SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Menings
'ANC se taktiek ontplof dalk in 2019 in sy gesig'

Die ANC moet oppas dat sy vertragingstaktiek in die Tshwane-metroraad in Pretoria nie met die volgende nasionale en provinsiale verkiesing in 2019 in sy gesig ontplof nie, skryf Sarel van der Walt.

Sarel van der Walt

“Op ’n punt van orde.”

Die ANC het onder meer dié paar woorde die afgelope paar maande sedert die DA die beheer in die Tshwane-metroraad in Pretoria oorgeneem het, doeltreffend ingespan om elke raadsvergadering te ontwrig.

Madam speaker, madam speaker, op ’n punt van orde! Op ’n punt van orde!” het op die laaste paar vergaderings in die raadsaal van die Sammy Marks-konferensiesentrum opgeklink.

Tot vervelens toe.

Sommiges het dit op die laaste vergadering getel en gesê die ANC-lede het dit meer as 300 keer gebruik.

Madam speaker, madam speaker, erken jy my nie? Madam speaker?”

Die ANC se ontwrigtingstaktiek werk, want elke vergadering beweeg met ’n pynlike slakkegang.

Die gevaar bestaan egter dat dié taktiek die party op die lange duur aan die hakskeen gaan byt.

Die kiesers kan begin dink die ANC breek net af terwyl hulle (die kiesers) na beter dienslewering en beter ekonomiese toestande smag.

Het die ANC in Gauteng dan nie uit die lesse van vanjaar se munisipale verkiesings op 3 Augustus geleer nie?

Die indruk wat ’n mens kry, is dat die ANC nie presies weet wat sy rol as ’n opposisieparty is nie. Hy weet ook nie hoe om ’n konstruktiewe rol te speel nie.

Dit lyk of dié bevrydingsparty nie kan aanvaar dat die kiesers hulle op 3 Augustus bloedneus gegee het nie.

Hulle tree op soos ’n klomp suurknolle wat kwaad is vir alles en almal, behalwe hulself.

Wat hulle regkry, is om baie mense se humeure – en sommer hul eie ook! – in die rooi te druk.

Hul aggressiewe houding het al tot geweld in die raadsaal bygedra. Twee maande gelede het veiligheidsbeamptes onder waterbottels en selfs stoele deurgeloop toe hulle in opdrag van Rachel Mabete, die speaker, een van hul raadslede, Joel Masilela, wou verwyder.

Die geloofwaardigheid van die metroraad is nou op die spel.

Die Tshwane-metropolisie moes op dieselfde vergadering van pepersproei gebruik maak om ongelukkige inwoners uit die Winterveld, wat deur die konferensiesaal se glasdeure wou breek, uiteen te jaag.

Op verlede maand se vergadering – die laaste van die jaar – het ’n skermutseling agter die openbare galery tussen ondersteuners van die ANC en die EFF uitgebreek.

’n Tshwane-metropolisielid is met ’n stoel oor die rug geslaan toe sy tussenbeide getree het.

Masilela is een van die groot moeilikheidmakers.

Op die laaste vergadering het hy na bewering wolwefluite gegee toe ’n swanger DA-raadslid, Jacqui Uys, verby hom gestap het. Hy het ook glo opmerkings oor haar gemaak terwyl hy agter haar gestap het.

Nadat die DA beswaar gemaak het daaroor, het die speaker Masilela beveel om die raadsaal te verlaat, maar hy en die ANC het geweier, omdat dit volgens die ANC ’n onwettige bevel is.

Masilela het in die raadsaal gebly en later die aand selfs op ’n stoel langs die speaker gaan sit.

’n Ander DA-raadslid, Karin Meyer, sê toe sy dit sien, het sy haar selfoon gebruik om ’n video te neem.

Masilela het hom na die DA-banke gehaas en volgens haar probeer om die foon hardhandig by haar af te neem.

Solly Msimanga, die DA-burgemeester, het die foon by haar gegryp om dit te beskerm, terwyl van Meyer se manlike kollegas nader gestaan het om haar te beskerm.

Die volgende dag het sy en Uys klagte by die polisie ingedien.

Twee ander DA-raadslede, sowel as ’n lid van die EFF, het vroeër dieselfde gedoen.

In die afgelope week het die ANC gedreig om te vra dat die Tshwane-metroraad weens sy finansiële situasie onder administrasie geplaas word.

Die metroraad se reëls- en etiekkomitee, gelei deur die Vryheidsfront Plus se kol. Piet Uys, sal ernstig aandag aan Masilela se optrede in die raad moet gee. Die ANC self ook.

Masilela ontken ten sterkte dat hy enige DA-raadslid aangerand of seksueel geteister het. Hy sê die DA het sy regte vertrap (violated) en dreig die party nou met regstappe. Masilale sê hy is tydens die raadsvergadering  daarvan beskuldig dat “ek iemand verkrag het”. Dit het hom en sy party diep onstel want dit is onwaar en ‘n ernstige aantyging teen hom. “Kyk, ek aanvaar vuilspel in die politiek, maar die DA het dinge nou te ver gevat.” Masilela beskuldig die DA ook daarvan dat dié party nie die reëls van die raad nakom nie. “Hulle dink hulle is bo die reëls verhewe. Hulle moet eerder hul spelpeil vehoog en ophou om ANC-lede te probeer diskrediteer wat hulle in robuuste debat aanvat,” het Masilela gesê.



Dit is belangrik dat die leierskap van die partye in die Tshwane-metroraad voor die volgende vergadering aan die einde van Januarie om ’n tafel gaan sit en praat oor hoe die partye kan saamwerk om die raad behoorlik te laat funksioneer.

Kry hulle dit nie reg nie, sal die inwoners van Tshwane die groot verloorders in dié politieke magstryd wees.

Die geloofwaardigheid van die metroraad is nou op die spel.

Ná die gewelddadige vergadering in September het Paul Mashatile, die ANC se Gautengse leier, die volgende dag inderhaas met sy eie party én die DA-leierskap oor die probleme kom praat.

Dit het dalk tyd geword dat Mashatile die sweep onder die ANC-lede in die Tshwane-koukus klap, want doen hy dit nie, kan die ANC in 2019 met die volgende algemene en provinsiale verkiesing nog seerder as in vanjaar se munisipale verkiesing kry.

Mathebe sal as speaker ook fermer moet optree, maar eerstens seker maak dat sy ’elke komma en punt in die reëlboek ken.

Die ANC buit haar gebrek aan ervaring uit en hou vol sy is nie konsekwent in haar besluite nie.

Dit dra by tot die onmin in die raad.

In die afgelope week het die ANC gedreig om te vra dat die Tshwane-metroraad weens sy finansiële situasie onder administrasie geplaas word.

Dit sal mos ’n erkentenis wees dat hyself die metroraad in die grond in bestuur het voordat hy uit die kussings gelig is.

’n Metro word nie binne drie maande skielik bankrot nie.

* Sarel van der Walt is ’n politieke joernalis in Pretoria.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.