Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
ANC sal self sy lot in ’19 bepaal

’n Onlangse peiling oor politieke partye se steun toon die ANC kan, teen die algemene verwagting in, ná die 2019-verkiesing steeds aan die bewind wees.

Ofskoon die Ipsos-peiling toon die ANC se steun sal tot 47% val sou ’n verkiesing vandag gehou word, wys dit ook die twee hoof-opposisiepartye, die DA en die EFF, kan moontlik gesamentlik ten beste ’n onbenullige 30% van die stemme trek.

Die DA, wat in die 2014-verkiesing 22,23% van die stemme verwerf het, se steun het tot 21% gedaal en dié van die EFF van 6,35% in 2014 tot 5%.

Ipsos se voorspellings oor stemtendense is gewoonlik in die kol. Verlede jaar is korrek voorspel die ANC sou Johannesburg, Tshwane en Nelson Mandelabaai afstaan.

Die rede hoekom die huidige peiling nie presies in die kol is nie, is die sowat 24% besluitelose respondente. Die verkiesing is nog ver weg, en in die verlede was die neiging dat die onbesliste groep kleiner raak namate verkiesings nader kom en mense gedwing word om ’n besluit te neem.

Al toon die peiling ’n reusedaling in ANC-steun – van 62% tot 47% – is dit nie heeltemal onverwags nie. Die regering onder pres. Jacob Zuma is taamlik swak en dit is geen verrassing dat stemgeregtigdes dit verwerp nie.

Myns insiens maak historiese ANC-kiesers die grootste deel van die onbesliste groep van 24% uit. Daar is ’n kans dat hulle na die ANC sal terugkeer. Die ANC sal hulle waarskynlik met ’n pasgemaakte boodskap teiken: “Ons stem met julle saam dat ons ’n swak president gehad het, maar as julle nie vir die ANC stem nie, maak julle ’n 105 jaar oue beweging dood, pleks van om Zuma te straf.”

Ofskoon die jongste peiling die ANC sal ontstel, sal die DA en EFF se gebrekkige groei sedert die laaste verkiesing hom gerusstel.

Al toon die peiling ’n reusedaling in ANC-steun – van 62% tot 47% – is dit nie heeltemal onverwags nie.

Selfs al groei die DA en die EFF se steunbasis, is die vraag hoeveel van daardie groei die ANC se oorheersing sal bedreig.

Volgens my ontleding sal die ANC steeds ’n koalisie met een van die kleiner partye kan vorm sou sy steun in 2019 tot effe onder 50% daal.

Sulke partye sluit in die IVP, met kiesersteun van tussen 2% en 3%, die ACDP en die AIC. Laasgenoemde regeer tans in ’n koalisie met die ANC in Ekurhuleni, waar die ANC se steun in verlede jaar se plaaslike verkiesing tot onder 50% gedaal het.

Wat wel kan gebeur, is dat die ANC nog provinsies aan die opposisie kan afstaan. Volgens die peiling is sy steun tans in vier provinsies – Gauteng, die Oos-Kaap, die Noord-Kaap en Limpopo – onder 50%. Die DA bly dominant in die Wes-Kaap, met geprojekteerde steun van 47%.

Maar al is die peiling insiggewend en ’n goeie aanwyser, hang baie ook van gebeure in die volgende twee jaar af. Die DA weet sy beeld is sy grootste probleem: Hy kan nie twiets van leiers bekostig wat kolonialisme regverdig nie. Die EFF moet ontslae raak van die beeld van ’n woedende, radikale party wat te onvolwasse is om die mag te bekom.

In die algemeen sal die ANC self bepaal hoeveel steun hy verloor, en sy Desember-konferensie is in hierdie verband belangrik. Die party weet teen dié tyd sy agteruitgang sal versnel as hy dr. Nkosazana Dlamini-Zuma as president sou verkies.

Die alternatief is dat die groot verdeeldheid in die ANC meebring dat die Desember-konferensie uitgestel word. Dit sal ook sleg vir die party wees, want kiesers beloon nie ba­kleien­de leiers nie. Maar die oorlog woed voort.

Dié is baie interessante politieke tye.

  • Rapule Tabane is politieke redakteur van City Press.
Meer oor:  Rapule Tabane  |  Verkiesing  |  Menings  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.