Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Angstigheid van Afrikaners diep

Die toekoms het sy eie geskiedenis. Dit mag dalk teenstrydig klink, maar historici kan naspeur hoe vorige geslagte oor die toekoms gepraat en gedink het. Wanneer ons na wit Afrikaanssprekendes en hul verhouding met die toekoms kyk, sien ons ’n deurlopende kommer oor die gemeenskap se voortbestaan.

Afrikaneridentiteit en die gedagte aan ’n Afrikanergemeenskap is, histories gesproke, ’n redelike onlangse verskynsel. Dit het eers in die laat 19de eeu, met die opkoms van Suid-Afrika se minerale revolusie, begin.

Wit Afrikaanssprekende gemeenskappe was wyd verspreid en het ewe wyd uiteenlopende ervarings gehad. ’n Afrikaner in die Wes-Kaap het byvoorbeeld in ’n baie ander wêreld geleef as ’n Afrikaner van die Wes-Transvaal. Die jong nasionaliste wat dié klomp dwarstrekkers in die vroeë 20ste eeu tot ’n volk wou saamsnoer, moes deurlopend verantwoording doen oor of die Afrikaners as volk hoegenaamd ’n bestaansreg gehad het.

Die gedagte aan bestaansreg was met angstigheid deurspek. Daar was ’n deurlopende vrees dat Afrikaners, veral dié in die Kaap, só sou verengels dat daar van ’n waarneembare gemeenskap geen sprake sou wees nie. Om te kon bestaan, só is daar geglo, moes Afrikaners stroomop swem. Die taalbeweging, en die latere opkoms van Afrikaanse kultuurorganisasies, was die uitkoms daarvan.

Dit kon egter nie by bestaansreg bly nie – daar moes ’n bestaansrede ook wees. 20ste eeuse nasionaliste het dus dikwels gepraat oor die Afrikaner se toekomsroeping. Die gedagte was dat Afrikaners ’n Godgegewe roeping gehad het, hoewel die besonderhede soms vaag was.

Daar was nogtans ’n algemene opvatting dat Afrikaners die Evangelie in Afrika moes uitdra, en as “voogde” oor die plaaslike bevolking moes waak. Om dit te kon doen, moes Afrikaners eers na binne keer om hulself op te hef en as volk te verenig. Om politieke eenheid onder Afrikaners te kry was dus een van die vernaamste temas binne die Afrikanerpolitiek. Dít was nie ’n maklik nie, want dit was en is nog altyd onmoontlik om alle Afrikaners oor dieselfde kam te skeer.

Die sogenaamde Swart Gevaar en Rooi Gevaar was die twee pilare waarop die NP se 1948-verkiesingsmanifes gerus het.

In die vlietende oomblikke wanneer daar geglo is dat Afrikaners wel verenig is, het dit opnuut die bestaansvrees en ’n angstigheid oor die toekoms na vore gebring. “Quo vadis, Afrikaner?” oftewel “Afrikaner, waarheen?” het dikwels vanaf politieke platforms weerklink.

Dan was daar die vyande wat die Afrikanertoekoms bedreig het. Die sogenaamde Swart Gevaar en Rooi Gevaar was die twee pilare waarop die NP se 1948-verkiesingsmanifes gerus het, en die vrees vir dié twee skimme het soos ’n wolk oor die tweede helfte van die 20ste eeu gehang. Toe die eens gevreesde Kommuniste in 1994 hul plek in die regering ingeneem het, het die dekadeslange agterdog bly draal.

Vir sommige is daardie vrees steeds ’n werklikheid. Wanneer ’n pleknaam verander word, of Afrikaans verder by ’n skool of universiteit verdring word, is dit nie bloot die drang van ’n nuwe geslag swart nasionaliste om hul eie beeld in die wêreld om hulle te sien weerkaats nie, maar ’n daad wat die ou bestaansangs weer laat herrys.

Dit is aanmatigend om mense se vrese te verkleineer. En gegewe die ANC se skaakspel met ons land en sy ekonomie het Suid-Afrikaners ook rede om vir die toekoms te vrees. Dit help ons egter om die oorsprong van ons diepliggende vrese bloot te lê en te besef dat hulle nie nuut is nie, maar in ’n bepaalde konteks ontstaan het. Dit vorm ons omgang met mekaar en het implikasies vir ons toekoms.

Koorts is ’n historikus aan die Universiteit van die Vrystaat

Meer oor:  Lindie Koorts  |  Toekoms  |  Angs  |  Afrikaners  |  Politiek  |  Rassehaat  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.