Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
André le Roux: Ons muf in dié klein dampkring
André le Roux.

Doen ’n steekproef in enige dag se nuusgebeure en ’n mens word getref deur die beperkte plek van die binnedebat oor Afrikaans in die breë Suid-Afrikaanse diskoers.

Lees ’n Afrikaanse koerant, ’n Engelse koerant en ’n “swart” koerant langs mekaar en dis duidelik dat die gesprek oor die toekoms van Afrikaans nie veel wyer strek as ’n selfkwetsende bekgeveg onder wit Afrikaners nie.

Verlede week was daar grootliks konsensus oor lesers se moet-weet-behoeftes: Cosatu se steun aan Cyril Ramaphosa as die volgende president; die parlementêre oproer; ANC-planne om deur stedelike verdigting ’n einde te maak aan gesegregeerde (wit) woonbuurte; die groeikoers van 0,7% in die derde kwartaal; Absa se besluit om sy borgskap aan die Bokke te onttrek; die SAL-gemors en die grondwethof se uitspraak teen ’n gay leraar.

Afrikaans word wel met rede driftig bespreek, maar hy word eenvoudig nie op die hoofspeelveld gehoor nie.

Só was Afrikaans nie ’n agendapunt op die Cosatu-kongres nie. Geen verband word tussen Afrikaans en dié land se glybaan na ’n ekonomiese resessie getref nie. Oor die nederlaag vir gay leraars in die hof is daar wel ’n raakvlak met Afrikaanse kerke se binnewroeging oor dié vraagstuk.

Daar word – met hiperboliese beredenering – gekla dat Absa se besluit om die Springbokke af te stamp, ’n aanslag teen rugby, ’n Afrikanerkleinood, is.

Adam Small verwys verlede Woensdag diplomaties na N.P. van Wyk Louw se beskrywing van Afrikaners se “kleinburgerlikheid”. Louw, wat meer as enigiemand anders Afrikaans se “hoër funksies” verpersoonlik het, was egter blatanter. Hy het dit ’n “kleindorpse” mentaliteit genoem.

As ons as liefhebbers van ons taal nie tred hou met en “straatwys” aanpas by die snelle politieke en ekonomiese omwentelinge wat nou ná 21 jaar eers regtig momentum en vastrapplek kry nie, skakel ons onsself vinnig uit as pleitbesorgers van Afrikaans se regmatige belange.

Afrikaans word wel met rede driftig bespreek, maar hy word eenvoudig nie op die hoofspeelveld gehoor nie.

Die huidige taalkleilat teen mekaar is kleinlik. ’n Volwasse introspeksie oor die plek van Afrikaans is nodig. Prof. Wannie Carstens is dus reg, ’n kompromiesoekende tafelgesprek oor Afrikaans tussen “ware Suid-Afrikaners” word benodig om “mekaar iewers in die middel” te ontmoet.

Die vraag is egter: Met watter werkbare kompromieaanbod is die middelpuntvliedende Afrikanerdom bereid om na dié tafel te kom – daar waar Afrikaans deur ander aan apartheid gelykgestel word?

Diegene wat deur Carstens as “ingenieurs, medici, wetenskaplikes, onderwysers, ekonome, advokate, prokureurs, joernaliste, ensovoorts” beskryf en vir hul bydraes geloof word, vervul steeds – en onder die taaltwisradar – deurslaggewende rolle in die Suid-Afrikaanse hoofstroom.

Sonder ’n behoefte aan ouwêreldse Afrikanerleierskap en vandag se taalbulheethoofde handhaaf hulle hulself daagliks deur gesonde verstand én praktiese kompromie, óók die taal-kompromie wat Carstens van “ware Suid-Afrikaners” vra.

Ter voorbereiding op sy “kompromie”-beraad kan hy gerus op die raakvlak tussen wit en swart gaan navorsing doen oor doeltreffende werkvloerkommunikasie waar die “eie” nie bedreig word nie.

Dis taai daarbuite, maar hy sal vind Afrikaans het genoeg gravitas om in die komende dekades te gedy, mits hy op elke vlak en funksie tot die groter inklusiewe Suid-Afrika hertoetree.

Met ’n genetiese neiging tot “kleindorpsheid” bedreig ons ons eie taalgoed deur te wil leef in ’n land waarop ons verniet wens eerder as dié een waarin alle Suid-Afrikaners bestaan.

Meer oor:  Suid-Afrika  |  Parlement  |  Cosatu  |  Afrikaans  |  Absa  |  Cyril Ramaphosa  |  Gay  |  Anc  |  Springbokke  |  Sal  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.