Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Anna Boleyn, die oorspronklike ‘ander vrou’
Heinz Mödler
Heinz Mödler

Volgens baie Britte is die oorspronklike huis-vernietiger die pragtige en jong Anna Boleyn van Engeland.

Sy het in 1527 haar flikkers vir Hendrik VIII begin gooi. Anna het geweet dat die vonkel in Hendrik se oë sy begeertes verklap en kort voor lank het Hendrik haar onweerstaanbaar gevind

Ongelukkig vir Anna, en Hendrik, was hy met Catharina van Aragon getroud.

Hendrik het besef hy sal eers van Catharina moet skei voordat hy met sy Anna kan trou. Makliker gesê as gedaan.

Indien Hendrik ’n paar honderd jaar later geleef het, sou sy beoogde egskeiding nie ’n probleem gewees het nie. Veral nie in Koeweit nie.

Hendrik sou binne minute van Catharina geskei wees en sonder dat hy eens sy pak klere ruil, kon hy net daarna met Anna getrou het.

Die rekord vir die kortste huwelik word in Koeweit gehou.

Die rekord vir die kortste huwelik word in Koeweit gehou.

Nadat ’n Koeweitse paartjie onlangs ringe oorhandig en soene uitgedeel het, draai hulle om, reg om te loop.

Die bruid struikel oor ’n matjie en val. Haar nuwe eggenoot kryt haar uit as “onnosel”. Sy staan op, draai om en beveel die magistraat om hulle te skei. Wat hy toe doen.

Ongelukkig vir Hendrik moes hy eers toestemming van die Rooms-Katolieke Kerk verkry voor hy kan skei.

Pous Clemens VII het Hendrik net een kyk gegee en botweg geweier. Die huwelik is heilig en onder geen omstandighede sal ’n egskeiding toegelaat word nie. Selfs Hendrik se rede, dat Catharina nie ’n seun vir hom kon baar om die volk ná hom te lei nie, was genoeg rede vir so ’n laakbare daad nie.

Die kerk het die huwelik as ’n lewenslange kontrak beskou.

Anna se bydra tot die nuwe huwelik was ’n miskraam, verraad, owerspel en ander wandade.

Daar is onder uitsonderlike omstandighede, hoogstens ’n “a mensa et thoro” uitgereik, waar ’n man en vrou toegelaat is om van bed en tafel te skei. Die man onderhou dan nog steeds sy vrou en hulle bly getroud.

In 1533 besluit Hendrik hy het nou genoeg gepleit. Anna raak ongeduldig en ook nie jonger nie. Hendrik verbreek sy bande met die Roomse Kerk en stig sy eie kerk: die Anglikaanse Kerk.

Hy verklaar homself die hoof van sy nuwe kerk en skei homself.

Saam met Hendrik se eensydige besluit het hy duisende jare se tradisies, reëls, ooreenkomste en sosiale wisselwerkings waaraan sy volk gewoond was, met een veeg uitgewis.

Uiteindelik kon Hendrik homself permanent in die arms van Anna vestig, dáár waar die gras groener was.

Anna se bydra tot die nuwe huwelik was ’n miskraam, verraad, owerspel en ander wandade. Meer as genoeg redes vir die gras om welig te groei.

Gelukkig was ’n tweede egskeiding nie vir Hendrik nodig nie, want Anna se kop is summier afgekap. ’n Gebruik wat Hendrik met van sy volgende eggenotes verder bemeester het.

Ten spyte van Hendrik se onbehoorlike gedrag, word Anna tot vandag toe nog beskou as die persoon wat die heiligheid uit die huwelik gehaal het.

’n Heiligheid wat deesdae binne drie minute kan begin en eindig.

  • Mödler is ’n medikus, skrywer en kunstenaar van Kaapstad.
Meer oor:  Heinz Mödler  |  Seks  |  Ander Vrou  |  Liefde  |  Huwelik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.