Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
ANC se lys: Hoekom swyg Cyril?

Indien daar nog enige twyfel oor die ANC se erns met morele waardes en etiek was, het die aankondiging van sy parlementêre kandidatelys die teendeel bevestig, skryf Pieter Labuschagne.

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, by die kantore van die Onafhanklike Verkiesingskommisie nadat hy die ANC se kandidatelys oorhandig het. Foto: Deaan Vivier

Dit is duidelik uit die samestelling van die kandidatelys dat solidariteit en partybelange swaarder as die strewe na aanvaarbare vlakke van moraliteit en etiek weeg.

Die insluiting van hoogs omstrede politici op die ANC se parlementêre kandidatelys, soos Nomvula Mokonyane, Mosebenzi Zwane, Malusi Gigaba en Bathabile Dlamini, dien as bevestiging dat dié party onteenseglik sy morele kompas verloor het.

Dié vier politici is die afgelope paar jaar herhaaldelik as onbevoeg en immoreel bevind en word ook met beweerde staatskaping verbind. Die insluiting van dié kaders op die lys bewys onteenseglik dat die ANC-party steeds nie hoë morele standaarde van sy ampsdraers vereis nie.

Die sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule, het ná die aankondiging van die kandidatelys die besluit om die vier omstrede politici te lys geregverdig. Hy het aan joernaliste gesê dat nie een van die vier iets verkeerd gedoen het nie, en dat geen strafregtelike klagtes in die hof teen hulle bewys is nie. Daar is dus geen legitieme rede om hulle van die kandidatelys te verwyder nie.

Die ANC se maatstaf om die ongeskiktheid van kandidate op die kandidatelys te bepaal is dus op regsgronde, naamlik skuldigbevinding in ’n hof.

Pieter LabuschagneFoto: Sarel van der Walt

Morele fakkeldraers

Die Grondwet stel die minimum standaarde wat geld om ’n lid van die wetgewende vergadering te word. Die vereistes word in artikel 47 (1) – 47 (4) uiteengesit – wat in werklikheid net die stel van minimum standaarde is. Artikel 1 (c) bepaal dat die kandidaat nie onrehabiliteerbaar insolvent mag wees nie en (d) vereis dat die kandidaat nie voorheen deur ’n hof as geestesversteurd verklaar is nie en (e) bepaal dat die voorgenome kandidaat nie voorheen aan ’n strafregtelike oortreding skuldig bevind is nie en tot 12 maande gevangenisstraf, sonder ’n keuse van ’n boete gevonnis is nie.

Die lede van die wetgewende vergadering is veronderstel om as morele fakkeldraers en as toonbeelde van onberispelike morele gedrag te dien.

Die ANC se standaard vir die insluiting van lede op die kandidatelys is dus in ooreenstemming met die minimum standaarde wat in die Grondwet gestel word.

Die openbare verwagting is dat ampsdraers ook op morele en etiese gronde geselekteer behoort te word. Die standaarde moet verkieslik veel hoër as net ’n legalistiese vereiste wees. Die lede van die wetgewende vergadering is veronderstel om as morele fakkeldraers en as toonbeelde van onberispelike morele gedrag te dien. Die skepping van ’n regverdige en morele samelewing vereis hoë morele waardes van sy leiers.

Malusi Gigaba se immorele persoonlike lewe het verlede jaar die koerante gehaal en sy verbintenisse met die omstrede Guptas is welbekend.Foto: Siyasanga Mbambani

Gulsige politici

Die aanbreek van die nuwe demokratiese daeraad ná die immorele apartheidsregime in Suid-Afrika het gepaardgegaan met die aanvaarding van die 1993 (interim) en die 1996 grondwette. Die aanvaarding van ’n oppermagtige grondwet het die beginsels en waardes van grondwetlikheid in die politieke stelsel gevestig. Die konstitusionele omwenteling wat plaasgevind het, was gelykstaande aan die implementering van die grondwet in Amerika.

Die Franse diplomaat en politieke wetenskaplike Alexis de Tocqueville beskryf dit as die instrument wat die samelewing op ’n nuwe basis moet rekonstrueer.

Die nuwe oppermagtige grondwet in Suid-Afrika se oogmerk was om demokratiese ideale, waardes en moraliteit in ’n regverdige en billike samelewing te verseker. Die nuwe grondwet is hierin deur die beginsels en waardes van konstitusionalisme gerugsteun, wat ’n sterk fundamentele morele en etiese grondslag bied.

Die morele grondslag van grondwetlikheid is stewig in die leerstellings en beginsels van religieuse tradisies en filosofiese leerstellings van die groot samelewings, asook die inheemse waardes van ubuntu ingebed.

Die apartheidsregime, in teenstelling met die nuwe stel morele en etiese waardes, was eksklusief op die soewereiniteit en wilsuitinge van die parlement gebaseer. Die etiese en morele beginsels en waardes ingebed in grondwetlikheid het geen rol gespeel nie en het tot grootskaalse menseregtevergrype gelei.

In skerp teenstelling vereis die 1996-Grondwet dat alle persone, wat mag binne of namens die staat uitoefen, dié funksie met hoë morele en politieke integriteit moet uitvoer. Die morele grondslag van grondwetlikheid is stewig in die leerstellings en beginsels van religieuse tradisies en filosofiese leerstellings van die groot samelewings, asook die inheemse waardes van ubuntu ingebed.

Die beskouinge van groot leermeesters verskaf ’n morele kompas vir grondwetlikheid, waarbinne ons Grondwet funksioneer en toegepas moet word. Dit sluit die morele beskouinge van Mohandas Gandhi, Martin Luther King, Oliver Tambo, Nelson Mandela en Beyers Naudé in.

