Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Anglisisties’: Laat jonges die taal gooi!
Fred Pheiffer
Fred Pheiffer

Onlangs het ek die Afrikaanse vertaling van ’n jeugfeiteboek versorg en verskeie sinne het my gepla. Byvoorbeeld: Blootgestelde vel sal vinnig vries om pynlike vriesbrand te veroorsaak.)

Met rekenaars wat hul fisiese perke bereik, dink rekenaaringenieurs klein om die volgende groot ding te ontwerp: die kwantumrekenaar.) Gene bestaan uit spiraalvormige DNS-molekules en elkeen kodeer al die aanwysings nodig om jou liggaam te bou.) Onomatopee is ’n moeilike begrip, so hier is ’n paar voorbeelde van klanknabootsing . . .

Die oorspronklike Engels: Exposed skin will freeze quickly to cause . . . ) With computers reaching their physical lim-its, computer engineers are thinking small . . . ) all the instructions necessary . . . ) Onomatopoeia is a difficult concept, so here are a few examples . . .

Woordelikse omskakeling soos dié, sonder om eers die onderliggende betekenis te bepaal en dít dan in egte Afrikaans weer te gee, lei tot wat as Anglisisties beskou word. Die Afrikaanse idioom word verdring.

Min Afrikaanssprekendes jonger as sê 40 sal dink dié vertalings is onafrikaans. Die verbete najaag van Afrikaanse taalsuiwerheid – met ’n sterk skeut nasionalisme en ’n antagonisme jeens Engels – dateer uit ’n vorige era. Dit was nouliks taalkundig gefundeer.

Die ontstaansgeskiedenis van Engels en Afrikaans toon ’n meer genuanseerde beeld oor hul wisselwerking.

Die ontstaansgeskiedenis van Engels en Afrikaans toon ’n meer genuanseerde beeld oor hul wisselwerking. Hul voorsate was 1 500 jaar gelede bure in ’n noordwestelike hoekie van Europa – die Franke by die Ryndelta en die Ijsselmeer, die Angel-Saksers na die Deense skiereiland se kant toe. Hul Istweoons en Ingweoons was onderling verstaanbaar Germaanse dialekte.

Hul weë skei toe die Angel-Saksers Engeland toe verhuis, waar hulle die volgende 500 jaar met verskeie taalgroepe in kontak kom – Keltiese inboorlinge, Noorse seerowers, Normandiese veroweraars – wat hul taal beïnvloed. Hiervan getuig moderne Engels se uiteenlopende woordeskat, hoewel sy taalstruktuur Germaans gebly het.

Taalkontak lei dus tot taalontwikkeling. Só groei en oorleef tale. Aan die begin van die 19de eeu herontmoet Afrikaans en Engels aan Afrika se suidpunt. Dié keer is Engels die dominante een, Afrikaans ’n beginnertaaltjie. Taalbeïnvloeding was onafwendbaar, veral omdat Afrikaans en Engels se aard so ooreenstem. Het wat anderhalfeeu later as Anglisismes verguis sou word, nie toe reeds deel van Afrikaans geword nie?

Spring na die 21ste eeu. Met hul selfone is jong Afrikaanssprekendes ingeskakel op die Engelse wêreldkultuur – musiek, vermaak, sport, modegiere. Hul Afrikaanse skoolgrammatika en leeskultuur is al erg verwater; Afrikaans beswaarlik nog ’n loopbaanvereiste. Hulle dra nie meer die Anglisistiese bagasie waarmee hul ouers belas is nie. Verbaas dit dan dat hul Afrikaans ’n al hoe sterker Engelse invloed het? Dit stuit ’n ouer geslag dalk teen die bors, maar een ding staan vas – Afrikaans lewe. Laat die jongetjies hom gooi!

Pheiffer is mederedakteur by die Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.

Meer oor:  Anglisismes  |  Taal  |  Woorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.