Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
ANC wil die vet kalf vir EFF slag

Oor minder as 48 uur gaan ons stembus toe. En ’n mens moet hoog deur die blare wees om nie te kan sien dat die ANC hierdie verkiesing gaan wen nie.

Ja, die ANC gáán wen. Die vraag is net hoe ver. Politieke ontleders voorspel min of meer die ANC se versadingspunt is by die 55% – wat in politieke terme ’n ramp sal wees vir Cyril Ramaphosa.

Ek gaan baie braaf wees en dink die ANC gaan eerder baie na aan die 60% kom. Enigiets bo dit sal enorme bonus vir die regerende party wees.

Maar my oë is eerder gerig op die EFF van die rampante Julius Malema. As hulle steun dramaties op die politieke effektebeurs gaan klim, is Suid-Afrika in die moeilikheid.

Die ANC gaan nie ’n tweedemeerderheid behaal nie, maar as die EFF hul steunbasis genoegsaam laat groei en ’n paringsdans met die ANC gaan uitvoer, is Suid-Afrika gesnoeker.

Dit was maar nog al die tyd op die kaarte dat die groothandelaar in haat, Malema, weer in die arms van die ANC sal spring. En ons het dit nou uit die mond van Ace Magashule en Malema self gehoor dat die ANC bereid is om die vetgemaakte kalf vir die verlore seun te slag. Die ANC weet al lankal dat hulle kwesbaar is soos ’n springhaas in ’n kollig solank Malema buite die vryheidsbeweging staan.

Die dag toe die ANC onder die voorsitterskap van Ramaphosa vir Malema uit die Groot Party verban het, het hulle gehoop dat hulle sy water en ligte gesny het en dat hy in die politieke duisternis sou wees.

Die ANC het nie rekenskap gehou met die populariteit van die eens politieke bogsnuiter van die ANC-jeugliga nie.

Maar net soos Thabo Mbeki hom misgis het met Jacob Zuma toe hy die man van Nkandla afgedank het as adjunk-president van die land, net so het die ANC nie rekenskap gehou met die populariteit van die eens politieke bogsnuiter van die ANC-jeugliga nie.

Ons almal weet wat het met Zuma gebeur ná hy deur Mbeki afgedank is. Zuma het homself as die martelaar voorgehou en sy gewildheid het deur die dak geskiet.

Die ANC het dieselfde fout gemaak met Malema. Pleks dat Malema soos ’n wandelende dooie moet wees, het sy skorsing uit die ANC net teenoorgestelde uitwerking gehad – veral onder jong swart kiesers. Die ANC het nog nooit weer ná Malema ’n jeugleier gehad wat die massas so kon beweeg nie.

Malema floreer op populistiese uitsprake. Dit is sy brood en botter. Hy weet presiés waar die ANC se sagte ribbes is. En hy het twee goed wat min politici het: tonne charisma en ’n vernuftige slag met woorde.

Met die ANC wat by die dag meer stompsinnig en politiek verbeeldingloos geraak het, het dit Malema die gaping gegee om met sy anti-wit- en anti-sakeretoriek die massas te kon oorbie na die EFF.

Hoekom sou die ANC dan nou weer vry na ’n man wat hulle om elke hoek en draai beledig het? Die ANC weet dat Malema hul ore aansit wat beleid betref. Wie was in elk geval die drywer van die grond-afvat-wet-sonder-vergoeding?

Malema wat klink soos ’n MK-kommissar uit die 1970’s – het die gronddebat op die spits gedryf en het feitlik eiehandig die ANC tot oorgawe gedwing om die Grondwet te verander.

Malema en sy boksembende wil die Grondwet wegsmyt en regeer aan die hand van die EFF se manifes wat bedrup is met klinkende sosialistiese passasies en die ANC kan hom in ’n situasie bevind waar die stert die hond swaai. Dus, dink mooi: As die ANC op sy eie regeer kan dit nog gaan, maar ’n ANC/EFF-permutasie is soos die Engelsman sal sê: too ghastly to contemplate.

Maarman is eindredakteur van Die Burger.

Meer oor:  Johann Maarman  |  Anc  |  Eff  |  Stembus  |  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.