Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
ANC verlam nog kleiner partye
Alida Kok
Alida Kok

Die uitslag van die 2019- algemene verkiesing is die eerste uitslag sedert 1994 wat bevestig dat tradi­sionele partypolitiek en selfs parlementêre politiek veral nou nie meer ’n proses en arena aan kleiner politieke partye bied om deur magspel en beïnvloeding die politiek in hul guns te laat swaai nie.

Hierdie stelling kan teen-intuïtief voorkom juis omdat die regerende party 19 en die amptelike opposisie vyf minder sitplekke in die parlement het, en die drie grootste kleiner partye – die EFF, IVP en VF+ – onderskeidelik 19, vier en ses meer sitplekke het.

Ten spyte van hierdie veranderings in die uitleg van die nasionale wetgewer is die rug van die dominante partystelsel 25 jaar ná die aanvang van die demokrasie steeds nie gebreek nie. Tesame met die voortgesette oorheersing van die ANC in die nasionale politiek en die sentralisering van werklike mag in die nasionale wetgewer bo provinsiale wetgewers, veroorsaak ANC-faksiegevegte en -korrupsie dat partypolitiek en die parlement nie as weë gebruik kan word om die werklike belange van gemeenskappe te bevorder nie.

Die EFF en VF+ se situasie is die beste voorbeelde ter verduideliking van waarom kleiner partye se verteenwoordiging in die parlement steeds deur die ANC as dominante party verlam word.

Die EFF se groei vereis van die party om meer volwasse te word.

In die EFF se geval verduidelik Stephen Grootes in Daily Maverick dat dié kleiner party ten spyte van sy verkiesingsuksesse nie genoeg steun gekry het om ’n werklike invloed op die ANC te hê nie. Dit word beskryf as die EFF se grootste teleurstelling. Die ANC is nie afhanklik van die EFF nie, want daar bestaan (nog nie) ’n behoefte aan amptelike regeringskoalisies nie.

Hier kan bygevoeg word dat die EFF as kleiner party verder ingeperk word omdat hy reeds sedert 2014 skoktaktiek en die minagting van parlementêre reëls gebruik om invloed te bekom en media-aandag te trek. So ’n benadering moet ’n rakleeftyd hê en sal nie vir ewig slaag nie. Die EFF se groei vereis van die party om meer volwasse te word en meer te integreer in politieke prosesse en wetgewers se reëlstelsels.

Die toename in verkiesingsteun vir die VF+ is ’n groot sukses vir dié klein party. Benewens die feit dat hy, soos ander klein partye, deur die ANC in die parlement oorweldig word, moet daar ook genoem word dat die VF+ sy kiesers se belange nie net deur parlementêre verteenwoordiging bevorder nie, maar ook deur sy bondgenootskap met ’n groter, groeiende en goed georganiseerde beweging in die Suid-Afrikaanse burgerlike samelewing. Dié beweging bestaan hoofsaaklik uit rolspelers in die wit Afrikaanse gemeenskap. Omdat die belange van Afrikaans en Afrikaners met geskiedkundige wantroue in die groter samelewing bejeën word, word die VF+-verteenwoordigers in die parlement vir hierdie minderheidsgemeenskap ’n belangrike skakel met die staatlike. Hul setels in die parlement is onder meer simbolies van die minderheidsgroepe wat dié party verteenwoordig se verbintenis aan die geheel (en nie net aan sy eie gemeenskap nie).

Ondanks die kleiner ANC-verteenwoordiging en die groter opposisieverteenwoordiging het die parlement se rol in die politieke milieu so verander dat werklike verteenwoordiging nie meer in die hierdie ruimte geskied nie.

  • Hierdie verandering in die betekenis wat ons aan die nasionale wetgewer toeken, is simptomaties van die oormatige sentralisering van politieke mag in die ANC en in nasionale in plaas van provinsiale strukture – deels as gevolg van ons dominante partystelsel, faksiegevegte en korrupsie, en die samesmelting (in die praktyk) van die uitvoerende en wetgewende gesag. Kok is ’n dosent in politiek en interna­sionale verhoudinge aan Akademia.
Meer oor:  Alida Kok  |  Verkiesingsuitslae  |  Kleiner Partye  |  Anc  |  Eff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.