Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Andries vra my toe mos om dié keer reg te bid

Dit was in Paastyd, sê oom Soekie. Lank gelede.

Hy het sy winkel op Soebatsfontein die oggend pas oopgesluit, hier kom tant Sêra aan. Kan Meester kom help, sê sy. Andries roep vir Meester.

Ek sê vir haar, ou Sêra, ek is besig, man. Kan ek nie maar middag se kant kom nie? Hy dra swaar, Meester, sê sy.

Dana Snyman

Jy weet, in daai tyd het die mense nog opgekyk na ’n mens. Of dalk het ons dit net gedink. Ek sê vir Sêra, goed, as dit dan moet.

Ou Andries is ellendig, sien ek toe ek by hul huisie aan die anderkant van die dorp kom. Hy dra swaar. ’n Arm, eenvoudige mens. Kan nie lees of skryf nie. Het sy lewe lank skaap opgepas. Ek wil hê Meester moet vir die Here vra om my te kom vat, sê hy.

’n Mens vra nie vir die dood nie, Andries, sê ek vir hom. ’n Mens bid vir beterskap wanneer jy bid.

Ek dra swaar, Meester, sê hy. Ek kan nie meer nie.

Ek bid toe en vra vir God om Andries se pyn te verlig en hom beter te maak, en ek groet hom en gaan terug winkel toe.

Die volgende dag, hier is Sêra weer. Andries roep my weer. Ek is toe maar weer na hulle kant toe. Andries lê daar, net ribbebene en ’n flou asempie. Meester het gister nie reg gebid nie, sê hy. Meester moet bid dat die Here my kom vat. Kyk hoe lyk ek.

Ek sê vir hom, jammer, ek kan nie, Andries. God het die asem van die lewe in ons in geblaas, ek kan mos nie bid Hy moet dit weer kom wegvat nie. Ek vra toe maar weer: Dierbare Vader, laat Andries se pyn skietgee.

Maar daai nag kan ek nie slaap nie. Andries pla my. Later sê ek vir God: God, Andries wil hê ek moet bid dat U hom kom haal. Mag ek dit doen?

Die volgende oggend, ag, Vader, hier is Sêra weer. En sy is sommer kwaai met my. Is dit lekker vir my om te sien hoe haar man ly? vra sy. Toe is ek maar weer soontoe. Die derde dag nou al.

Ek wil hê Meester moet vir die Here vra om my te kom vat, sê hy.

Ou Andries trek hom so halfregop in die katel toe hy my sien. Meester moet my nou genadig wees, sê hy sag, ek kan die ou skaars hoor. Bid wat Meester weet Meester moet bid.

Ons het al self ook gebid, sê ou Sêra, maar die Here luister nie na ons nie.

God luister ewe veel na ons almal, sê ek.

Dit weet ek darem nie, Meester, sê Sêra. Kyk hoe sukkel ons ons lewe lank al. Meester is die een wat Bybel kan lees en in ’n daai grote huis bly en met ’n mouterkar ry. Bid, Meester. Die Here sal vir Meester luister.

Wat doen ’n mens as iemand so ’n ding vir jou sê?

Ek was skaars terug by die winkel, toe kom Sêra weer daar aan.

Andries lê nou al vir hoeveel jaar in hulle ou begraafplaas hier agter die rantjie begrawe.

(Met apologie aan oorlede oom Soekie Goosen van Alexanderbaai.)

Meer oor:  Dana Snyman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.