Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
ANC wil steeds baasspeel in Tshwane

Die ANC in die Tshwane-metroraad in Pretoria sal vinnig moet aanpas in sy nuwe rol as amptelike opposisie, skryf Sarel van der Walt.

Raadslede moes koes toe stoele en waterbottels op die Tshwane metroraad se vergadering rondgegooi is.

Die ANC is duidelik nog nie gemaklik met sy rol as amptelike opposisie in die Tshwane-metroraad nie.

Die gebeure op die chaotiese metroraadsvergadering verlede Dinsdagaand bewys dit is vir die party moeilik om nie die bewindhebber te wees nie. Daardeur het die ANC nie vriende en ondersteuners gewen nie.

Boonop moes begin van die vergadering uitgestel word toe twee groepe inwoners van die Winterveldt-omgewing, noord van Pretoria, buite die raadsaal met die metropolisie gebots het.

In die raadsaal het van die ANC-raadslede hulle skuldig gemaak aan onaanvaarbare – en moontlik misdadige – gedrag deur waterbottels en stoele rond te gooi.

Die ANC was duidelik daarop uit om sy stempel op die vergadering af te druk deur dit deurentyd te ontwrig.

Van sy lede was baie uitdagend en selfs aggressief.

Die party se verweer was dat van sy lede gedink het hy word aangeval toe veiligheidspersoneel skielik die saal binnegekom het om Joel Masilela, ’n ANC-raadslid, in opdrag van die speaker, Rachel Mathebe, te verwyder.

Sy het nie aangekondig dat die veiligheidsbeamptes die saal gaan binnekom nie. Masilela is ’n paar keer beveel om die raadsaal te verlaat, maar hy het geweier.

Die ANC-raadslede het glo gedink “dis EFF-raadslede in mooi pakke klere” wat die saal binnekom.

Rêrig?

Vergadering van langer as 13 uur

Sarel van der Walt

Die EFF was dié keer onskuldig en die toonbeeld van selfdissipline. Sy raadslede het die drama uit hul stoele dopgehou en hulle nie deur die ANC laat uitlok nie.

Daar was deur die loop van die vergadering – wat eers om 23:20 ná meer as 13 uur geëindig het – gereeld onderonsies.

’n Gestamp en ’n gestoot het by tye handuit geruk. ’n Vroulike lid van die DA het in die hospitaal beland nadat ’n ANC-raadslid haar na bewering in die geharwar aangerand het, terwyl ’n vroulike lid van die EFF ook glo aangerand is.

As dit in die hof bewys word, sal dit ’n skandvlek op die ANC wees.

Uit die perskamer bo die raadsaal in die Sammy Marks-konferensiesentrum het dit gelyk of die ANC se leierskap sukkel om sy lede in toom te hou.

Die ANC sal dit nie erken nie, maar hy het waarskynlik ’n fout begaan deur Kgosientso Ramakgopa, die vorige uitvoerende burgemeester, nie as sy leier in die raad te behou nie.

Hy het sekerlik sy vyande en foute, maar Ramakgopa is ’n sterk leier wat waarskynlik nie sou toelaat dat die vergadering in dié chaos ontaard nie.

Reeds voor die verkiesing was daar ontevredenheid onder ANC-ondersteuners oor die party se besluit om eerder oudminister Thoko Didiza as burgemeesterskandidaat aan te wys.

Onervare in die warm stoel

Dit is baie duidelik dat die ANC veral twee DA-lede as teikens uitsonder. Die een is Mathebe en die ander een is Mari-Lise Fourie, die nuwe burgemeesterskomiteelid vir finansies.

Fourie is ’n voormalige stadstesourier van die eertydse stadsraad van Pretoria. Van dié twee het Mathebe die meeste deurgeloop. Die hele dag lank.

By elke moontlike geleentheid het ANC-lede opgespring en sake vertraag deur aan te dring “op ’n punt van orde” of “op ’n punt van inligting”.

By elke moontlike geleentheid het ANC-lede opgespring en sake vertraag deur aan te dring “op ’n punt van orde” of “op ’n punt van inligting”.

Hulle het haar ook daarvan beskuldig dat sy nie konsekwent optree nie en die DA en die EFF voortrek. “Ons moet jou elke keer smeek om ’n spreekbeurt te kry,” het ’n ANC-lid in ’n stadium uitgeroep.

Dit is waarskynlik Mathebe se onervarenheid in dié warm stoel wat tot van die probleme gelei het. Die ANC het dit uitgebuit. Dit het ook nie gehelp dat die openbare galery vol ANC-ondersteuners was wat hul misnoë luidkeels te kenne gegee het nie.

Mathebe het ’n paar keer, sonder veel sukses, aan dié mense op die openbare galery probeer verduidelik dat hulle nie deel van die vergadering is nie.

Dit was ook duidelik dat die DA die 29-jarige Cilliers Brink, ’n burgemeesterskomiteelid, as sy artillerie inspan wanneer hy die ANC wil terugdryf.

Brink, ’n regsgeleerde, “of daai jong mannetjie” soos ’n kwaai ANC-lid hom toegesnou het, het die ANC op die laaste twee raadsvergaderings ’n paar keer omgekrap.

Die ANC-lede moet leer om hulself te bedwing en nie oor te reageer elke keer wanneer die DA of ander partye op hul gevoelige tone en seergemaakte ego’s trap nie.

Die ANC-lede moet leer om hulself te bedwing en nie oor te reageer elke keer wanneer die DA of ander partye op hul gevoelige tone en seergemaakte ego’s trap nie.

Gepraat van die artillerie. Die VF+ se Piet Uys, ’n eertydse artilleriekolonel, is voorsitter van die reëlskomitee wat ná verlede week se drama sy hande vol sal hê om seker te maak dat al die partye die reëls volg.

Hopelik sal sake in die toekoms rustiger verloop ná die vergadering tussen Paul Mashatile, die ANC se Gautengse leier en plaaslike LUR vir samewerkende regering, en al die partye in die raad.

Mashatile moet bekommerd wees dat sy party se optrede verlede Dinsdag in die ANC se gesig kan ontplof wanneer die kiesers van Pretoria weer stembus toe gaan.

Die party sal moet aanpas by die rol wat ’n amptelike opposisie behoort te vervul.

*Sarel van der Walt is ’n spesialisjoernalis vir Netwerk24 in Pretoria.

Meer oor:  Sarel Van Der Walt  |  Tshwane-Metroraad  |  Da  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.