Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
André Jansen: Eers hoekom, dan liefde, hoop

Eintlik wou ek skryf oor idiokrasie of Guptakrasie wat lyk of dit die demokrasie in Suid-Afrika vervang het. Ek kan dink dat baie al keelvol vir die onderwerp is. Baie is gesê oor Christelike gehoorsaamheid aan die owerheid (Romeine 13 en die vyfde gebod).

Hoewel ’n hunkering hieragter skuil vir goeie leiers en verbetering in die land is daar ’n dieperliggende vraag: hoe? Waar begin ’n mens? Dit is die vraag wat leef by die mense wat lief is vir Suid-Afrika en hoop op verbetering. Hoe doen ’n mens dit?

Waar hoop is, is lewe. Een van die drie pilare vir ’n Christen is hoop. Die ander is geloof en liefde. In 1 Korintiërs 13 is geloof en hoop die steiers wat liefde opbou. Uiteindelik bly in die hemel liefde oor. ’n Mens het geloof en hoop nodig om lief te kan hê. Hoe herbou ’n mens hoop, geloof en liefde vir Suid-Afrika?

Hoop en geloof is geestelike woorde, maar vertaal in die Bybel ook na die daaglikse lewe toe. As jy iemand in sy praktiese lewensomstandighede hoop gee, is hy vatbaarder vir hoop op die ewige lewe, omdat dit ewige liefde in God bevestig. Hier moet ’n dinkfout vermy word, deur by die hoe te begin. Byvoorbeeld: watter aktiwiteite gaan ons onderneem om die probleme op te los? Dit maak gou moedeloos. Die Bybel leer dat dit êrens anders begin. By hoekom.

Suksesvolle internasionale besighede het daarin geslaag om dit te verstaan en prakties toe te pas. Die gevolg is dat baie van ons daagliks met groot vreugde en effektiwiteit telefone en tablette gebruik. Hulle is suksesvol, omdat hulle nie eerstens vra hoe of watter produk hulle aan jou gaan verkoop nie. Volg jy hul strategie noukeurig sien jy dat hulle eers vra: Waarom gaan jy hulle produk koop? Dit bepaal hulle suksesvolle strategie en produk. Die hoe volg laaste.

Hoekom is ’n wesenlike beginpunt in die Bybel. Dit vra na die begin en na die doel. Wanneer God die mens maak, sê Hy hoekom: na ons beeld, om God te verteenwoordig en om die aarde te ontwikkel en te beskerm (Genesis 1).

Begin deur te vra: waarom?

Jesus sê hoekom Hy vir mense aan die kruis sterf. God begin self by hoekom. Waarom? Dit is eie aan die wesensaard van die mens (Genesis 1:27), stimuleer en is dinamies. Gee hoop en houvas.

Elke Christen, elke kerk behoort in elke keuse eers te vra: hoekom? Wat is die bron en wat is die doel? Waar begin ’n mens dan om Suid-Afrika se probleme aan te pak, veral as leiers in hul Godgegewe verantwoordelikheid faal? Dieselfde plek waar ’n groot en sterk boom begin: By ’n saadjie wat geplant word.

En waar ’n groot internasionale besigheid se sukses begin: om op die regte manier te dink. Begin deur te vra: waarom? Beginnende by God en sy plan waarmee Hy besig is. ’n Paar voorbeelde: Waarom gee God aan ons ’n veelrassige land? Waarom het God my, ons gesin, ons kerk, ons besigheid hier geplaas, met ons talente? Wat het Hy in gedagte? Hoe pas ek in God se plan met my land in? Steeds bron en doel.

So begin ’n mens jou roeping, waarde en verantwoordelikheid besef. Dit gee entoesiasme, dinamika en lewensvervulling. Hoop. Liefde, ook vir jou land. ’n Skitterende woordjie, vol skatte. Deurdat ons hierdie benadering in ons gemeente begin volg het, ontstaan die wonderlikste dinamika en groei die kerk – ook geestelik. Selfs vlugtelinge word deel van ons gemeente. Deur hierdie vraag te stel kry ’n mens ook moeilike uitdagings, maar ervaar ’n mens hoe die Here self leiding en uitkoms gee. Dit gee hoop. En hoop laat lewe en het lief.

Begin by: hoekom?!

Meer oor:  Woord En Perspektief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.