Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
André Jansen: Belê in die leiers wat ons verdien
André Jansen

’n Land kry die leier wat hy verdien.

Dít is wat die stil ouderling sou gesê het toe hy die worstelende kerkraad geskok het met die opmerking oor die gemeente wat kla en kritiseer. Die ouderling het net gepraat as dit regtig nodig was en gesê: ’n Gemeente kry die kerkraad wat dit verdien. Hulle was geskok.

Dit was die begin van ’n pragtige periode vir die kerk, want hulle het die gemeente begin lei in plaas van om kritiek te bestry. Hulle het die gemeente iets positiefs gegee om na te leef. Hulle het nie meer tyd gehad om te kla nie. Hulle was te besig om ’n verskil te maak. Die gemeente het begin bruis, want hulle het gebou op hul grondslag en het daarom ’n doel gehad.

Ek hoor hoe ’n ma vir ’n gerehabiliteerde alkoholis vra om haar seun te help om drank te los. Hy vra vir haar watter geestelike grondslag die seun het. Toe sy sê dat dit nie bestaan nie, was sy reaksie: Jammer, mevrou, dan kan ek hom nie help nie. Gee hom ’n basis om op te bou en ek kan hom help.

Eers later het ek sy wyse antwoord begin verstaan.

Hierdie twee voorbeelde het ’n paar wesenlike beginsels vir Suid-Afrika.

Dit word aktueel met die munisipale verkiesings in Augustus en noudat politieke partye hul verkiesingsmanifeste bekend stel: die ANC, die DA en die EFF.

Leidende vrae is: Watter leiers het ons nodig? Op watter grondslag bou hulle ons land?

Daar is baie kritiek op die owerheid.

Die styl en inhoud van baie hiervan getuig van die (gebrek aan) soort basis in mense se lewe. Daar is ook tereg kommentaar, sodat ’n mens wonder hoekom die owerheid nie luister nie. Hulle reageer soos die vrou wat vir haar man sê: Skattie, bly stil, ek sal jou mening vir jou gee as ek dit nodig het.

Enkele eienskappe van leierskap is: Luister, volgelinge se probleme verstaan en vertroue wek. Waar hierdie eienskappe ontbreek, is dit nie leiers nie, maar base of diktators.

Bestuurswetenskappe grond hul definisies van goeie leiers (onbewus) op Bybelse beginsels. Christus was die perfekte Leier wat steeds gebou het aan ’n gesonde grondslag om op te leef sodat mense Hom spontaan gevolg het. Hy het vertroue gewek, want Hy het meer vir hulle omgegee as vir Homself.

Nou roep Hy ons om Hom te weerspieël (Joh. 13:14,15). In Suid-Afrika se geskiedenis was daar leiers wat mense aan mekaar verbind het deur harmonie en versoening. Mense het positief geword en hul deel bygedra.

Goeie leierskap gee af. Slegte leierskap helaas ook. Deur op die kantlyn kritiek te lewer, te verwyt en te kla help nie. Soms mag ’n mens raas.

Uiteindelik is ons elkeen (saam) verantwoordelik om te vra watter grondslag ons nou besig is om vir ons nageslag te lê. ’n Boer beplan sy oes. Hy berei die grond voor, saai nou sodat hy volgende jaar kan oes. In watter lewensbeginsels, norme en waardes belê ons nou, sodat ons nageslag later kan oes? Watter voorbeelde gaan ons kinders van ons oorneem?

’n Mens het begrip vir die moeilike situasies in Suid-Afrika en dat dit ’n verlammende uitwerking kan hê. En tog sê die Hebreër-skrywer vir mense in soortgelyke moeilike omstandighede: Versterk . . . die slap hande en lam knieë en loop die reguit pad. Dan sal wat lam is, nie uit lit raak nie, maar gesond word. Later . . . lewer dit ’n goeie vrug: vrede . . . (12:11-13).

Dit vra saamstaan, dissipline, ’n biddende lewenshouding. Laat dié vraag ons motiveer: watter grondslag moet ons nou lê om in die toekoms die leiers te kry wat ons verdien?

Meer oor:  Woord En Perspektief  |  Leiers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.