Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Annelie Botes: Eet die brood van die lewe terwyl jy kán
Annelie Botes

In die jaar 1998, kort voordat ons Baai toe getrek het, het ons Rudolph-kind 21 geword. Hoekom hy sy mondigwording op Uitenhage gaan vier het, het my ontgaan. Maar vir die okkasie het hy ’n paar kaste Lion Lager quarts aangeskaf.

Só bly daar van die bier oor. Ons karwei dit saam Baai toe en dit kry ’n staanplek in die gryse se waenhuis. Daar staan dit vir jare. Kort-kort verdwyn ’n bottel raaiselagtig. Met sy besoek die afgelope Krismis takel hy en sy pa op ’n dag die waenhuis en sien daar is nog een bottel oor. Ons bespiegel of dié bier nog drinkbaar is na 18 jaar.

“Ma sal dit oopmaak en proe voor ek eendag doodgaan,” stel ek voor. “En of dit drinkbaar is, of nie, dan gaan Ma ’n bierbrood daarmee bak. Sommer in herinnering aan die lewensbrood wat jy tot hiertoe gebak het.”

Twee weke nadat hy weg is, kom vlieg die doodsengel waarlikwaar teenaan my heup. In die vorm van maagpyne soos ek nog nooit geken het nie. Dit trek op tot in my bors, sleutelbene, arms en kakebene. My gedagte is dat ek my ma se galsteenskete geërf het. Vir verligting staan ek teen my hangkas met my arms bokant my kop. Weldra verlaat die pyn my, want die steentjie skiet seker iewers deur ’n vernoude galpypie, reken ek. Hoe meer ek by die gryse lamenteer, hoe meer jaag hy my dokter toe. Vra glads of ek verwag hý moet die galstene met sy Victorinox-mes uitsny. Nog vier weke later beland ek langerlaas by ’n spesialis. Hy stuur my op daardie uur kardioloog toe, en sê hy raak nie aan my voordat ’n kardioloog hartprobleme uitgeskakel het nie. Want die pyn wat ek vir hom beskryf, klink hartsverdag. Veral met inagneming dat my pa en ma albei aan hartaanvalle dood is. Nou ja, 48 uur en vele prosedures later lê ek as ’n SOS-geval in die teater terwyl die kardioloog ’n buisie in my lies opdruk tot in my hart. Om twee stents in vernoude kroonslagare te posisioneer. Sonder narkose, sonder pyn of ongemak, terwyl ek op ’n skerm elke beweginkie dophou.

Die volgende oggend is ek huis toe, fisiek onbewus dat aan my hart gekarring is. En die vólgende oggend sit ek voor die kerkorrel, fiks soos ’n haas. Die Maandagoggend gaan haal ek daardie bottel bier in die waenhuis. Om die bierbrood te bak wat ek my kind belowe het ek sal bak voordat ek opvaar. Verstommend, maar die bier is perfek ná 18 jaar. Die brood rys hoog en lig. Ek en die gryse brekfis met warm brood by die stoeptafel, terwyl ons terugkyk op lank verbygegane tye. En verwonderd praat oor die sofistikasie van die mediese wêreld. En die kuns van bierbrouery.

Nou beplan ons ’n Namibië-toer vir die winter van 2017. Want ’n mens moet erkentlik wees teenoor die verlengde tyd wat jy bygekry het. En jy moet lééf, want wie weet hoeveel dae en maande en jare daar oor is waarin jy die lewensbrood kan eet.

Meer oor:  Bier  |  Annelie Botes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.