Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
ANC se leuens gaan hom eindelik inhaal

“All political parties die at last of swallowing their own lies”, het John Arbuthnot, ’n Skotse satirikus, reeds in 1700 geskryf.

Is dit wat by die ANC gebeur? Is die ANC ’n party wat stadig sy einde bereik omdat sy leiers hul eie leuens glo?

’n Koerant het dit hierdie week goed saamgevat. Die hooffoto was van die ANC-topses wat by die 108ste verjaarsdagviering sjampanje drink, ’n koek sny en mekaar jubelend gelukwens met die ANC se prestasies. Op dieselfde blad was die hoofopskrif oor Eskom wat ’n nuwe twyfelagtige “rekord” gebreek het: Eskom het die minste krag nog kon opwek.

Dr. Pieter Mulder

Wat is leuens en wat is waarheid oor Eskom en wat glo die ANC-leiers en -volgelinge?

Ná fase 6-beurtkrag het pres. Cyril Ramaphosa verduidelik dit is deur “sabotasie” en “nat steenkool” veroorsaak. Kort daarna weerspreek Eskom die president: Dit was kragstasies wat skielik breek omdat hulle vir 12 jaar nie in stand gehou is nie. Daarna hoor ons by Eskom se Jan Oberholzer dat staatskaping die probleem is. Hy werk saam met die spesiale ondersoekeenheid om korrupsie uit te roei. Maar hierdie week voer Eskom in die hof aan sy finansiële en kragprobleme is deur Nersa veroorsaak omdat dié nie voldoende kragtariefverhogings toegestaan het nie.

Intussen wil Telkom 3 000 werkers afdank en Massmart 1 400. Dit met ’n werkloosheidskoers van 29% – die hoogste in ’n dekade.

By die ANC-vieringe troos Ramaphosa die massa: Eskom gaan nie geprivatiseer word nie. “Ek het geen twyfel dat ons Eskom kan herstel nie,” voeg hy by. Daarmee is almal tevrede.

Soos alle leiers wil Ramaphosa suksesvol wees. Om in hierdie tyd suksesvol te wees, moet hy die ekonomiese groeikoers lig om nuwe werkgeleenthede te skep. Dit kan die ekonomie uit die dodelike spiraalduik red. Om die ekonomie te red, moet hy Eskom red. Om dit te doen, moet Eskom verdeel en private opwekking en hulp aanvaar word.

Die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) vergader hierdie naweek om besluite oor hierdie sake te neem. In die NUK is daar drie groepe. Die naïewe lede wat die ANC se Eskom-leuens glo en weier om die erns van die Eskom-situasie te aanvaar. Dan is daar die bekommerde realiste soos Tito Mboweni, Pravin Gordhan en hopelik Ramaphosa wat die erns besef. Die derde groep het ’n verskuilde agenda. Hulle wil Eskom gebruik om Ramaphosa te verswak en uiteindelik só van hom ontslae te raak.

Gaan die NUK die regte besluite neem of weer eens die probleme ontduik ter wille van ’n “kunsmatige” ANC-eenheid?

Besef die leiers dat die bakleiery tussen die faksies die ANC reeds intern geskeur het? Het die leiers die dalende getalle en entoesiasme by die Kimberley-viering raakgesien? Ramaphosa se stelling “die Noord-Kaap is lief vir die ANC”, het byna geen applous gekry nie. Die grootste applous was vir Zozibini Tunzi se Mejuffrou Heelal-kroon en vir die Bokke wat die Wêreldbeker gewen het. Dit is alles tekens van ’n party in sy laaste fases, al gaan dit ’n lang, uitgerekte affêre word soos die NP se pynlike einde.

Deur nou die verkeerde besluite te neem en mekaar met leuens te troos, gaan die ANC Arbuthnot korrek bewys: “All political parties die at last of swallowing their own lies”.

Meer oor:  Leiers  |  Anc  |  Meningsberig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.