Die inherente waardes plaas sterk klem plaas op moraliteit en die geloof dat die hoë morele waardes oor immoraliteit moet seëvier, ten einde ’n regverdige samelewing te verseker.

In die skepping van ’n regverdige samelewing is dit fundamenteel belangrik dat alle openbare handelinge op moraliteit en etiek gebaseer moet word. Dit is in teenstelling met die persoonlike ambisies en gulsigheid van politici, wat roekeloos plunder.

Die morele en etiese waardes moet as die standaard vir die insluiting van kandidate op partylyste geld, eerder as minimalistiese legalistiese vereistes.

Die minister van vrouesake in die presidensie, Bathabile Dlamini, het haar insluiting op die kandidatelys verdedig deur te sê dat dit die wil van die mense (die verskillende takke) is.Foto: Thebogo Letsie

Die probleemgevalle

Die minister van vrouesake in die presidensie, Bathabile Dlamini, het haar insluiting op die kandidatelys verdedig deur te sê dat dit die wil van die mense (die verskillende takke) is. Dlamini vertoon dieselfde onbegrip as die ANC-topbestuur oor die werklike beginsels wat vir kandidatelyste behoort te geld.

Die Konstitusionele hof, in sy rol as die beskermer van die Grondwet, het in 2018 bevind dat Dlamini as minister misluk het om betyds ’n diensverskaffer vir die sosiale toelaes aan te stel. Die hof het ook bevind dat haar handelinge roekeloos nalatig was en dat sy versuim het om eties op te tree.

Sy het misluk om ’n meer regverdige samelewing te skep deur na die hulpbehoewendes in die samelewing om te sien. Die hof het ook die Nasionale Vervolgingsgesag opdrag gegee om klagtes van meineed teen Dlamini te ondersoek, omdat sy onder eed gelieg het.

Dlamini het reeds vanaf 2006 ’n ellelange lys van immorele en onbevoegde gedrag, vanaf die sogenaamde Travelgate-skandaal, toe sy aan bedrog skuldig bevind is. Daar was ook haar verskyning voor die staande komitee oor openbare rekenings (Skoor) oor beweerde onreëlmatighede met sekerheidsopgraderings aan haar huis van meer as R1 miljoen.

Malusi Gigaba se immorele persoonlike lewe het verlede jaar die koerante gehaal en sy verbintenisse met die omstrede Guptas is welbekend. Gigaba se optrede in die Fireblade Aviation-saak in 2017 is as immoreel en skandalig in die hof bevind. Die hooggeregshof in Pretoria het ook bevind dat Gigaba onder eed in die hof gelieg het.

Die persoonlike lewe van Nomvula Mokonyane, minister van omgewingsake, wie se naam op die top-10-lys van die ANC verskyn en dus op die Nasionale Uitvoerende Komitee dien, is hoogs omstrede en sy is al verskeie kere met onreëlmatighede en bedrog verbind. Foto: Morapedi Mashashe

Die persoonlike lewe van Nomvula Mokonyane, die minister van omgewingsake wie se naam op die top-10-lys van die ANC verskyn en dus op die Nasionale Uitvoerende Komitee dien, is ook hoogs omstrede. Mokonyane is herhaaldelik deur die media in die verskeie portefeuljes waarin sy gedien het as ’n onbevoegde minister ontbloot. In getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek is sy reeds verskeie kere met onreëlmatighede en bedrog verbind.

Wat maak Ramaphosa op die kantlyn?

Die samestelling van die ANC se kandidatelyste was ’n gulde geleentheid vir die regerende party onder leierskap van pres. Cyril Ramaphosa om ’n kultuur van moraliteit en hoë etiese standaarde te skep. Die kandidatelys kon potensieel as ’n verdere bewys dien dat die regering opnuut verbind is om korrupsie uit te roei en om hoë standaarde vir sy ampsdraers te stel.

In teenstelling met dié hoë verwagtinge het die ANC se topbestuur besluit om die laagste moontlike standaarde in hul keuse van kandidate toe te pas.

Dit is natuurlik ’n sinlose argument dat “niemand in ’n hof skuldig bevind is nie”.

Twee van die senior lede op die lys, Dlamini en Gigaba, is deur die howe bestempel as leuenaars wat onder eed gelieg het. Indien die ANC respek het vir die Grondwet, soos Magashule beweer, sou dit ook respek vir die morele beginsels van Konstitusionalisme ingesluit het.

Hy moet besef dat hy die immoraliteit en afwesigheid van etiese beginsels stilswyend kondoneer en deur sy eie versuim medepligtig is.

Die omstrede openbare figure wat weer by die kandidatelys ingesluit is, het reeds in die verlede onder eed gesweer dat hulle getrou sal wees aan die Grondwet en dit sal onderhou.

Die betreurenswaardige aspek is Ramaphosa as leier wat herhaaldelik bereid is om stilswyend (soos in die Zuma-era) op die kantlyn te sit. Hy moet besef dat hy die immoraliteit en afwesigheid van etiese beginsels stilswyend kondoneer en deur sy eie versuim medepligtig is.

In die finale analise is een aspek verhewe bo die res, wat nou gedurende die ANC se regime ’n patroon vorm. Die solidariteit en kohesie van die ANC as party word belangriker as die staat geag en selfs hoër as die maatskaplike welstand van die mense.

In dié proses is moraliteit en hoër standaarde ongelukkig die slagoffer.

*Labuschagne is ’n emeritusprofessor aan die departement van politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.