Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
ANC-takke sal oor Zuma beslis
Gert Coetzee

Dit wil lyk – al weer – asof die gety eindelik teen pres. Jacob Zuma draai. In Bloemfontein jou lede van sy eie politieke groepering hom uit en weerhou hom van ’n spreekbeurt. Cosatu sê sy steun aan adj.pres. Cyril Ramaphosa as volgende ANC-leier toe. Die SAKP, ook ’n vennoot in die drieparty-alliansie, wil vir Zuma weghê. Drie oudpresidente, FW de Klerk, Thabo Mbeki en Kgalema Motlanthe, spreek hulle uit teen Zuma en die skade wat hy die land aanrig.

Les bes, Ramaphosa vind eindelik sy stem as ’n moontlike troonopvolger en maak geluide teen staatskaping. Tesame met Gwede Mantashe, Zweli Mkhize, Lindiwe Sisulu, Mcebisi Jonas, Mathews Phosa en ander lede van die anti-Zuma-kamp in die ANC, wat toevallig op verskillende plekke landwyd dieselfde uitsprake begin uiter, lyk dit asof hulle ’n formidabele span kandidate sou kon saamstel vir wedywering om die party se ses topposte op die leierskonferensie in Gauteng in Desember.

Zuma is die ongewildste – en skadelikste – Suid-Afrikaanse president nóg. Wat ongehoord is, is dat nie net nie-ANC-lede nie, maar ook ANC’s so uitgesproke is oor hul wens dat hy sy pos moet ontruim. In die ANC se drieparty-alliansie met sy ingroeiende kultuur is dit ongekend dat lede hul weerstand teen die leier openlik stel.

Maar Suid-Afrikaners moet hulle nie deur al die randgeluide laat bluf nie.

Nie Cosatu, die SAKP, oudleiers, nie-ANC-lede of wat die media ook al berig, gaan Jacob Zuma se lot bepaal nie.

En Ramaphosa gaan nie sommer net die volgende president raak omdat wit mense daaroor wensdenk vir groter ekonomiese sekuriteit nie. Die waarheid is dat ANC-takke later vanjaar die finale sê oor die toekomstige leiers van die party – en die land – gaan hê. In ’n party waar deur getallepolitiek geheers word, is dit dié mense in die hart van die ANC, ook op landelike vlak, wat die deurslaggewende massa-stem het.

En dis juis op hierdie vlak waar Jacob Zuma, as ’n man van die mense, ’n sterk Afrika-politikus, ’n indoena, ’n voorsanger én ’n meesterlike strateeg die voorsprong bo teenstanders het.

’n Vorige telling het gewys die ANC het sowat 4 300 takke landwyd met minstens 100 lede per tak. In ’n party-oudit, wat in komende weke afgehandel word, sal die getal weer vasgepen word, asook hoeveel afgevaardigdes elke provinsie na die leierskonferensie stuur.

Eenstemmigheid, inskiklikheid en gedienstigheid is die wagwoord.

By Polokwane in 2007 was die verteenwoordigers per provinsie: KwaZulu-Natal 974, Oos-Kaap 676, Limpopo 574, Gauteng 500, Mpumalanga 467, Vrystaat 324 en Wes-Kaap en Noord-Kaap 178 elk.

“Lojaliteit en eenheid” is ’n vereiste vir kaders in elke tak. Die tak skakel in by ’n streek, en die streek by ’n provinsie. Elke tak kom vooraf ooreen watter leierskandidate hy gaan steun; dan kom takke as ’n streek ooreen, en dan die streke as ’n provinsie.

Eenstemmigheid, inskiklikheid en gedienstigheid is die wagwoord.

Dit is die takke wat op Polokwane 2007 aan Zuma die magshefboom gegee het om Mbeki uit die kussings te lig. Op Mangaung 2012 het hulle sy posisie help verskans. Van Ramaphosa-hulle om op Gauteng 2017 van die gewonde ou bul ontslae te raak, gaan ’n kragtoer – of ander spelbreker – verg.

In wêreldpolitiek het Brexit en Trumpgate onlangs gewys dit is moeilikheid soek om te wil voorspel.

Die vraag is waar laat dit die Ramaphosa-groep as die Zuma-kamp einde vanjaar weer seëvier. En hoe sou Zuma en sy kohorte dit aanvaar as Ramaphosa-hulle dalk wen.

Die Cope-debakel en Agang-fiasko het gewys koalisiepolitiek hier werk nie sommer nie. Interessante tye wag in die landspolitiek – en vir Suid-Afrika.

Meer oor:  Zuma  |  Gert Coetzee  |  Cosatu  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.