Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ander reëls geld duidelik SA politieke elite

Gebeure die laaste maande het weer bevestig dat daar twee stelle reëls in die land is: een vir Jan en San Alleman en die ander vir die politieke elite.

Vroeër vanjaar, diep in die inperkingstyd, is die ouers van ’n baba van 20 maande in hegtenis geneem omdat hulle glo die inperkingsregulasies oortree het. Die pa is agterin ’n vangwa gegooi en die ma is gedwing om saam met haar kind in ’n ander voertuig na die polisiekantoor te gaan.

Raymond Willemse

’n Paar maande later oortree ’n senior ANC-afvaardiging, wat ’n besoek aan Zimbabwe aflê om oor die krisis in dié land te vergader, ook dié reëls. Een van die sondaars is Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane, wat nou betrokke was by die opstel van die inperkingsregulasies.

Nóg twee kabinetslede – Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, en Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling – was ook in die vliegtuig.

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, wat die afvaardiging gelei het, het namens die groep verskoning gevra dat hulle die inperkingsregulasies oortree het. Hoewel Magashule erken het dat hulle die reëls oortree het, het die owerheid nog nie teen hulle opgetree nie.

In Julie het die restaurant- en toerismebedryf teen die inperkingsregulasies betoog. Dié bedrywe is onder dié wat die ergste deur die pandemie geraak is.

Protesteerders wou ’n memorandum aan die parlement oorhandig wat vra dat regulasies wat tot meer werkverliese sou lei, heroorweeg word sodat hulle kan teruggaan werk toe en so ook hul gesin kan voed. Die polisie het hardhandig teenoor die vreedsame betogers opgetree en hulle met skokgranate en waterkanonne verjaag.

Vandeesmaand het die EFF, wie se DNS deurtrek is van wetteloosheid en geweld, sy volgelinge aangehits om Clicks-takke aan te val en die winkelgroep te dwing om sy deure te sluit weens ontevredenheid oor ’n advertensie.

Gewone burgers word hardhandig hanteer, toegesluit en beboet?.?.?.

Die rooi barette het oudergewoonte gewelddadige retoriek gekies. Hulle het wetsgehoorsame burgers geïntimideer ten aanskoue van polisiebeamptes, wat hande gevou gestaan het. Hulle het hulle ook skuldig gemaak aan vandalisme en werkers verhinder om hul pligte uit te voer.

Die polisie het nie die EFF-bende se vandalisme met dieselfde ywer en erns aangepak as waarmee in Julie teen die publiek opgetree is nie.

Gewone burgers word hardhandig hanteer, toegesluit en beboet indien hulle inperkingsregulasies oortree, maar niks gebeur met die politieke elite nie.

Suid-Afrikaners kan met reg vra waarom almal nie oor dieselfde kam geskeer word nie. Maar dit is seker wensdenkery om te verwag dat die owerheid konsekwent gaan optree.

Dit lyk of ons hoop in burgerregteorganisasies is wat keer op keer bewys het dat hulle vir ons regte sal opstaan wanneer dit deur die owerheid vertrap word.

  • Willemse is ’n senior redaksielid van Beeld.
Meer oor:  Raymond Willemse  |  Reëls  |  Standpunt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.