Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
ANC verkoop Koster se Joseph Mogale uit

Die arme drommel – Joseph Mogale, munisipale bestuurder van die Kgetlengrivier-munisipaliteit, wat Koster en Swartruggens insluit.

Barnard Beukman

ANC-politici is berug daarvoor dat hulle die skuld vir dinge wat skeefloop – van korrupsie tot wanbestuur – op die betrokke amptenare wil pak. Die politieke kamerade trek eenvoudig Pontius Pilatus se kleed aan en was hul hande in onskuld. Dit is reeds in getuienis voor die Zondo-kommissie gesien.

Donderdag het die stomme Mogale letterlik alleen gestaan in die “lopende gemors”. Daar kan baie redes wees oor hoekom sy munisipale bestuurskorps nou al etlike jare nie die mas opkom met die bestuur van water- en rioolaanlegte nie.

Moontlik sy en ander senior amptenare se onbevoegdheid om hul rol te vervul. ’n Gebrek aan tegniese vaardighede in hul personeelkorps. Te min geld. Wanaanwending van geld. Korrupsie en selfverryking met die geld. Of onbehoorlike politieke inmenging.

Maar die dag toe die belastingbetalersvereniging ingevolge ’n belangwekkende hofbevel die riool- en waterbestuur kom oorneem het, is Mogale aan sy eie genade oorgelaat.

Verteenwoordigers van die Noordwes-regering en die minister van omgewingsake, as­ook van water en sanitasie – mederespondente in die hofsaak – het geskitter in hul afwesigheid. Daar was ook nie raadslede of ’n burgemeester in sig nie.

Mogale het duidelik ook nie die vaagste benul van die presiese gevolge van die hofuitspraak gehad nie. ’n Balju en die inwoners se prokureur moes dit aan hom verduidelik. (En hulle op die polisie beroep.)

Maar dit is nie waar sy probleme ophou nie. Ingevolge die hofbevel moet hy vir 90 dae opgesluit word as sy administrasie sedert die hofbevel nie vordering gemaak het om die gemors (lees rioolvuil wat selfs oor die pompe en elektriese verbindings loop) op te los nie.

Vier mans is in Junie dood toe hulle deur giftige gasse oorval is. Hulle wou ’n rioolverstopping self regmaak. Dit is Mogale en sy politieke hoofde se erflating – se “beter lewe vir almal”. Want swart inwoners sit ook sonder water.

Die ANC se 8 Januarie-verklaring (wat met die skryf van dié rubriek nog gelewer moes word) gaan nie uitkoms vir Kgetlengrivier se lot of vir Mogale­ se probleme bring nie. Ook nie die ANC se nuwe oplossing vir alles op munisipale vlak – die sogenaamde distriksingrypingsmodel – nie. Wel, dit het tot nou toe duidelik nie veel vir Mogale beteken nie.

Die ANC sal sulke inwoners­inisiatiewe sterk teenstaan. Eerder dat dinge uitmekaarval, die burgemeesters hul duur ampsmotors het en raadslede se familie die tenders kry en die dienstegeld dan wegraak. (Dit is hoe die Vaalrivier elders vol rioolvuil­ geloop het.)

Dit is van kritieke belang dat Mogale tronk toe gaan. Dit is al hoe die bose kringloop van onbevoegdheid gestuit en gekeer gaan word dat verslae van die ouditeur-generaal jaar ná jaar stof vergader. Amptenare moet leer dat politieke korrupsie aangemeld moet word, nie uitgevoer moet word nie. Of vir selfverryking benut kan word nie.

Intussen ’n pluimpie vir Koster en Swartruggens se inwoners en bepaald Martin du Plooy, die sakeman wat nou die bestuur van die aanlegte oorneem. En hopelik sal tientalle sulke hofsake in die jaar van ’n munisipale verkiesing volg.

Dit is belangrik dat verskillend rasse en gemeenskappe betrokke is, soos die politieke ontleder Alida Kok daarop wys. Maar politieke korrektheid kan ook nie meer in die pad van lopende water en werkende rioolaanlegte staan nie. Die Bell Pottinger-mantra is lankal uit die mode.

  • Beukman is Beeld se redakteur.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.