Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
ANC roekeloos vir nog stemme
Alida Kok

Om met ’n nasionale gehoor te kommunikeer – soos wat pres. Cyril Ramaphosa Dinsdagaand in ’n TV-uitsending gemaak het toe hy ná die ANC-lekgotla ’n aankondiging oor grondonteiening sonder vergoeding gedoen het – is een stuk gereedskap in die ANC se politieke kommunikasiegereedskapstas in die aanloop tot volgende jaar se algemene verkiesing.

As lede van die nasionale gehoor wat toegespreek is, moet ons mooi luister wat die moontlike kommunikasiestrategie van die ANC is.

Rapport het twee weke gelede verslag gedoen oor ’n ANC-dokument wat voorgelê is op die party se nasionale organiseringswerksessie in Julie. Daarvolgens loop die ANC die risiko om minder as 50% van die stemme in 2019 te werf, asook om beheer oor sommige provinsies te verloor.

Gevolglik beplan die party ’n veldtog wat tot Mei 2019 sal duur – die maand waarin die algemene verkiesing na verwagting sal plaasvind – om interne bekommernisse oor die voorspelde stemverliese te pak.

Dinsdagaand se aankondiging dat die ANC deur ’n parlementêre proses ’n voorgestelde wysiging van die Grondwet vir onteiening sonder vergoeding sal finaliseer, help die party om geldige kommer oor stemverliese aan te pak.

In dié sittings het mense meestal op emosionele wyse gepraat oor die “wit diefstal van grond”,

Eerstens is die aankondiging voor die begin van die openbare sittings oor onteiening sonder vergoeding in die Wes-Kaap gemaak. Dié sittings het eers gister begin.

Openbare sittings het reeds in al die provinsies, behalwe in die DA se Wes-Kaap, plaasgevind. In dié sittings het mense meestal op emosionele wyse gepraat oor die “wit diefstal van grond”.

Daar is ’n kans dat die Wes-Kaapse narratief anders gaan klink en nie so ontvanklik gaan wees vir onteiening sonder vergoeding nie.

Die ANC se aankondiging dat die wysiging van die Grondwet in die parlement voortgaan, “vries” die narratief oor onteiening en verhoed dat ’n moontlik ander stem uit die Wes-Kaap die diskoers hieroor omverwerp.

Om hierdie twee kwessies saam te groepeer, is slim van die ANC.

Tweedens het Ramaphosa genoem dit is vir die ANC belangrik om nou ’n standpunt oor te dra rakende “twee sake wat kritiek is vir die ekonomiese ontwikkeling van ons land en die welvaart van sy mense”. Dié sake is die deurvoering van die ANC se resolusie oor grondhervorming en die land se ekonomiese toestand.

Om hierdie twee kwessies saam te groepeer, is slim van die ANC.

Sonder om die dringende belang van grondhervorming af te skiet, dink ek dit is belangrik om te noem dat die onderontwikkeling van ons ekonomie ’n primêre probleem is, en grondhervorming ’n sekondêre probleem.

Dit gebeur telkemale dat ’n politieke rolspeler ’n sekondêre probleem in ’n diskoers skep en aanvuur (in dié geval grondhervorming), want dit is makliker om dan die idee by mense te skep dat probleme wat hulle raak, aangepak en opgelos word. ’n Sekondêre probleem word aangevuur, want dit is moeilik om ’n primêre probleem aan te pak (in hierdie geval die ekonomie).

In die ANC-veldtog om te verseker dat sy steun in volgende jaar se verkiesing nie daal nie, is dit belangrik dat die party nou reeds die narratief oor die mees gelaaide politieke vraagstuk in sy guns draai, want daar gaan nie direk voor die verkiesing tyd hiervoor wees nie.

Grondonteiening sonder vergoeding verteenwoordig ’n tipe apokalips in ons politieke landskap, en vir die ANC om “chicken” hiermee te speel, is roekeloos. Dit wys dat die regerende party weer eens bereid is om ons basiese ekonomiese ontwikkeling op die spel te plaas vir sy eie versterking.

Kok is ’n dosent in politieke wetenskap aan Unisa.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Alida Kok  |  Verkiesing  |  Stemme  |  Grondwet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.