Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Antie Evie por daai Pontiac tot by die graf

Ek was nog in my laerskooljare toe oom Tulpies en sy tenger vroutjie, antie Evie, so al om die vierde maand vir ’n naweek by ons kom kuier het. Dan sou Oupa en Ouma hul bed afstaan en op ’n biesiesmat op ons voorhuis se misvloer vir hulle ’n tydelike lêplekkie inrig.

Oom Tulpies en antie Evie was familie. Agtermekaar mense, het Oupa hulle altyd genoem. Oom Tulpies het altyd ’n lekker knertsie saamgebring. Dan sou hy en Oupa saans tot laat langs Ouma se Welcome Dover kuier, terwyl hulle land en sand gesels. Ons kinders het altyd gesmul aan die lekkernye uit antie Evie se padkosblik. Sy was ’n kookwater kok wat in Oos-Londen ’n winsgewende tuisnywerheid bedryf het en was veral bekend vir haar smaaklike pasteie, vetkoeke en gemmerbier, met ’n redelike skop!

Oom Tulpies, aan die anderkant, het ’n werkswinkel in hul agterplaas bedryf waar hy motors gediens en herstel het. Soos met alle “back­yard mechanics” was daar in sy agterplaas ook skedonke wat nooit weer so bevoorreg sou wees om op ’n openbare pad te ry nie.

Soos met die Bybelse Job het dit met die familie voorspoedig gegaan, tot die noodlot een Vrydagmiddag tref. In die dorp se besige hoofstraat word oom Tulpies deur ’n munisipale bus raakgery. Hy bring sowat drie weke in die hospitaal deur voor hy weer sy bewussyn herwin.

Die eerste ding wat oom Tulpies aanskaf, is ’n stel bakgat wiele – ’n lang, slapgat 1960 Pontiac.

In dié tyd is antie Evie heeltyd by sy hospitaalbed. In die proses stagneer haar florerende onderneming en skiet haar stresvlakke die hoogte in. Intussen soek oom Tulpies se klante hul rygoed. Hoe meer antie Evie verduidelik, hoe minder verstaan hulle.

Eers ’n maand later word die oom uit die hospitaal ontslaan en toe neem hy nog drie maande om ten volle te herstel. Dis in hierdie tyd dat die geluksgodin hulle besoek, toe die Padongelukfonds ’n aardige bedrag met ’n magdom syfers uitbetaal. Sommer gróót geld.

Die eerste ding wat oom Tulpies aanskaf, is ’n stel bakgat wiele – ’n lang, slapgat 1960 Pontiac. Nou kyk, toe vat antie Evie nie meer grond nie. Vergete was die ou tuisnywerheidjie en haar ou voorskootdae. ’n Mens kon amper sê sy was daai kar se battery. Want sodra sy die geklingel van die skeutels in oom Tulpies se handpalms hoor, sou sy alles los en haarself op die passasiersitplek gaan neerplak.

Hulle het destyds se stofpaaie platgery. Die padkosblik het ewe skielik plek gemaak vir ’n glas en ’n bottel hardehout. En antie Evie was die skinker. Op die langpad het nie ’n enkele kar voor oom Tulpies se Pontiac gebly nie. “Gaan haal hom, Tulpies!” het antie Eva gepor.

En toe misgis oom Tulpies hom eendag met ’n skerp draai en die Pontiac beland gat-oor-kop teen ’n krans. Afgeskryf.

Die volgende Saterdag sit antie Evie, gekneus, gehawend en hartseer in ’n rolstoel langs oom Tulpies se oop graf. As sy maar net haar groot mond gehou het, kon sake seker anders uitgewerk het . . .

  • Venter is ’n skrywer van Fort Beaufort.
Meer oor:  Nolan Venter  |  Nostalgie  |  Antie Evie  |  Pontiac  |  Graf  |  Herinneringe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.