Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
André Jansen: Nie-relevante kerk is vervelig
Die probleem is dat mense hulle meer op die kerk rig as om as burgers van die koninkryk van God te leef en Jesus Christus in sy woorde en dade na te volg.

As ’n dominee sê dat die kerk vervelig en afgesaag is, weet jy hier kom ’n ding.

Jy verwag van ’n dominee om ’n positiewe voorbeeld te stel. Hy moenie kla oor die kerk nie en moet sê dat dit goed gaan. ’n Negatiewe dominee kry ’n gemeente agter hom wat tekere gaan soos ’n swerm spreeus. Tensy sy woorde krag en gesag uitstraal en hy pro-aktiewe leiding met sy opmerking gee. As hy ook nog uit ’n voormalige Afrika-kolonie in Europa sulke dinge sê, weet jy hier kom ’n ding.

Ons was immers daaraan gewoond dat Nederland sendelinge uitstuur na ander lande. Nederland is ’n sendingbewuste land. Ondanks die stewige ontkerkliking is kerke, gemeentelede en christelike organisasies oor die algemeen bewus van hul missionêre roeping. Steeds meer kerke in Nederland wil missionêr aktief wees, omdat hulle begin ervaar dat die kerk hier ’n randverskynsel geword het en sodoende bewus word van hul werklike doel as instrument van die Here om volke te bereik. Miere leer ons dat mens nie groot hoef te wees om sterk te wees en baie reg te kan kry nie (Spreuke 6:6 ev).

Die probleem is dat kerke graag aan hul strukture, bekende maniere van doen en ou denkpatrone vashou. Die wil om ons denke te vernuwe (Romeine 12:1,2) gee maar ’n suur smaak in die mond.

Dit is nou net waar ’n buitelandse dominee, uit ’n voormalige sendingland, kerke wakker skud. Laasweek het ds. Moses Alagbe se boekie, The church is boring, if it is not relevant, verskyn. Hy is ’n Nigeriër, het ’n landbougraad in Indië verwerf en het in die VSA in teologie gepromoveer. Hy is nou dominee van ’n kerk in Amsterdam, Nederland.

Hy beskryf hoe die kerk in die oë van die meeste mense ’n niksseggende en kragtelose organisasie geword het waar mense een keer ’n week op Sondae ’n betekenislose liturgie deurwerk en na preke luister wat hulle nie gedurende die week kan toepas nie. In talle Afrika-lande het kerke sakeondernemings geword waar die voorgangers ryk “besturende direkteure’’ is. Hy noem ’n aantal voorbeelde wanneer die kerk afgesaag en irrelevant word. Wanneer dit beperk word tot twee uur per week op Sondae, geïsoleer van die samelewing bestaan en dissipelskap verkeerd toepas. Kerke verveel, omdat die prediking ’n monoloog is, terwyl Jesus interaktief gepreek het. Die meeste kerkmense doen niks met hul geloof gedurende die week nie.

Die probleem is dat mense hulle meer op die kerk rig as om as burgers van die koninkryk van God te leef en Jesus Christus in sy woorde en dade na te volg. Christus is Here en Verlosser oor elke onderdeel van ons lewe. Hy is meer as liewe Jesus wat aan ’n kruis vir ons siele gesterf het.

Sy Evangelie moet so gepreek en nageleef word dat mense se lewe verander deur die geregtigheid, blydskap en vrede van God se koninkryk. Jesus het dié koninkryk kom verkondig en daarvoor gesterf. ’n Kerk wat daarom nie ook persoonlike verandering, ongelykheid, diskriminasie, korrupsie, magsmisbruik, verdrukking en ander euwels in die samelewing aanspreek nie, moet besin of die Evangelie wel holisties verkondig word.

God se koninkryk bevry mense en versterk dié wat glo om oral in die lewe ’n verskil te maak. Dié waarheid mag nie sy nut verloor nie en moet in praktiese liefde uitgedruk word.

Dan kom daar ’n ding: die kerk as God se boeiende instrument om positiewe verandering te bring en mense nou al ’n voorsmakie van die ewige lewe te gee.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.