maarman  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.