Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
ANC se suikerpil vir bitter koffie

Die ANC-regering het ons nou op terme geplaas: Hulle soek jou (swaarverdiende) pensioen om ons lamlendige ekonomie aan die brand te skop.

Die ANC se omvattende beleidsdokument oor die herstrukturering van die ekonomie meld dat regulasie 28 van die Wet op Pensioenfondse gewysig moet word om finansiering vir infrastruktuurprojekte te kry; dat die Reserwebank volkome in besit van die staat moet wees; en dat grondhervorming op ’n groter skaal moet plaasvind.

Daar word verwys na nuwe beleggings in energie, water, paaie, huise, digitale infrastruktuur en openbare vervoer.

En, soos ons die ANC ken, gooi hulle ’n suikerpilletjie in die bitter koffie. In ’n vrywaringskennisgewing kondig Enoch Godongwana, hoof van die subkomitee oor ekonomiese transformasie van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK), aan dat pensioenfondse nie gedwing sal word om in infrastruktuurprojekte te belê nie.

Maar (en dis ’n groot maar) pensioenfondse wat darem handjie gaan bysit, kry ’n aansporing.

En wat van die pensioenfondse wat vir hulle sê gaan blaas doppies? Sal hulle dan nou geteer en geveer word as vyande van die staat wat nie ’n duit omgee vir die “nuwe ekonomie” nie?

Ons is nou al gewoond daaraan dat die ANC-tsaars nie vertrou kan word met belastingbetalersgeld nie. Ons het teksboek-voorbeelde van hoe kaders staatsgeld misbruik het om hulle koffers te vul deur tenders te beknoei.

Die land se werkloosheidsyfers is ook besig om deur die dak te skiet. Met die Covid-19-pandemie word dit net al hoe erger. Meer mense gaan nou sonder ’n inkomste sit en dit beteken dat ál hoe meer nou in die welsynstoue gaan staan. Ons is reeds ’n welsynstaat en dié wat darem nog hand aan die ploeg kan slaan, is die mense – veral die middelklas – wat die swaarste getref gaan word.

Die land belas al die middelklas uit sy skoene en sokkies.

Die land belas al die middelklas uit sy skoene en sokkies. Sonder ’n geleerde of professionele definisie bestaan die middelklas uit mense wat vir hulself sorg, met van ’n laer tot redelik hoër inkomste. Hulle behoort nie tot die Porsche-Armani-kaviaar-kliek nie, word nie by sosiale geleenthede gekiek nie, betaal vir hul huis – hoewel dit dikwels wroeg – en werk vir hul geld.

Hulle het sekere waardes en trots, al kry hulle dit net-net reg om hul eie begroting te laat klop. Slaag hulle nie altyd nie, hou hulle op ’n manier kop bo water deur hier te sny en daar te laat. Partykeer is daar iets vir ’n luuksetjie in die bonusmaand.

Dis dié mense wie se pensioen die regering in die visier het as hy vra dat hul pensioengeld gebruik moet word vir regeringsprojekte soos waar jy 100 bromponies aankoop vir R10 miljoen in die geveg teen die koronavirus.

Met groot fanfare het hy die bromponies voorgehou as die Oos-Kaap se blink teen ’n wêreldwye pandemie. Dieselfde minister van gesondheid wat so gehoera het oor die bromponies, is nou die eerste wat ’n U-draai gemaak het. R10 miljoen in sy peetjie.

As daar ’n pizza-maatskappy is wat ’n los gelukkie soek, hier is nou hul kans. My spesmaas is dat die bromponies verspot goedkoop op ’n veiling sal gaan.

Verwag die regering ook dat mense se pensioengeld op patetiese regeringskemas gemors word? Hoeveel keer lees ons van skelms wat in die een of ander munisipaliteit ons belastinggeld verdoesel het? Moet ons pensioengeld ook gebruik word om mankolieke staatsentiteite soos die SAL te help waarvan die herstelplanne soos mieliepitte op ’n sementvloer uitmekaar spat?

Notte dêm, sal ek sê.

Maarman is eindredakteur van Die Burger.

Meer oor:  Johann Maarman  |  Korrupsie  |  Anc  |  Tenders  |  Koffie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.