Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
André Jansen: Hoop en houvas in droogtetyd
André Jansen

Is daar nog houvas oor die droogte en versengende hitte in Volksblad se lesersgebied? Hier in Nederland het ons immers baie water. As dit weke lank gereën het en die plate water weke lank so op die boere se lande lê, en die trekkers nie kan ploeg of oes nie en die aartappels vrot word in die grond, kry ’n mens dieselfde gevoel as wat die droogte in Suid-Afrika gee.

Hou dit ooit op?

’n Internetfilmpie wys die bruin, uitgedroogte Vrystaat. Op Facebook word vakansiegangers gevra om water saam te ry na die droë plekke toe. Hooibale word aangery.

Mense van alle kleure en groepe, werkloos en hardwerkend, bid smekend op ’n boerewerf vir reën. ’n Belowende boer kry te swaar oor die droogte en stap uit die lewe uit. Op internet word mense tot bekering opgeroep sodat God reën kan stuur.

Aangrypend.

Dis eintlik té droog daarvoor, maar party gooi mekaar met modder oor die skuld vir die droogte, waterstelery of waterbesmetting.

In Oktober bid die diaken in Colesberg se konsistorie vir reën. Ná 15 jaar in ’n papsopnatland het dit eers nogal vreemd geklink: “ ’n Mens bid mos vir sonskyn en droogte?”

Dit wys dat gebed kontekstueel is.

Toe my vriend Ernest Matsela vir my e-pos dat hulle vir ons in Nederland bid vir reën, skryf ek tong in die kies vir hom terug om asseblief op te hou bid, want ons versuip omtrent hierdie kant.

Dis pragtig om te lees hoe mense in nood mekaar help. Hulle rol moue op, ry water en hooibale aan en bid saam.

Dit is vir dominees en pastore ’n uitdagende tyd. As geestelike leier wil ’n mens help. Jy weet dat die Here wat die hemel en aarde geskape het, beheer oor die droogte en reën het. Hy kon dit voor verlede Donderdag laat reën het, die laaste dag waarop boere nog kon plant. Maar dit het nie gereën nie. Die gevolge vir die ekonomie en landbou lyk sleg.

Wat sê jy nou as die mense jou hunkerend, emosioneel en geestelik honger aankyk vir hoop? ’n Mens kan mos nie goedkoop sê dat liewe Jesus alles sal laat regkom of dat God ons straf nie? Die mense is mos nie dom nie?

Hy kan saam met hulle met Psalm 10 en 13 by God sug, kla en huil.

Maar hy mag en moet ook hoop bied.

Nie kitskos-hoop nie. Of dié van die voorspoedspredikers met die ry wit, wedergebore tande en maklike beloftes in ruil vir vergoeding nie.

’n Diepgewortelde hoop, soos in Psalm 42, vanuit ’n opregte, kermende worsteling en tog ’n hunkerende oortuiging dat Hy jou druk sal laat verwissel in geluk. Dat jy weer vir Hom ’n loflied sal sing, omdat Hy jou Helper is. Hierdie hoop is die oortuiging dat God sy beloftes waar maak. Dit weer sal laat reën en dinge laat regkom. En dat die nuwe aarde strome lewende water sal hê.

’n Nederlandse kerklied skilder hierdie hoop beeldryk met ’n huppelende melodie: “Die steppe (dorre vlaktes) sal bloei en lag en juig. Die rotse wat reeds vanaf die skepping daar staan, is vol water en gaan oop. Die water stroom, tintel en bruis.

“Dorstiges sal drink. Die steppe sal bloei en lag en juig. Die boere keer terug met blinkende gerwe. Hulle het vol rou weggetrek tot aan die eindes van die aarde, maar keer een vir een terug. Soos spruite vol water, soos riviere vol stromende water, wat omlaag stroom vanaf die berge. Met gelag en gejuig. Die wat met trane gesaai het, keer terug met gelag en gejuig. . . Een Hand sal vir ons wink, ’n Stem sal ons roep: ‘Ek maak hemel, aarde en afgrond oop.’ En ons sal hoor, en opstaan en lag en juig en lewe.”

Mag dié vooruitsig hoop en houvas gee.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.