Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
ANC se idee van ‘transformasie’

Twee weke gelede het ’n geheime opname van die ANC-topses se vergadering met oudpres. Jacob Zuma aan die lig gekom.

Willie Spies

Terwyl die land in spanning sit en wag het (en selfs deur die media wysgemaak is) dat die topses Zuma wou oortuig om die konstitusionele demokrasie te eerbiedig en hom te steur aan die Zondo-kommissie se dagvaarding om voor die kommissie te verskyn, het die opname van die gesprek ’n totaal ander prentjie geskets.

Jessie Duarte, die ANC se adjunk-sekretaris-generaal, het haar spreekbeurt gebruik om onder meer saam met Zuma te kla oor hoofregter Mogoeng Mogoeng se uitgesproke Christelike oortuigings en die onvanpastheid daarvan in Suid-Afrika as ’n sekulêre staat.

Sy het verder gegaan en gesê die top-ses van die ANC behoort dit te oorweeg of die transformasie van die regbank werklik plaasgevind het en gevra waarom is dit wanneer hulle (die ANC of die staat) na die hooggeregshof in Pretoria gaan, hulle weet hulle gaan verloor.

Daarna het sy gekla dat dit byna ’n gegewe is dat hulle ’n saak voor regter Dunstan Mlambo, regter-president van Gauteng, sal verloor, maar dit is ook ’n gegewe dat die regering telkens beter doen in ’n saak voor regter John Hlo­phe, regter-president van die Wes-Kaap.

Duarte, en daarmee ook die volle topstruktuur van die ANC, onthul met hierdie uitlatings twee wesenlik belangrike dwalings wat in die siel van die ANC leef.

Duarte, en daarmee ook die volle topstruktuur van die ANC, onthul met hierdie uitlatings twee wesenlik belangrike dwalings wat in die siel van die ANC leef.

Eerstens, dat ’n getransformeerde regbank vir die ANC ’n regbank is wat die ANC dienstig is en traag is om uitsprake teen die regering te lewer. Dít is ’n bitter gevaarlike sentiment.

Dit onderstreep die wese van die huidige spanning in die ANC. Wanneer ’n hof hom uitspreek teen korrupsie of plundering van die staatskas of wanneer ’n irrasionele besluit van ’n staatsamptenaar of minister suksesvol op hersiening geneem word, is dit aanduidend van die “ongetransformeerde aard” van die hof eerder as van ’n fout aan die regering se kant.

Tweedens openbaar Duarte haar onkunde oor waarom die staat gewoonlik na die hof in Pretoria gesleep word en juis dáár slae kry.

Pretoria, as hoofstad van die land, is die setel van die uitvoerende gesag. Die hoofkantore van elke nasionale staatsdepartement is in Pretoria en wanneer enige nasionale departement of nasionale minister in die hof gedaag word, is die hooggeregshof in Pretoria by verstek die aangewese hof wat jurisdiksie oor die sake het.

Die Gautengse afdeling van die hooggeregshof, in Pretoria en in Johannesburg, is ook verreweg die besigste howe in die land, met meer as 60% van alle hooggeregshof-litigasie wat daar gevoer word. Dit spreek dus vanself dat litigasie teen die staat in Pretoria gevoer gaan word en dat daar ’n groot volume uitsprake, sowel teen as vir die staat, uit die hof in Pretoria gaan kom.

Nogtans het die Regterlike Diens­kommissie (RDK) verlede week regter Aubrey Ledwaba gekasty oor sy rol in die “ongetransformeerde” hof in Pretoria en hom oor die hoof gesien vir bevordering.

Interessant genoeg is dit nie die eerste keer dat ’n topampsdraer van die ANC dié sentiment uitspreek nie.

Ses jaar gelede het Gwede Mantashe, destydse sekretaris-generaal van die ANC, dieselfde oor die hof in Pretoria gesê. Al verskil is dat hy destyds die howe­ in Pretoria én in Kaapstad as “problematies” bestempel het.

Ná ses jaar waarin Hlophe die hooggeregshof in Kaapstad kon “transformeer” terwyl daar ’n swaard oor sy kop hang, is Duarte en die ANC nou skynbaar meer tevrede.

  • Spies is ’n prokureur by Hurter Spies Ing. en voorsitter van Pretoria FM.
Meer oor:  Willie Spies  |  Jessie Duarte  |  Topses  |  Opnames  |  Transformasie  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.