Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
ANC stry steeds met ideologiese skisofrenie

Die ideologiese stryd wat binne die ANC woed, was verlede week weer duidelik in pres. Cyril Ramaphosa se getuienis voor die Zondo-kommissie, skryf Christi van der Westhuizen.

Pres. Cyril Ramaphosa met sy verskyning verlede week voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping. Foto: Gallo Images

Ramaphosa se vertoning verlede week voor die staatskapingskommissie het die interne tweespalt in idees in die ANC blootgelê.

Hoewel hy my van “hersenskimmige aannames” beskuldig het, het sy getuienis eintlik bevestig dat ’n soort ideologiese skisofrenie binne die party woed.

Adv. Alec Freund het ’n vraag aan Ramaphosa gestel na aanleiding van ’n stelling in my boek van 2014, Working Democracy – Perspectives on South Africa’s Parliament at 20 years. Ek het ’n ontleding gedoen van die omstandighede waarin die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) in 2001 tandeloos gelaat is.

Skoor is ’n unieke waghond-komitee wat ontwerp is om onpartydig oor staatsbesteding toesig te hou. Aanduidings van korrupsie in die wapenpakket van R60 miljard destyds het die komiteelede van alle partye genoop om ’n spesiale ondersoek te gelas.

Ná minder as ’n dekade van demokrasie was die LP’s nog relatief vars en optimisties oor hul noodsaaklike rol as openbare verteenwoordigers.

Dit blyk toe die eerste beduidende voorval te wees wat wys dat die ANC enige instelling sal verfomfaai wat die party bedreig.

Freund se vraag aan Ramaphosa na aanleiding van my boek was oor die interne “politieke komitee” wat die ANC destyds in reaksie op die Skoor-ondersoek gevorm het. Die doel was volgens alle aanduidings om te verseker dat Luthuli-huis regstreeks beheer oor ANC-LP’s uitoefen.

Die resultaat was ’n afgewaterde verslag deur die ondersoekspan, deurspek met weersprekings en bedek met afdrukke van peuterende vingers.

Skoor se aanstelling van die openbare beskermer, die nasionale vervolgingsgesag, die ouditeur-generaal en die spesiale ondersoekeenheid (SOE) sou die korrupsie in die wapenpakket onthul – indien dié instansies toegelaat is om hul aansienlike magte na behore te gebruik.

Die ANC het egter via die destydse speaker, Frene Ginwala, op Skoor toegesak en die komitee uitmekaar geruk. Ginwala het die stappe van aftakeling namens die destydse president, Thabo Mbeki, gedoen, aldus Andrew Feinstein, wat toe nog die leidende ANC-LP in die komitee was.

Feinstein is met ’n gedweë bullebak soos Vincent Smith vervang. Hy is onlangs in die Bosasa-korrupsie geïmpliseer.

Die IVP-voorsitter van die komitee, dr. Gavin Woods, is aan verbale aanvalle onderwerp, waarna hy vertrek het. Die IVP het die komiteevoorsitterskap verloor. Die ondersoek is van Skoor weggeneem en tussen parlementêre komitees sonder die nodige kundigheid versprei.

Die SOE is uit die ondersoekspan gepluk. Die destydse hoof, Willem Heath, is sy pos kwyt en die SOE is by die vervolgingsgesag ingelyf.

Die resultaat was ’n afgewaterde verslag deur die ondersoekspan, deurspek met weersprekings en bedek met afdrukke van peuterende vingers. Die kersie op die spreekwoordelike koek was die besluit om bevindinge oor misdadige aktiwiteit uit die verslag te sluit.

Twee beskouings van die parlement

Pres. Cyril Ramaphosa blaai deur dokumente tydens een van sy verskynings verlede week voor die Zondo-kommissie. Foto: Gallo Images

Nodeloos om te sê, die Skoor-episode het die weg gebaan vir toenemende ANC-aanslae op enige instellings wat in die party se pad staan. Dink maar aan die Skerpioene, die vervolgingsgesag, die polisie, staatsondernemings, die staatsveiligheidsagentskap en regeringsdepartemente van nasionale tot plaaslike vlak. ’n Kommissie oor staatskaping probeer vandag van aspekte van die verwoesting sin maak.

Ramaphosa se antwoord op my stelling oor die ANC se besluit om hul LP’s regstreeks te beheer, was dat die parlement “ ’n baie belangrike forum”, asook “ ’n strydsterrein” is. Daarom moet die leierskap “leiding” aan ANC-LP’s bied, het hy eufemisties gesê.

