Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
ANC, ruk jouself reg voor 2021 . . .
Judith February
Judith February.

Die kiesers het gepraat – en die boodskap aan die ANC is duidelik: Nog net één kans. Maak die ANC skoon of jy gaan verder gestraf word.

Vir Cyril Ramaphosa is die ANC se 57,51% genoeg om sy posisie te verseker, ofskoon hy steeds met groot verdeeldheid binne sy party te doen het.Dit ly geen twyfel nie dat hy die agteruitgang van die ANC gerem het. Onder Jacob Zuma het die ANC gesteier met 53% van die stemme in 2016 se munisipale verkiesings. Korrupsie, staatskaping en ondoeltreffendheid het alles ’n bydrae tot dié treurige uitslag gemaak.

Vanjaar se uitslag is ’n ernstige wekroep vir die ANC om sy werf voor 2021 se munisipale verkiesing skoon te vee. Selfs die korrupte deel van die party wat teen hervorming gekant is, moet dit in die aangesig van die agteruitgang van die ANC en die voorwaardelike mandaat van kiesers besef.

Die vroeë toets sal wees wie Rama­phosa by sy kabinet insluit en hoe groot dié kabinet sal wees. ’n Kleiner kabinet en minder vermorsing sal baie bydra om ’n duidelike standpunt oor die vergrype van die Zuma-jare te stel.

Die DA sal teleurgesteld wees in sy eie vertoning, en daar word reeds oor Mmusi Maimane se leierskap gefluister. Hy is ’n eerbare man, maar hy was nie sterk genoeg om sy party bymekaar te hou nie. Die DA se verkiesingsveldtog was maar floutjies en het veroorsaak dat ’n deel van sy ondersteunersbasis na die VF Plus geskuif het.

Die EFF behoort baie tevrede met sy vertoning te wees. Maar sy 10,79% van die stem toon wel dat kiesers nie ’n oorweldigende geesdrif vir populistiese politiek het nie. Tans sit 77% van die bevolking (ANC en DA kiesers) stewig in die middel.

Toekomstige neigings kan uiteraard interessant wees. Dit sluit die moontlikheid in dat jonger kiesers wat nie geregistreer het nie, of nie gestem het nie, na die EFF kan oorhel. Die tyd sal leer, want die kieserskorps het getoon dat dit ’n samestelling van lojale, apatiese én vloeibare kiesers is.

Ons demokrasie is besig om wasdom te bereik waar die gemiddelde kieser toenemend “mobiel” en miljoene kiesers ook apaties is (soos die beduidende lae stempersentasie aandui).

Buiten die bekendmaking van uitslae was daar ook drama aan die rand van die OVK se nasionale uitslagsentrum.

Dit is bisar dat mense soos Bantu Holomisa van die UDM beweer dat die verkiesing vooraf bekook is. Hy behoort van beter te weet as om so ’n onverantwoordelike stelling te maak.

Vyftien klein partye het gekla dat die verkiesing nie “vry en regverdig” was nie. Maar ’n mens moes tot die gevolgtrekking kom dat dit ’n ontwrigtende poging was om relevant te probeer wees, hoewel daar wel bewerings is van mense wat meer as een keer gestem het, en meer as 20 verdagtes hieroor in hegtenis geneem is.

Ons is deel van ’n grondwetlike demokrasie en die OVK is ’n onafhanklike hoofstuk 9-instelling, wat as sodanig beskerm word. Te midde van wilde kritiek op sosiale media het die OVK sy eie prosedures kalm bly volg.

Dit is bisar dat mense soos Bantu Holomisa van die UDM beweer dat die verkiesing vooraf bekook is. Hy behoort van beter te weet as om so ’n onverantwoordelike stelling te maak.

Geen verkiesing ter wêreld is volmaak nie. Dit is wel duidelik dat die OVK voor uitdagings te staan gekom het weens die verlies aan institusionele geheue en ’n kleiner begroting.

Daar sal besin moet word oor hoe ’n puik instelling soos die OVK in die toekoms beskerm gaan word om uiteindelik die integriteit van elke stem te verseker. ’n Beter toewys van hulpbronne voor 2021 se verkiesing en ’n groter fokus op elektroniese stelsels kan baie hiertoe bydra.

Suid-Afrika het nogtans weer ’n “vry en regverdige” verkiesing gehad. Soms het dit woes gegaan, maar uiteindelik het die wil van die kiesers geseëvier. Ons kan behoorlik trots wees daarop.

Meer oor:  Judith February  |  Verkiesing 2019  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.