Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Angie boesem nie vertroue in
Rapule Tabane

Soos sake nou staan, gaan ’n rekordaantal kinders nie hierdie skooljaar voltooi nie.

Covid-19 het van 2020 ’n ongewone en geskiedkundige jaar gemaak en die meeste van ons gaan dit in ons huise beleef, waar ons kinders die grootste deel van die jaar gaan deurbring.

Dit is weens dalende vertroue in die regering se hantering van die pandemie en voorafbestaande vrese en aannames oor die regering se onbevoegdheid.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het die media die afgelope week toegespreek oor skole se gereedheid om te heropen. Haar voorlegging is verskeie kere uitgestel.

Sy meen die stelsel is reg vir leerlinge in gr. 7 en gr. 12 om terug te keer na die skoolbanke. Die meeste mense van wie ek terugvoering kry, glo dit nie. Onderwysvakbonde en die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) was die eerste om hul skeptisisme aan te dui.

Onderwys en kinders se opvoeding is ’n emosionele saak.

Onderwys en kinders se opvoeding is ’n emosionele saak. Mense sal nog verduur wat die regering ook al wil uitrig met die inperking sonder om te sterk menings daaroor te hê, maar raak aan hul kinders en jy vra vir moeilikheid.

Dis hoekom Motshekga haar aankondiging soveel keer uitgestel het. Dis ook hoekom sy eintlik maar ’n halwe aankondiging gedoen en onderneem het om later weer terug te kom met meer inligting oor die ander grade. Sy voel aan ouers het vrese en angs omdat hulle nie wil hê hul kinders moet as Covid-19-proefkonyne gebruik word nie.

Die gevolg is dat sy die situasie sonder die nodige volwassenheid en kalmte aangepak het. Sy het die helfte van die tyd probeer om skinderstories nekom te draai eerder as om ’n aankondiging te doen. En sy het kwaad geword en van stryk af gelyk.

Sy het so min as moontlik inligting gegee, vermoedelik uit vrees vir kritiek. So ’n benadering help niemand nie. As ek my in haar skoene indink, verstaan ek wel hoekom sy só optree.

Die probleem is dat ouers van kinders wat nié in gr. 7 of matriek is nie, absoluut geen idee het oor hul kinders se toekoms nie. Hulle weet nie of die departement eers met hierdie twee grade eksperimenteer en daarna sal besluit of die skooljaar moet voortgaan nie.

Of het die departement wel ’n plan vir al die grade, maar hou dit eers dig?

Dis hier waar ons algemene houding teenoor die regering ’n rol speel. Suid-Afrikaners het die afgelope 26 jaar gesien hoe die regering beloftes gemaak het en dit nie nagekom het nie.

So, enige belofte dat die regering daartoe in staat is om na kinders in dié omstandighede om te sien, is leeg.

En selfs al het die regering iewers ’n plan oor die hantering van die res van die skooljaar, sal mense nie optimisties wees oor die moontlikheid dat so ’n plan goed of doeltreffend sal wees nie.

Waar laat dit ouers en leerlinge?

Ek vermoed die meeste ouers gaan terugsit­ en kyk wat gebeur met die eerste groep leerlinge wat oor twee weke teruggaan skool toe. Hulle sal daarna besluit wat om met hul kinders te doen.

Daar sal probleme wees. Geld moet gevind word om ekstra onderwysers aan te stel omdat daar meer en kleiner klasse gaan wees. Ontsmettingsmiddel en termometers moet aangeskaf word, en mense om dit te administreer.

Dan reken ons nog nie eens die feit in dat talle skole nie basiese dienste soos water en sanitasie het nie.

Selfs al vind die departement die geld, is die vraag of die regte mense aangestel gaan word en of iemand gaan probeer om die geld te steel.

Ek dink baie ouers gaan maar vrede maak met die idee om die skooljaar af te skryf as ’n opoffering in ruil vir die veiligheid van hul kinders.

  • Tabane is politieke redakteur van City Press

Meer oor:  Rapule Tabane  |  Onderwys  |  Skole  |  Koronavirus  |  Fase 3
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.