Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Angs aan bewind, maar lyf werk saam
Piet Matipa

Ek was weer in.

Dit was ’n Sondagoggend. Die son het pas sy kuif uitgesteek. My lyf het gesmag na vertroosting wat net die bed hom kon gee.

My kloppende kop wou die stilte van ’n kussing waardeer. Die vorige aand was lekker, maar genot het ook maar ’n vervaldatum. Ek was op pad huiswaarts toe en het gedroom van die groot rus wat my inwag.

Tot hy my gevang het. Hy het my mooi gevra om saam met hom te kom. My lus was soos ’n student – altyd afwesig in die klas. Gelukkig was my gehoorsaamheid so teenwoordig soos ’n rooi lig in haastige tye.

My korttermyndrome het soos ou beskuit verkrummel. Weg was die vooruitsig van my moeë lyf wat in die duvet gaan verdrink. My lewe het op daardie oomblik ’n draai gevat. Ek het my lot soos griep in die somer aanvaar.

Ek moes beter keuses gemaak het, nou moet ek boet.

Ek het nie eens die moeite gedoen om my uit my situasie te redeneer nie, my verstand was besig om tiermelk uit te gooi, soos ’n huis wat oorstroom het. Ek het daar aangekom en moes ingaan. Ek was bevrees om my voet in te sit, maar is aangehits om net in te gaan. Hierdie was nie ’n veelkeusevraag nie, ek het geen opsie gehad nie.

Ek is toe in.

Die deure is agter my toe. Geïsoleer van die samelewing. Die son was slegs ’n herinnering. Daar was geen venster om my ’n smakie te gee van die ­lewe wat ek agtergelaat het nie.

Die mure het met my vel se donkerte gekompeteer en gewen. Die vloer was so hard soos ’n belediging. Die dak het geen ambisies gehad nie, dit was plat en het maar net gedoen wat dit moet.

Ek was van kop tot toon bedek met vrees. Nie ’n mooi kleur nie.

My hart het so vinnig geklop ek het hom ophou voel. My liggaam het vergeet hoe om te bewe. Ek kon nie skreeu nie, want dit sou net my ore laat skrik. Ek kon nie uit nie.

Ek was vas. Ek was bang ek kom nooit weer daar uit nie.

Ek was van kop tot toon bedek met vrees. Nie ’n mooi kleur nie.

My verstand het ’n memo uitgestuur na die res van die liggaam om kalm te bly. Hoewel angs aan bewind was, het my liggaam sy samewerking gegee. Die hart wat almal opgesweep het, het stadiger begin draf. Ek het gewag en gebid.

Ek moet bieg dit was nie my eerste keer binne nie. Ek het in die verlede toe beter keuses gemaak om dit te vermy. Ek het dit jare lank reggekry. Gehardloop as ek moes, maar in sou ek nie in gaan nie. Ek is maar ’n bangbroek.

Ek is toe later uit. Ek was nie so lank in soos wat dit gevoel het in nie.

Dit is toe nie so erg om in ’n hysbak te ry nie.

As my vriend my nie gevra het om by sy traplose woonstelblok te kom kuier nie, sou ek dit nie geweet het nie.

Meer oor:  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.