Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘ANC wil nie Khoisan as eerste mense erken’

Die Khoisan was eers heel ingenome met die nuwe bedeling, maar toe raak dit duidelik die ANC wil hulle nie as die eerste inheemse nasie erken nie, skryf Willa Boezak.

Dr. Willa Boezak

’n Mens sou dink dat 1994, wat ’n era van bevryding ingelui het, die jaar sou wees dat ons land se eerste inheemse nasie se regte herstel sou word.

Suid-Afrika het ’n totaal nuwe beeld gekry, met oudpres. Nelson Mandela as geloofwaardige gesig, en het die boodskap van “menseregte vir almal” uitgestraal. Helaas nie.

Reeds toe was die nuwe maghebbers bewus van wie almal in die land woon, dan nie? Ons landsleuse “!Ke e: /xarra //ke(mense uit verskillende krale kom bymekaar) is mos aan die uitgestorwe /Xam-Boesmantaal ontleen. Boonop word in die eerste bladsye van die Grondwet beloof dat Khoi-, Nama- en San-tale bevorder en ontwikkel sou word.

Genetici het die Khoisan van Suider-Afrika reg in die middel van die oeroue drama van die mensdom geplaas: Hulle het die oudste DNS en word as die eerste moderne mense (homo sapiens) beskou.

Maar vir ons het die rooi ligte begin flikker toe die destydse adj.pres. Thabo Mbeki in sy beroemde toespraak van 1996 verklaar het: “I owe my being to the Khoi and the San whose desolate souls haunt the great expanses of the beautiful Cape – they who fell victim to the most merciless genocide our native land has ever seen, they who were the first to lose their lives in the struggle to defend our freedom and dependence and they who, as a people, perished as a result.” Let wel: perished as a people!

Tog het hy gou sy fout agtergekom en ’n jaar later ses plase aan die ?Khomani-San van die Kalahari oorhandig. Die tradisionele leier en ikoon, Dawid Kruiper, het hom laat weet: “Nee man, ons is nog altyd hier.” Ook die opperhoof van die Griekwa- Nasionale Konferensie, A.A.S. le Fleur II, het sy stem dik gemaak.

Tog was dit, ondanks al die onomstootlike wetenskaplike bewyse, van die begin af duidelik dat dit nie in die ANC se politieke raamwerk gepas het om ons as die eerste inheemse nasie te erken nie. Ek sal in ’n verdere bydrae meer oor die stryd om erkenning vertel. Ons, as Khoisan, was aanvanklik heel ingenome met die nuwe bedeling wat lewensbegrippe soos gelykberegtiging en nierassigheid gewild gemaak het.

Hierdie naam kom nie uit eie geledere nie. Dit was die Duitse antropoloog Leonard Schultze wat in 1928 Koisan, as ’n samestelling van Khoikhoi en San, geskep het en wat toenemend binne akademiese kringe aanvaar is. Daarmee wou hy die twee groepe se oorspronklike eenheid beklemtoon. Taalkundiges, veral uit Namibië, het daarop gewys dat dit Kh, uitgespreek met ’n sagte “g”, moet wees; die skryfwyse met ’n “oe”, maar uitgespreek as “oi” (Khoekhoen); en San (wat “versamelaars” beteken) met ’n lang “ã”.

Die veeryke inboorlinge, met wie Jan van Riebeeck onderhandel het, is eers as die Quena in sy dagjoernaal opgeteken. Die meer gebruiklike Hottentotten (waarskynlik van ’n soort inheemse speletjie afgelei wat vroeër waargeneem is) en Bosjesmannen was neutrale, beskrywende name met geen negatiewe bybetekenisse nie. Dit het eers later, toe die magsverhoudinge aan die Kaap verskuif het, as skeldname ontwikkel. Lees gerus Van Veeverskaffers tot Veewagters deur HC Bredekamp.

Ná meer as drie eeue van beledigings is “hotnot” in die nuwe bedeling tot haatspraak verklaar. Ironies genoeg is die ewe beledigende “jou boesman” deur die ?Khomani-San bemagtigend omgedraai en noem hulle hulself vandag met trots Boesmans. Dis juis laasgenoemde wat die aanvaarde spelling, Khoisan, verwerp, en op ’n belangwekkende nasionale konferensie te Oudtshoorn in 2001 op Khoi-San (met ’n afsonderlike hoofletter) aangedring het. Hul afvaardiging het geredeneer dat die ingeburgerde akademiese term nie hul afsonderlike, volwaardige status verreken nie. Vandag is dit selfs Khoi én San in plaas van die naam met die koppelteken.

Khoi beteken eenvoudig “mens”, maar die dubbele Khoikhoi slaan op ’n oerwaarde, naamlik ’n ménse-mens. Khoi-/namxa-sîb beteken medemenslikheid of mensliewendheid. Ongeveer 2 000 jaar gelede is deur ruilhandel vee bekom en so, as veeboere, het sommige Khoisan ’n nuwe ekonomiese lewenswyse ontwikkel, terwyl ander jagterversamelaars gebly het. Hoewel daardie klasse-onderskeid vandag feitlik nie meer bestaan nie, blyk eenheid steeds ’n turksvy te wees. Die verwarring of die Khoikhoi en San/Boesmans een nasie is of eintlik afsonderlike etniese groeperinge, is selfs vir gerekende vakkundiges soos Alan G. Morris en Janette Deacon ’n tameletjie.

Tot onlangs is aanvaar dat die Khoisan se oorsprong in Suider-Afrika is, soos wat opgrawings en DNS-toetse suggereer, maar ál meer word gemeen dat die Khoi-veeboere oorspronklik uit dele soos Ethiopië afkomstig is. Die styl en datering van rotskuns word ook as sterk argument gebruik dat die Boesmans eintlik die eerste inheemse nasie is. Of hierdie gekibbel enigsins vorentoe ’n faktor gaan wees ten opsigte van die werklike lewensomstandighede en toekomsmoontlikhede van die Khoisan, is te betwyfel. Wat vas staan, is dat onder die Khoisan-sambreel vyf hoofgroeperinge te onderskei is: San/Boesmans, Kaapse Khoi, Korana, Nama en Griekwa.

  • Dr. Willa Boezak is ’n Khoisan-navorser en skrywer.

Meer oor:  Kalahari
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.