Dié twee beskouings van die parlement is veelseggend, en ironies genoeg bevestig Ramaphosa my ontleding met sy antwoord. Die antwoord spreek van ’n ideologiese beskouing wat die parlement nie ag as die instelling wat álle Suid-Afrikaners se wil verteenwoordig nie.

As hoof van die ANC bevestig Ramaphosa dus dat die party nié bo die Grondwet verhewe is nie.

Die idee dat die parlement “ ’n strydsterrein” is, plaas die klem op die party se oorheersing van die parlement, eerder as wat die instelling as ’n forum vir demokratiese uitdrukking benader word.

Só ’n siening stel die ANC as primêre instelling in die land, verhewe selfs bo die liggaam waar Suid-Afrikaners se demokratiese belange gestand gedoen moet word. Dit klop met oudpres. Jacob Zuma se posisie dat hy nie verantwoordbaar aan die parlement of aan die staatskapingskommissie is nie. Zuma verwerp dus die beginsel van die oppergesag van die reg, en dus ook die oppergesag van die Grondwet.

Die feit dat Ramaphosa voor die staatskapingskommissie verskyn het en vrae in sy hoedanigheid as ANC-president beantwoord het, is die teenoorgestelde van Zuma se posisie. Aan die einde van die ondervraging het Ramaphosa gevra of hy mag gaan, waarop regter Raymond Zondo hom toestemming gegee het om te vertrek.

Dus het Ramaphosa gedemonstreer dat hy onderhewig aan die kommissie en aan die reg is. As hoof van die ANC bevestig hy dus dat die party nié bo die Grondwet verhewe is nie. Sy optrede kontrasteer dus met sy antwoord aan Freund en ook ander aspekte van sy getuienis.

Ideologiese stryd blyk weer duidelik

Oudpres. Jacob Zuma se houding teenoor die Zondo-kommissie verskil lynreg met dié van pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Gallo Images

Hierdie kontras weerspieël die ideologiese stryd wat binne die party woed. Die ANC het in 1912 ontstaan as ’n party wat liberale beginsels van demokratiese verteenwoordiging nagestreef het. Teen die 1950’s het ANC-leiers steeds daarin geglo.

By die hoogverraadverhoor teen Nelson Mandela en andere in 1956, was hul standpunt dat hulle demokratiese verteenwoordiging steun. Waarteen hulle gekant was, was die apartheidstaat se uitsluiting van swart mense van daardie verteenwoordiging.

Hierdie posisie kan beskryf word as ’n onderskrywing van nie-rassige burgerskap wat liberaal-demokratiese regte ondersteun. Daarteenoor staan ’n swart nasionalistiese tradisie binne die ANC. Dié posisie plaas die klem op swart samehorigheid en maatskaplike geregtigheid en staan krities teenoor liberaal-demokratiese waardes, aldus die politieke wetenskaplike CRD Halisi.

Christi van der Westhuizen

Op die oomblik verteenwoordig die Ramaphosa-faksie die nierassige tradisie met vertroue in liberaal-demokratiese beginsels en instellings. Daarteenoor staan die Zuma-faksie nader aan die swart nasionalistiese posisie.

Maar die Zuma-faksie se gebruik van die swart nasionalistiese posisie en klem op maatskaplike geregtigheid is opportunisties, soos die grootskaalse korrupsie wys.

Ramaphosa wend nou die beginsels en instellings van liberale demokrasie aan in ’n reusestryd wat bepalend vir Suid-Afrika se toekoms is.

Ramaphosa se kniebuiging voor die Zondo-kommissie is die strakste demonstrasie van die teenstelling wat sy groep teenoor die Zuma-faksie probeer opstel. Geskat aan die swetterjoel regsprosesse wat tans teen die korruptes ontplooi word, is daar rede vir minstens ’n sweem van optimisme oor die rigting wat die landspolitiek inslaan.

• Van der Westhuizen is ’n mede-professor verbonde aan die sentrum vir nierassigheid en demokrasie, Nelson Mandela-Universiteit. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Zondo-Kommissie  |  Skoor  |  Anc  |  Thabo Mbeki  |  Raymond Zondo  |  Alec Freund  |  Cyril Ramaphosa  |  Jacob Zuma  |  Andrew Feinstein  |  Parlement  |  Demokrasie  |  Staatskaping  |  Grondwet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.